Die uitroeiing van besoedeling Uit die hart en die verstand
JEHOVAH het nie vir mense ’n begeerte na vullis of wanorde gegee nie. Hulle planeettuiste is ontwerp om ’n paradys van sindelikheid, orde en skoonheid te wees. Dit was nie God se voorneme dat dit in ’n onooglike vullishoop moes verval nie.—Genesis 2:8, 9.
Maar nadat mense Goddelike leiding verwerp het, het hulle hulle eie soort wêreldorde begin bou. Omdat hulle nie by Goddelike wysheid baat kon vind nie en onervare was, moes hulle uit hulle foute leer. Die sekulêre geskiedenis bevestig die Bybelwaarheid dat mense nie met sukses oor hulleself kan regeer nie; duisende jare lank al ‘heers die een mens oor die ander tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9; Jeremia 10:23). Die hedendaagse besoedelingsprobleem, in al sy vorme, is ’n gevolg van die mens se wanbestuur.
Maak God se beskouing jou eie
Mense wat God wil behaag, probeer hard om die Skepper se standaarde vir sindelikheid te handhaaf. Jehovah se Getuies het gevolglik voor ’n probleem te staan gekom toe ’n internasionale byeenkoms vir die middel van 1991 in Praag, Tsjeggo-Slowakye, gereël is.a Ongeveer 75 000 mense sou die byeenkoms bywoon, ’n skare wat maklik in die Strahov-stadion sou kon inpas. Maar die stadion is vyf jaar lank nie gebruik nie. Dit het bouvallig geword, ’n onooglike slagoffer van die wind en weer. Sowat 1 500 Getuies van Jehovah het meer as 65 000 uur daaraan spandeer om dit op te knap en uit te verf. Teen byeenkomstyd het hierdie opruimingskampanje die stadion ’n waardige plek gemaak om die ware God, Jehovah, in te aanbid.
Wat beweeg Jehovah se Getuies om anders te wees, terwyl die wêreld oor die algemeen so min waardering vir sindelikheid en orde toon? Waardering vir die Bybel se raad dat Christene negatiewe karaktertrekke, soos selfsug, onbedagsaamheid, hebsug en ’n gebrek aan liefde, moet uitroei. “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af”, sê die Bybel. Vervang dit “met die nuwe persoonlikheid wat deur juiste kennis vernuwe word volgens die beeld van die Een wat dit geskep het”. ’n Persoonlikheid wat gekenmerk word deur ’n liefde vir sindelikheid, orde en skoonheid laat geen ruimte vir besoedelende neigings nie.—Kolossense 3:9, 10, NW; 2 Korinthiërs 7:1; Filippense 4:8; Titus 2:14.
Die nuwe persoonlikheid vereis dat Christene besorg moet wees oor besoedeling en nie moedswillig dinge moet besoedel of ongehoorsaam moet wees deur die regering se wette teen besoedeling te ignoreer nie. Dit help hulle om nie die gesindheid van gooi-maar-weg, selfsug en luiheid aan te kweek wat tot rommelstrooiing lei nie. Omdat hulle respek vir die eiendom van ander bevorder, mag graffiti nie gebruik word om uiting aan jou gedagtes en gevoelens te gee nie en mag dit nie as onskuldige pret of as ’n alternatiewe kunsvorm beskou word nie. Dit vereis dat huise, motors, klere en liggame skoon gehou word.—Vergelyk Jakobus 1:21.
En kan God blameer word as hy mense wat hulle nie met hierdie nuwe persoonlikheid wil beklee nie, nie toelaat om in sy komende Paradys te woon nie? Nouliks. Enigiemand wat nog neigings tot besoedeling in sy hart of verstand het, sal die herstelde paradysagtige skoonheid van die planeet Aarde bedreig, wat ellende sal beteken vir diegene wat dit wil behou. God se besluit om “die verderwers van die aarde te verderf” is regverdig en liefdevol.—Openbaring 11:18; 21:8.
Daadwerklike deelname?
Maar beteken dit dat Christene maatreëls teen besoedeling of opruimingsmaatreëls openlik moet bevorder?
Besoedeling is beslis nadelig vir die gesondheid en vir openbare veiligheid. Jehovah toon die nodige besorgdheid oor sulke sake, soos ons kan sien uit die wette wat hy aan die Israeliete gegee het (Exodus 21:28-34; Deuteronomium 22:8; 23:12-14). Maar hy het hulle nooit beveel om hulle te beywer om ander mense van sake oor openbare veiligheid te probeer oortuig nie; daar is ook nie vir eerste-eeuse Christene gesê om dit te doen nie.
Omgewingsake kan vandag maklik in politieke geskille ontwikkel. Trouens, party politieke partye is al gestig met die spesifieke doel om omgewingsprobleme op te los. ’n Christen wat toelaat dat hy beïnvloed word om op politieke gebied kant te kies, is nie meer polities neutraal nie. Jesus het vir sy dissipels dié beginsel neergelê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” ’n Christen wat daardie vereiste veronagsaam, loop die gevaar om kant te kies vir “hierdie wêreld se heersers, wat [sal] vergaan”.—Johannes 17:16; 1 Korinthiërs 2:6.
Jesus het nie probeer om al die maatskaplike probleme van sy dag op te los nie; hy het ook nie vir sy dissipels gesê om dit te doen nie. Sy opdrag aan hulle was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Hy het nie vir hulle ’n opdrag gegee wat oor omgewingsgeskille gehandel het nie.—Mattheüs 28:19.
Christus het ter verduideliking van wat die belangrikste in ’n Christen se lewe behoort te wees, gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mattheüs 6:33). Wanneer Jehovah, deur middel van die Messiaanse Koninkryk, sy regverdige beginsels op ’n wêreldwye skaal uitoefen, sal omgewingsprobleme vir ewig opgelos word, wat almal tevrede sal stel.
Jehovah se Getuies huldig dus ’n gebalanseerde standpunt. In die lig van wat Romeine 13:1-7 sê, is hulle verplig om regeringsreëls aangaande die omgewing gewetensgetrou te gehoorsaam. Boonop word hulle deur Godgegewe liefde vir hulle naaste aangespoor om respek te toon vir die eiendom van ander—openbare of private eiendom—deur dit nie te ontsier en onoordeelkundig van rommel ontslae te raak nie. Maar hulle word beslis nie aangespoor om die leiding in wêreldse opruimingsmaatreëls te neem nie. Hulle stel met reg die verkondiging van God se Koninkryksboodskap eerste omdat hulle besef dat dít die manier is om die blywendste goed te doen.
’n Geestelike opruiming
Die eertydse Israeliete is herhaaldelik gewaarsku oor die gevolge as hulle die aarde besoedel deur bloed te vergiet, deur ’n onsedelike lewenswyse aan te neem of deur minagting vir heilige dinge te toon (Numeri 35:33; Jeremia 3:1, 2; Maleagi 1:7, 8). Dit is interessant dat hulle weens hierdie geestelike besoedeling veroordeel is, en nie weens enige fisiese besoedeling waaraan hulle moontlik ook skuldig was nie.b
Daarom probeer ’n Christen vandag hoofsaaklik geestelike besoedeling of onreinheid vermy. Hy doen dit deur hom met “die nuwe persoonlikheid” te beklee, wat besoedelende neigings uit die hart en verstand uitroei. Meer as viermiljoen Getuies van Jehovah vind baat by hierdie geestelike opruiming en slaag daarin om in hulle eie geledere godsdienstige en sedelike reinheid, asook merkwaardige fisiese sindelikheid, te handhaaf.—Efesiërs 4:22-24, NW.
Vandag is die tyd vir ’n geestelike opruimingskampanje. ’n Fisiese, wêreldwye opruimingskampanje sal binnekort plaasvind en sal verhoed dat ons tuiste ’n wêreldwye vullishoop word deur dit die besoedelingsvrye omgewing te gee wat dit verdien.—Prediker 3:1.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 Desember 1991 vir ’n omvattende verslag oor hierdie reeks byeenkomste in Oos-Europa.
b Die Israeliete het die smeltproses geken. Oorblyfsels van sommige van hulle kopermyne is al gevind, en koper is gesmelt om gereedskap vir die tempel mee te maak. (Vergelyk 1 Konings 7:14-46.) Dit lyk onwaarskynlik dat hierdie smeltproses gedoen kon word sonder om ’n mate van besoedeling te veroorsaak in die vorm van rook, droes en smeltsel, met miskien ander newe-effekte. Tog was Jehovah klaarblyklik gewillig om ’n bietjie plaaslike vuilheid te verdra in hierdie gebied wat yl bevolk en afgeleë was.