Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 6/15 bl. 12-17
  • Stry teen die sonde se greep op die gevalle vlees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stry teen die sonde se greep op die gevalle vlees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die sonde se greep op die gevalle vlees
  • Wat dit beteken om die vlees te bedink
  • Wat dit beteken om die gees te bedink
  • Die belofte van lewe en vrede
  • Bedink die gees en bly lewe!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wandel in ooreenstemming met die gees vir lewe en vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Ons het selfbeheersing nodig
    Sing vir Jehovah
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 6/15 bl. 12-17

Stry teen die sonde se greep op die gevalle vlees

“Om die vlees te bedink, beteken die dood, maar om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.”—ROMEINE 8:6, NW.

1. Met watter doel is mense geskep?

“GOD het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:27). ’n Beeld is die weerspieëling van ’n voorwerp of ’n bron. Mense is dus geskep om God se heerlikheid te weerspieël. Deur goddelike eienskappe—soos liefde, goedheid, geregtigheid en geestelikheid—aan die dag te lê in alles wat hulle doen, bring hulle lof en eer aan die Skepper en lei dit tot hulle eie geluk en tevredenheid.—1 Korinthiërs 11:7; 1 Petrus 2:12.

2. Hoe het die eerste mensepaar die doel waarvoor hulle geskep is, gemis?

2 Die eerste mensepaar, wat volmaak geskep was, was goed vir hierdie rol toegerus. Soos spieëls wat blink gevryf is, het hulle die vermoë gehad om God se heerlikheid duidelik en getrou te weerspieël. Maar hulle het toegelaat dat daardie glans bederf word toe hulle opsetlik besluit het om aan hulle Skepper en God ongehoorsaam te wees (Genesis 3:6). Daarna kon hulle God se heerlikheid nie meer volmaak weerspieël nie. Hulle het te kort geskiet aan die heerlikheid van God en die doel waarvoor hulle na God se beeld geskape is, gemis. Met ander woorde, hulle het gesondig.a

3. Wat is die ware aard van sonde?

3 Dit help ons om die ware aard van sonde te verstaan, wat die mens se weerspieëling van God se beeld en heerlikheid skend. Sonde maak die mens onheilig, dit wil sê onrein en besmet in ’n geestelike en sedelike sin. Omdat die hele mensdom afstammelinge van Adam en Eva is, word hulle in daardie besmette en onreine toestand gebore en voldoen hulle nie aan wat God van hulle as sy kinders verwag nie. En die gevolg? Die Bybel verduidelik: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”—Romeine 5:12; vergelyk Jesaja 64:6.

Die sonde se greep op die gevalle vlees

4-6. (a) Hoe beskou die meeste mense in ons tyd sonde? (b) Wat is die gevolge van die hedendaagse beskouings van sonde?

4 Die meeste mense in ons tyd beskou nie hulleself as onrein, besmet of sondig nie. Trouens, sonde as ’n woord het so te sê uit die meeste mense se woordeskat verdwyn. Hulle sal miskien van foute, indiskresies en flaters praat. Maar praat hulle ooit van sonde? Feitlik nooit nie! Selfs vir diegene wat nog sê dat hulle in God glo, “was sy leringe ’n stel sedelike opvattings eerder as ’n stel sedewette, die ‘10 voorstelle’ eerder as die 10 gebooie”, sê Alan Wolfe, ’n professor in sosiologie.

5 Wat is die gevolg van hierdie denkwyse? Dat mense die werklikheid van sonde verwerp, of ten minste ignoreer. Dit het ’n geslag mense voortgebring met ’n uiters verwronge sin van wat reg en verkeerd is, wat voel dat dit hulle vrystaan om hulle eie gedragstandaarde te stel en dat hulle nie teenoor enigiemand aanspreeklik is vir enigiets wat hulle besluit om te doen nie. Die enigste maatstaf waarvolgens sulke mense bepaal of hulle optrede gepas is of nie, is of hulle daaroor goed voel.—Spreuke 30:12, 13; vergelyk Deuteronomium 32:5, 20, NW.

6 Jongmense is byvoorbeeld tydens ’n televisiegeselsprogram genooi om hulle opinie oor die so genoemde sewe hoofsondes te gee.b “Hoogmoed is nie ’n sonde nie”, het een deelnemer gesê. “’n Mens is veronderstel om goed omtrent jouself te voel.” Aangaande traagheid het ’n ander gesê: “Dit is goed om partykeer so te wees. . . . Partykeer is dit goed om agteroor te sit en jouself persoonlike tyd te gun.” Selfs die aanbieder het hierdie veelseggende kommentaar gemaak: ‘Die sewe hoofsondes is nie bose dade nie, maar eerder algemene menslike neigings wat hinderlik en uiters genotvol kan wees.’ Ja, skuldgevoelens het saam met sonde verdwyn, want ’n skuldgevoel laat ’n mens per slot van rekening alles behalwe goed voel.—Efesiërs 4:17-19.

7. Hoe word mense, volgens die Bybel, deur sonde beïnvloed?

7 In skerp teenstelling hiermee sê die Bybel duidelik: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Selfs die apostel Paulus het erken: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:18, 19). Paulus het homself nie hier bejammer nie. Hy het eerder ten volle besef hoeveel dit die mensdom aan God se heerlikheid ontbreek, en daarom was hy des te meer bewus van die greep wat sonde op die gevalle vlees het. “Ek, ellendige mens!” het hy gesê. “Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”—Romeine 7:24.

8. Watter vrae moet ons ons afvra? Waarom?

8 Hoe beskou jy hierdie saak? Jy erken dalk dat jy, soos alle ander mense, as ’n afstammeling van Adam onvolmaak is. Maar hoe beïnvloed daardie wete jou denke en jou lewenswandel? Aanvaar jy dit as deel van die lewe en gee jy maar net aan jou natuurlike neigings toe? Of wend jy voortdurend ’n poging aan om teen die sonde se greep op die gevalle vlees te stry en God se heerlikheid so duidelik as moontlik te weerspieël in alles wat jy doen? Dit moet vir ons elkeen ’n saak van erns wees as ons in ag neem wat Paulus gesê het: “Dié wat in ooreenstemming met die vlees is, rig hulle verstande op die dinge van die vlees, maar dié wat in ooreenstemming met die gees is, op die dinge van die gees. Want om die vlees te bedink, beteken die dood, maar om die gees te bedink, beteken lewe en vrede.”—Romeine 8:5, 6, NW.

Wat dit beteken om die vlees te bedink

9. Waarom is dit so dat ‘om die vlees te bedink die dood beteken’?

9 Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “Om die vlees te bedink, beteken die dood”? Die term “vlees” word dikwels in die Bybel gebruik om te verwys na die mens in sy onvolmaakte toestand, ‘in sonde ontvang’ as ’n afstammeling van die opstandige Adam (Psalm 51:7; Job 14:4). Paulus het Christene dus vermaan om nie hulle gedagtes op die sondige neigings, drange en begeertes van die onvolmaakte, gevalle vlees te rig nie. En waarom nie? Paulus het op ’n ander plek vir ons gesê wat die werke van die vlees is en toe hierdie waarskuwing bygevoeg: “Die wat sulke dinge doen, [sal] die koninkryk van God nie . . . beërwe nie”—Galasiërs 5:19-21.

10. Wat word met “bedink” bedoel?

10 Maar om iets te bedink en iets te beoefen, verskil tog hemelsbreed van mekaar, of hoe? As ’n mens oor iets dink, beteken dit weliswaar nie altyd dat jy dit gaan doen nie. Maar om iets te bedink, beteken meer as om net terloops aan iets te dink. Die woord wat Paulus gebruik het, is froʹne·ma in Grieks, en dit beteken “denkwyse, verstandelike (neiging), . . . doelwit, ambisie, strewe”. “Om die vlees te bedink”, beteken dus om deur die begeertes van die gevalle vlees beheers, besit, oorheers en aangedryf te word.—1 Johannes 2:16.

11. Hoe het Kain die vlees bedink, en wat was die gevolg?

11 Hierdie punt word goed toegelig deur die weg wat Kain ingeslaan het. Toe jaloesie en woede in Kain se hart opgekom het, het Jehovah God hom gewaarsku: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Genesis 4:6, 7). Kain het voor ’n keuse gestaan. Sou hy “goed doen”, met ander woorde, sy gedagtes op iets goeds rig en ’n goeie doelwit najaag? Of sou hy voortgaan om die vlees te bedink en sy gedagtes gerig hou op die slegte neigings wat in sy hart skuil? Soos Jehovah verduidelik het, het die sonde “lê en loer voor die deur”, gereed om Kain te oorval en te verslind as hy dit sou toelaat. Pleks dat hy teen sy vleeslike begeertes gestry en daaroor ‘geheers’ het, het Kain toegelaat dat dit hóm oorheers—iets wat rampspoedige gevolge gehad het.

12. Wat moet ons doen sodat ons nie “die weg van Kain” bewandel nie?

12 Wat van ons vandag? Ons wil beslis nie “die weg van Kain” bewandel soos Judas gesê het sommige van die eerste-eeuse Christene gedoen het nie (Judas 11). Ons moet nooit onsself probeer regverdig en dink dat dit onskadelik is om nou en dan ’n bietjie aan ons begeertes toe te gee of hier en daar die reëls te oortree nie. Nee, ons moet op ons hoede wees om enige goddelose en verderflike invloed te identifiseer wat dalk in ons hart en verstand ingekom het en dadelik daarvan ontslae raak voordat dit wortelskiet. Die stryd teen die sonde se greep op die gevalle vlees begin van binne.—Markus 7:21.

13. Hoe kan iemand ‘deur sy eie begeerlikheid verlok word’?

13 Jy sien byvoorbeeld dalk ’n skokkende of grusame toneel of iets besonder suggestiefs of prikkelends. Dit kan ’n prent in ’n boek of ’n tydskrif, ’n toneel op ’n rolprent- of televisieskerm, ’n advertensie op ’n reklamebord of selfs ’n situasie in die werklike lewe wees. Dit op sigself hoef jou nie te verontrus nie, want dit kan gebeur—en gebeur wel. Maar hoewel hierdie toneel dalk net ’n paar sekondes geduur het, kan dit in die verstand bly en van tyd tot tyd weer na vore kom. Wat doen jy wanneer dit gebeur? Doen jy dadelik iets om teen daardie gedagte te stry en dit uit jou verstand te verdryf? Of laat jy toe dat dit in jou verstand bly deur die situasie miskien te herleef elke keer wanneer dit in jou gedagtes opkom? As jy dít doen, loop jy gevaar om die reeks gebeure aan die gang te sit wat deur Jakobus beskryf is: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” Dit is waarom Paulus gesê het: “Om die vlees te bedink, beteken die dood.”—Jakobus 1:14, 15; Romeine 8:6, NW.

14. Waarmee het ons daagliks te kampe, en hoe moet ons daarop reageer?

14 Aangesien ons in ’n wêreld lewe waarin geslagsonsedelikheid, geweld en materialisme verheerlik word—waar dit openlik en volop in boeke, tydskrifte, rolprente, televisieprogramme en gewilde musiek voorkom—word ons elke dag letterlik met verkeerde gedagtes en idees gebombardeer. Hoe reageer jy daarop? Verskaf hierdie dinge vir jou afleiding en vermaak? Of voel jy soos die regverdige Lot, ‘wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense en sy regverdige siel gepynig het oor hulle wettelose werke’? (2 Petrus 2:7, 8). As ons die stryd teen die sonde se greep op die gevalle vlees wil wen, moet ons ons voorneem om te doen wat die psalmis gedoen het: “Ek stel geen lae dinge voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie.”—Psalm 101:3.

Wat dit beteken om die gees te bedink

15. Watter hulp het ons om te stry teen die greep wat sonde op ons het?

15 Iets wat ons kan help om teen die sonde se greep op die gevalle vlees te stry, is wat Paulus vervolgens gesê het: “Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede” (Romeine 8:6, NW). Ja, pleks van ons deur die vlees te laat oorheers, moet ons toelaat dat ons verstand onder die invloed van die gees kom en dit altyd met dinge van die gees voed. Wat is hierdie dinge? Paulus noem hulle op in Filippense 4:8: “Laastens, broers, alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink” (NW). Kom ons beskou die dinge wat ons moet aanhou bedink van naderby en kry ’n beter begrip daarvan.

16. Watter hoedanighede het Paulus ons aangespoor om ‘aan te hou bedink’, en wat behels elkeen?

16 Eerstens het Paulus agt morele hoedanighede opgenoem. Ons besef natuurlik dat Christene nie die hele tyd net oor skriftuurlike of leerstellige aangeleenthede hoef te dink nie. Daar is ’n groot verskeidenheid onderwerpe wat ons kan bedink. Maar wat belangrik is, is dat hulle aan die morele hoedanighede moet voldoen wat Paulus aangegee het. Elkeen van die kategorieë wat Paulus gemeld het, verdien ons aandag. Laat ons hulle een vir een bespreek.

◻ “Waar” behels meer as net of iets waar of onwaar is. Dit beteken dat dit waaragtig, deugsaam en betroubaar moet wees, iets wat werklik bestaan en nie net die skyn daarvan het nie.—1 Timotheüs 6:20.

◻ “Van ernstige belang” verwys na dinge wat waardig en eervol is. Dit wek ’n gevoel van eerbied, iets wat verhewe, edel en eerbaar eerder as vulgêr en verdorwe is.

◻ “Regverdig” beteken dat dit voldoen aan God se standaarde en nie aan mense s’n nie. Wêreldse mense hou hulle verstand besig met onregverdige planne, maar ons moet dinge bedink wat in God se oë regverdig is en daarin behae skep.—Vergelyk Psalm 26:4; Amos 8:4-6.

◻ “Kuis” beteken dat nie alleen ons gedrag (in seksuele aangeleenthede en andersins) nie, maar ook ons gedagtes en motiewe rein en heilig moet wees. “Die wysheid van bo is allereers kuis”, sê Jakobus. Jesus, wat “rein” is, is die volmaakte Voorbeeld vir ons om te volg.—Jakobus 3:17, NW; 1 Johannes 3:3.

◻ “Lieflik” is dít wat liefde in ander opwek en aanspoor. Ons moet eerder “op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” as om ons gedagtes te rig op dinge wat haat, bitterheid en tweedrag kan opwek.—Hebreërs 10:24.

◻ “Waarvan goed gepraat word” beteken nie net dat ’n mens ’n “goeie reputasie” of ’n “goeie naam” moet hê nie, maar ook dat jy ander daadwerklik moet opbou en prys. Ons bedink dinge wat heilsaam en opbouend eerder as vernederend en aanstootlik is.—Efesiërs 4:29.

◻ “Deug” beteken basies “goedheid” of “sedelike voortreflikheid”, maar dit kan enige soort voortreflikheid beteken. Ons kan dus ander se goeie eienskappe, bekwaamhede en prestasies wat met God se standaarde strook, waardeer.

◻ “Lofwaardige” dinge is werklik lofwaardig as die lof van God afkomstig is of van die gesag wat deur hom erken word.—1 Korinthiërs 4:5; 1 Petrus 2:14.

Die belofte van lewe en vrede

17. Watter seëninge sal ons geniet as ons ‘die gees bedink’?

17 As ons op Paulus se vermaning ag slaan en ‘aanhou om hierdie dinge te bedink’, sal ons daarin slaag om “die gees te bedink”. Die resultaat is nie net die seën van lewe, met ander woorde, die ewige lewe in die beloofde nuwe wêreld nie, maar ook vrede (Romeine 8:6, NW). Waarom? Omdat ons verstand teen die bose invloed van vleeslike dinge beskerm word en ons nie meer soveel geraak word deur die pynlike stryd tussen vlees en gees wat deur Paulus beskryf is nie. As ons die invloed van die vlees weerstaan, verkry ons ook vrede met God “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is”.—Romeine 7:21-24; 8:7.

18. Watter stryd voer Satan, en hoe kan ons as oorwinnaars uit die stryd tree?

18 Satan en sy trawante doen alles in hulle vermoë om ons weerspieëling van God se heerlikheid te bederf. Hulle probeer om beheer oor ons verstand te kry deur dit met vleeslike begeertes te bombardeer, want hulle weet dat dit uiteindelik tot vyandskap met God en tot die dood sal lei. Maar ons kan as oorwinnaars uit hierdie stryd tree. Soos Paulus kan ons ook sê: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here” dat hy ons van die middele voorsien het om teen die sonde se greep op die gevalle vlees te stry.—Romeine 7:25.

[Voetnote]

a Die Bybel gebruik gewoonlik die Hebreeuse werkwoord cha·taʼʹ en die Griekse werkwoord ha·mar·taʹno om “sonde” weer te gee. Hierdie woorde beteken albei “mis”, in die sin dat ’n mens ’n doelwit of ’n teiken mis.

b Volgens tradisie is die sewe hoofsondes hoogmoed, hebsug, wellus, naywer, vraatsug, woede en traagheid.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is sonde, en hoe kan dit ’n greep op die gevalle vlees kry?

◻ Hoe kan ons daarteen stry “om die vlees te bedink”?

◻ Wat kan ons doen om in ’n groter mate “die gees te bedink”?

◻ Hoe bring dit lewe en vrede mee as ons ‘die gees bedink’?

[Prent op bladsy 15]

Kain het toegelaat dat vleeslike neigings hom tot sy eie ondergang oorheers

[Prente op bladsy 16]

Om die gees te bedink, beteken lewe en vrede

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel