Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 8/1 bl. 25-29
  • Wat ’n vreugde om aan Jehovah se tafel te sit!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ’n vreugde om aan Jehovah se tafel te sit!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons verduur beproewinge
  • Geestelike voedsel in die kamp
  • Getrou tot die dood toe
  • Geestelike voorsieninge in Neuengamme
  • Geestelike seëninge in oorvloed
  • Ons het ons onkreukbaarheid in Nazi-Duitsland gehandhaaf
    Ontwaak!—1993
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Daar is niks beter as die waarheid nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • God is my toevlug en sterkte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 8/1 bl. 25-29

Wat ’n vreugde om aan Jehovah se tafel te sit!

Soos vertel deur Ernst Wauer

Vandag is dit betreklik maklik vir my om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, die Bybel te bestudeer en om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Maar dit was nie altyd hier in Duitsland die geval nie. Toe Adolf Hitler van 1933 tot 1945 diktator was, het ’n mens jou lewe gewaag as jy aan sulke Christelike bedrywighede deelgeneem het.

EK HET die jaar voor Hitler aan die bewind gekom het, toe ek 30 jaar oud was, in Dresden vir die eerste keer met Jehovah se Getuies kennis gemaak. Ek het my in Januarie 1935 aan Jehovah toegewy en my begeerte uitgespreek om gedoop te word. Ons werk was reeds sedert 1933 verbied, en daarom het die broers my gevra: “Besef jy wat jou besluit behels? Jy stel jou gesin, gesondheid, werk, vryheid en selfs jou lewe in gevaar!”

“Ek het die koste bereken, en ek is bereid om God se wil te doen en om daarvoor te sterf”, het ek geantwoord.

Selfs voordat ek gedoop is, het ek begin om van huis tot huis te preek. By een deur het ek ’n jeugleier van die SS (Hitler se Swarthemde/Keurwag) in sy uniform raakgeloop, wat geskreeu het: “Weet jy nie dat hierdie werk verbied is nie? Ek gaan die polisie ontbied!”

“Doen dit. Ek praat net oor die Bybel, en daar is geen wet wat dit verbied nie”, het ek kalm geantwoord. Daarop het ek na die volgende deur gegaan waar ’n vriendelike man my dadelik ingenooi het. Ek het niks oorgekom nie.

Ek is gou met die verantwoordelikheid toevertrou om na ’n studiegroepie van vyf tot sewe Getuies om te sien wat weekliks byeengekom het. Ons het nommers van Die Wagtoring bestudeer wat uit buurstate in Duitsland ingesmokkel is. Ons het dus, ondanks die verbod, gereeld by “die tafel van Jehovah” aangesit om geestelik versterk te word.—1 Korinthiërs 10:21, NW.

Ons verduur beproewinge

In 1936 het J. F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap, ’n byeenkoms in Luzern, Switserland, besoek, en broers wat posisies van teokratiese toesig in Duitsland beklee het, is genooi om daarheen te kom. Slegs ’n paar kon daarheen gaan, aangesien daar op die paspoorte van talle broers beslag gelê is en die polisie etlike broers fyn dopgehou het. Die broer wat toesig oor die werk in Dresden gehad het, het my gevra om hom in Luzern te verteenwoordig.

“Maar is ek nie te jonk en onervare nie?”, het ek gevra.

“Wat nou van belang is”, het hy my verseker, “is om getrou te wees. Dít is die belangrikste.”

Kort nadat ek van Luzern af teruggekeer het, is ek in hegtenis geneem en skielik van my vrou Eva en ons twee kindertjies af weggeskeur. Onderweg na die polisiehoofkantoor in Dresden het ek my kop gebreek om ’n teks te onthou om my te lei. Spreuke 3:5, 6 het by my opgekom: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Die feit dat ek hierdie teks onthou het, het my versterk vir die eerste ondervraging. Daarna is ek in ’n beknopte sel opgesluit, en vir ’n oomblik het ’n wanhopige gevoel van verlatenheid oor my gekom. Maar vurige gebed tot Jehovah het my met vrede vervul.

Die hof het my tot 27 maande tronkstraf gevonnis. Ek was ’n jaar lank in eensame opsluiting in die strafgevangenis in Bautzen. Eenkeer het ’n afgetrede geregsdienaar—wat vir iemand anders ingestaan het—my seldeur oopgemaak en simpatiek gesê: “Ek weet jy mag niks lees nie, maar miskien het jy iets nodig om jou gedagtes van alles af te lei.” Daarop het hy my skelmpies ’n paar ou gesinstydskrifte gegee en gesê: “Ek sal hulle vanaand kom haal.”

In werklikheid het ek niks nodig gehad om ‘my gedagtes van alles af te lei nie’. Onderwyl ek in eensame opsluiting was, het ek aan Bybeltekste gedink wat ek kon onthou en het ek preke opgestel en hulle hardop gehou. Ek het nietemin deur die tydskrifte geblaai om te kyk of hulle enige Bybeltekste bevat—en ek het ’n hele paar gevind! Een was Filippense 1:6 wat gedeeltelik lui: “Ek . . . vertrou dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig.” Ek het Jehovah vir hierdie bemoediging gedank.

Later is ek na ’n arbeidskamp oorgeplaas. In die lente van 1939, toe my vrylating haas sou aanbreek, het die kampopsiener gevra of ek van sienswyse verander het. “Ek is van voorneme om getrou aan my geloof te bly”, was my antwoord. Toe het hy my meegedeel dat ek na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp oorgeplaas sou word.

Daar het ek my eie klere afgegee en ’n stortbad geneem, waarna my hele lyf kaal geskeer is en ek prisoniersklere ontvang het. Toe moes ek weer onder die stort gaan staan, hierdie keer met klere en al—’n proses wat die SS “doop” genoem het. Daarna is ek gedwing om tot die aand toe so sopnat buite te staan.

In die kampe is Jehovah se Getuies aan unieke vorme van wreedheid deur die SS onderwerp. By talle geleenthede moes ons ure aaneen op die paradegrond staan. Somtyds sou een van ons sug: “Sal dit nie lekker wees om ’n heerlike ete te hê nie?” ’n Ander sou antwoord: “Moenie aan sulke dinge dink nie. Dink net daaraan watter eer dit is om vir Jehovah se naam en vir sy Koninkryk op te kom.” En iemand anders sou byvoeg: “Jehovah sal ons versterk!” Op hierdie manier het ons mekaar bemoedig. Somtyds was net ’n vriendelike knikkie met die kop voldoende om te sê: “Ek wil lojaal bly; jy wil ook!”

Geestelike voedsel in die kamp

Sekere Getuies het die leiding geneem om die broers geestelik te voed, en ek is gekies om hulle by te staan. ’n Lywige Lutherse Bybel is al wat ons gehad het. Om dit in ons besit te hê, was natuurlik verbode. Ons het hierdie skat dus weggesteek, en in elke selblok het slegs een aangewese broer slegs ’n tydjie lank toegang daartoe gehad. Wanneer dit my beurt was, het ek onder die bed ingekruip met ’n flits en ongeveer 15 minute lank gelees. Ek het tekste uit my hoof geleer wat ek later met die broers in ons selblok kon bespreek. Die verspreiding van geestelike voedsel was dus in ’n mate georganiseerd.

Al die broers is aangemoedig om Jehovah in gebed om meer geestelike voedsel te vra, en hy het ons smekinge verhoor. In die winter van 1939/40 het ’n broer wat pas in hegtenis geneem is daarin geslaag om ’n paar nuwe nommers van Die Wagtoring binne-in sy houtbeen in die kamp in te smokkel. Dit het na ’n wonderwerk gelyk, aangesien almal sorgvuldig deurgesoek is.

Hierdie tydskrifte is, om veiligheidsredes, ’n dag lank op ’n keer aan gekose broers beskikbaar gestel. Ek het eenkeer, toe ’n garage in aanbou was, gehurk in ’n sloot gesit en lees terwyl ’n broer buitekant waggehou het. By ’n ander geleentheid het ek gedurende ons “naaldwerkuur” (in die aand het ons in ons barak ons handskoene en ander artikels gesit en heelmaak) Die Wagtoring op my skoot gesit terwyl broers weerskante van my waggehou het. Wanneer ’n SS-wag sy verskyning gemaak het, het ek gou Die Wagtoring weggesteek. As hulle my gevang het, sou dit my my lewe gekos het!

Jehovah het ons op ’n wonderbaarlike wyse gehelp om die versterkende gedagtes in die artikels te memoriseer. Blote uitputting het my gewoonlik snags in ’n diep slaap laat wegsink. Maar snags nadat ek Die Wagtoring gelees het, het ek verskeie kere wakker geword en die gedagtes heeltemal helder herroep. Die aangestelde broers in ander selblokke het soortgelyke ondervindings gehad. Jehovah het dus ons geheue verskerp sodat ons die geestelike voedsel kon versprei. Ons het dit gedoen deur elke broer persoonlik te nader en hom te versterk.

Getrou tot die dood toe

Op 15 September 1939 moes ons diensgroep vroeër as gewoonlik na die kamp toe terugmarsjeer. Wat was die geleentheid? August Dickmann, een van ons jong broers, sou in die openbaar tereggestel word. Die Nazi’s was seker daarvan dat dit ’n groot aantal Getuies sou oorreed om hulle geloof te verloën. Ná die teregstelling is al die ander gevangenes na hulle selle gestuur. Maar ons Getuies van Jehovah is heen en weer oor die paradegrond gejaag, geskop en met stokke geslaan totdat ons nie meer kon beweeg nie. Ons is beveel om ’n verklaring te onderteken waarin ons ons geloof verloën; anders sou ons ook geskiet word.

Teen die volgende dag het niemand dit onderteken nie. Trouens, ’n nuwe gevangene, wat die verklaring by sy aankoms onderteken het, het nou sy ondertekening teruggetrek. Hy het verkies om liewers saam met sy broers te sterf as om die kamp as ’n verraaier te verlaat. In die daaropvolgende maande is ons met hardepad, voortdurende mishandeling en weerhouding van voedsel gestraf. Meer as honderd van ons broers het gedurende die strawwe winter van 1939/40 gesterf. Hulle het tot die einde toe hulle getrouheid aan Jehovah en aan sy Koninkryk behou.

Toe het Jehovah ’n bietjie uitkoms gegee. Talle van die broers is heraangewys om te werk in pas gestigte kampe, waar hulle meer voedsel ontvang het. Boonop het die mishandeling ietwat afgeneem. In die lente van 1940 is ek na die Neuengamme-konsentrasiekamp oorgeplaas.

Geestelike voorsieninge in Neuengamme

Toe ek daar aankom, was daar ’n groep van sowat 20 Getuies, met geen Bybel of ander publikasies nie. Ek het tot Jehovah gebid dat hy my moes help om die dinge te gebruik wat ek in Sachsenhausen geleer het om die broers in Neuengamme te versterk. As ’n eerste stap het ek tekste in my geheue teruggeroep en hulle as dagtekste gekies. Toe is daar voorsiening gemaak vir vergaderinge waarin ek gedagtes uit Wagtoring-artikels wat ek in Sachsenhausen gelees het, kon verduidelik. Wanneer nuwe broers aangekom het, het hulle ons die dinge meegedeel wat hulle uit van die jongste Wagtorings geleer het.

Teen 1943 het die aantal Getuies van Jehovah in Neuengamme tot 70 aangegroei. Jehovah se Getuies het die voorkeur begin geniet om werk buitekant die kampe te verrig, soos om opruimingswerk na lugaanvalle te doen. Dit het ons in staat gestel om Bybels, nommers van Die Wagtoring en sommige van die Genootskap se boeke en brosjures in die geheim in die kamp in te bring. Ons het ook pakkette per pos ontvang, wat addisionele leesstof, asook rooiwyn en ongesuurde brood vir die jaarlikse Gedenkmaal bevat het. Jehovah het blykbaar diegene wat die pakkette deursoek het met blindheid geslaan.

Omdat ons so tussen die verskillende barakke versprei was, het ons sewe Wagtoring-studiegroepe gevorm, elk met ’n studiehouer en ’n assistent. Afskrifte van Die Wagtoring is in die geheim in die kampkommandant se kantoor gemaak, waar ek tydelik gewerk het. Elke studiegroep het derhalwe minstens een volledige nommer vir die weeklikse studie gehad. Nie een vergadering is gekanselleer nie. Daarbenewens het die groepe elke oggend op die paradegrond ’n afskrif van die dagteks ontvang wat ’n kommentaar uit Die Wagtoring ingesluit het.

Eenkeer het die SS ’n vakansiedag gehad, en ons kon dus ’n halfdagbyeenkoms hou en bespreek hoe om in die kamp te preek. Ons het die kamp in gebiede opgedeel en sistematies probeer om die gevangenes met die “goeie nuus van die koninkryk” te bereik (Mattheüs 24:14, NW). Aangesien die gevangenes uit verskillende lande gekom het, het ons getuieniskaarte in verskillende tale opgestel wat ons werk en die Koninkryk verduidelik het. Ons het so ywerig gepreek dat politieke gevangenes gekla het: “Waar ’n mens ook al gaan, hoor jy net hoe daar oor Jehovah gepraat word!” ’n Velddiensrapport van ons bedrywigheid het selfs die takkantoor in Bern, Switserland, bereik.

Alles het goed verloop totdat die Gestapo in 1944 ’n ondersoek in al die konsentrasiekampe ingestel het. Ons lektuurdepot in Neuengamme is nie opgespoor nie, maar enkele stukke is by my en Karl Schwarzer gevind. Drie dae lank is ons ondervra en geslaan. Ná die beproewing was ons albei vol kneusplekke. Maar met Jehovah se hulp het ons dit oorleef.

Geestelike seëninge in oorvloed

Ek is in Mei 1945 deur Geallieerde troepe bevry. Die dag ná ons bevryding het ek saam met ’n klein groepie broers en belangstellendes begin aanstap. By die eerste dorpie waar ons aangekom het, het ons uitgeput by ’n put gaan sit en water gedrink. Dit het my verfris en ek het met ’n Bybel onder my arm van huis tot huis gegaan. ’n Jong vrou was heeltemal aangedaan toe sy verneem dat ons Getuies van Jehovah in konsentrasiekampe was ter wille van ons geloof. Sy het in haar kombuis in verdwyn en uitgekom met vars melk en toebroodjies vir ons groep.

Daarna het ons, hoewel ons nog in ons kampklere was, die Koninkryksboodskap deur die hele dorpie verkondig. ’n Ander dorpenaar het ons ingenooi vir ’n heerlike feesmaal. Hy het dinge aan ons voorgesit wat ons in jare nie gehad het nie. Hoe het die lekkernye tog ons mond laat water! Maar ons het nie net ingeval en die voedsel verslind nie. Ons het eers daaroor gedank en toe op ’n kalm, goedgemanierde wyse geëet. Dit het die toeskouers so beïndruk dat hulle na die Bybeltoespraak geluister het toe ons daarna ’n vergadering gehou het. ’n Vrou het die boodskap aangeneem en is vandag ons geestelike suster.

Ons het verder gestap en Jehovah se sorg op verbasende maniere ervaar. Wat ’n wonderlike gevoel is dit tog om nou in vryheid al die geestelike voedsel wat deur Jehovah se organisasie uitgegee word sonder onderbreking te geniet en om dit aan ander mee te deel! In die daaropvolgende jare is ons onwrikbare vertroue op Jehovah keer op keer beloon.

Ek het die voorreg gehad om van 1945 tot 1950 in die Bethel in Maagdenburg te dien, en toe, tot 1955 in die kantoor van die Wagtoringgenootskap in Berlyn. Daarna het ek tot 1963 as ’n reisende opsiener gedien, toe my vrou, Hilde, die nuus bekend gemaak het dat sy ’n baba verwag. (Eva, my eerste vrou, het gesterf terwyl ek in die konsentrasiekamp was, en ek is in 1958 weer getroud.) Ons dogter het later ’n ywerige Getuie geword.

Wat van my kinders uit my eerste huwelik? Ongelukkig het my seun geen belangstelling in die waarheid getoon nie. Maar my dogter Gisela het wel, en sy het in 1953 die Gileadsendingskool bygewoon. Sy dien tans saam met haar man by een van die Byeenkomssale in Duitsland. Ek kon van 1963 af aan met Jehovah se hulp in die gewone pionierdiens bly en dien waar daar hulp nodig was, eers in Frankfurt en toe in Tübingen.

Ek geniet tot vandag toe nog altyd die voorsieninge wat Jehovah se organisasie vir die geloofsgenote van sy huis maak (1 Timotheüs 3:15). Dit is deesdae so maklik om geestelike voedsel te kry, maar waardeer ons dit altyd? Ek is oortuig dat Jehovah ’n oorvloed seëninge in die toekoms het vir diegene wat op hom vertrou, wat lojaal bly en aan sy tafel eet.

[Diagram op bladsy 26, 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SACHSENHAUSEN-KONSENTRASIEKAMP

A. SS-barakke

B. Binneplaas waar die rol gelees is

C. Selgebou

D. Eensame opsluiting

E. Ontluisingskamer

F. Teregstellingsplek

G. Gaskamer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel