Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 6/15 bl. 17-22
  • Maak die gesonde leer jou lewenswyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak die gesonde leer jou lewenswyse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gesonde lewenswyse
  • Raad vir ouer mans
  • Vir die ouer vroue
  • Vir die jong vroue
  • Vir die jong mans
  • Vir slawe en diensknegte
  • ’n Gereinigde volk
  • Bly gesond in die geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Bybelboek nommer 56—Titus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Help studente om “gesonde woorde” te deel
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Bybelboek nommer 54—1 Timotheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 6/15 bl. 17-22

Maak die gesonde leer jou lewenswyse

“Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles.”—1 TIMOTHEÜS 4:8, NW.

1, 2. In watter mate toon mense besorgdheid oor hulle gesondheid, en met watter gevolg?

DIE meeste mense sal geredelik saamstem dat goeie gesondheid een van die kosbaarste besittings in die lewe is. Hulle bestee baie tyd en geld daaraan om hulleself gesond te hou en seker te maak dat hulle behoorlike mediese sorg kry wanneer hulle dit nodig het. In die Verenigde State het die jaarlikse onkoste vir gesondheidsorg in ’n onlangse jaar byvoorbeeld meer as $900 miljard (R3 biljoen) beloop. Dit kom neer op ver oor die $3 000 (R10 000) per jaar vir elke man, vrou en kind in daardie land, en die onkoste per capita in ander ontwikkelde lande is nie veel laer nie.

2 Watter resultate het al hierdie besteding van tyd, energie en geld gelewer? Almal sal ongetwyfeld saamstem dat ons vandag, oor die algemeen, baie meer gevorderde mediese fasiliteite en voorsienings het as gedurende enige ander tyd in die geskiedenis. Maar dit beteken nie dat mense nou outomaties ’n gesonde lewe lei nie. Inteendeel, die president van die Verenigde State het in ’n toespraak waarin hy ’n gesondheidsorgprogram vir die land voorgelê het, gesê dat daar, benewens “die buitensporige onkoste wat deur geweld in hierdie land meegebring word”, ook “meer gevalle van vigs, rokery en drankmisbruik, tienerswangerskappe, babas wat min weeg by geboorte” onder inwoners van die Verenigde State voorkom as in enige ander ontwikkelde land. Wat was sy gevolgtrekking? “Ons sal ons lewenswyse moet verander as ons as ’n nasie ooit werklik gesond wil wees.”—Galasiërs 6:7, 8.

’n Gesonde lewenswyse

3. Watter raad het Paulus met die oog op die ou Griekse kultuur gegee?

3 In die eerste eeu was die Grieke bekend vir hulle toegewydheid aan liggaamsoefening, spierontwikkeling en atletiekwedstryde. Teen hierdie agtergrond is die apostel Paulus geïnspireer om aan die jong man Timotheüs te skryf: “Liggaamlike oefening is voordelig vir min dinge; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit ’n belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timotheüs 4:8, NW). Paulus het aldus die aandag op iets gevestig wat mense vandag begin erken, naamlik dat mediese of fisiese voorsienings nie ’n waarlik gesonde lewenswyse waarborg nie. Paulus verseker ons egter dat die aankweek van geestelike gesondheid en godvrugtige toegewydheid onontbeerlik is.

4. Wat is die voordele van godvrugtige toegewydheid?

4 As ons dit doen, is dit nuttig vir ‘die teenswoordige lewe’, aangesien dit beskerming bied teen al die skadelike dinge wat goddelose mense, oftewel diegene wat slegs “’n vorm [of, die skyn] van godvrugtige toegewydheid” het, oor hulleself bring (2 Timotheüs 3:5, NW; Spreuke 23:29, 30; Lukas 15:11-16; 1 Korinthiërs 6:18; 1 Timotheüs 6:9, 10). Diegene wat toelaat dat godvrugtige toegewydheid hulle lewe vorm, koester ’n heilsame respek vir God se wette en vereistes, en dit beweeg hulle om God se gesonde leer hulle lewenswyse te maak. Deur dit te doen, bring hulle vir hulleself geestelike en fisiese gesondheid, tevredenheid en geluk mee. En hulle ‘lê vir hulle ’n skat weg, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf’.—1 Timotheüs 6:19.

5. Watter riglyne het Paulus in die tweede hoofstuk van sy brief aan Titus voorsien?

5 Aangesien ’n lewe wat deur die gesonde leer van God gerig word nóú en in die toekoms soveel seëninge meebring, is dit noodsaaklik dat ons in praktiese terme weet hoe ons God se gesonde leer ons lewenswyse kan maak. Die apostel Paulus het die antwoord in sy brief aan Titus voorsien. Ons gaan veral op die tweede hoofstuk van daardie boek let, waar hy Titus vermaan het om ‘aan te hou spreek wat by die gesonde leer pas’. Ons almal, oud en jonk, mans en vroue, kan ongetwyfeld vandag by hierdie “gesonde leer” baat vind.—Titus 1:3-5; 2:1, vgl. NW.

Raad vir ouer mans

6. Watter raad het Paulus aan “die bejaarde mans” gegee, en waarom was dit liefdevol van hom?

6 Paulus het eerstens vir die ouer mans in die gemeente raad gehad. Lees asseblief Titus 2:2. “Die bejaarde mans” (NW) word, as ’n groep, geëer en as voorbeelde van geloof en lojaliteit beskou (Levitikus 19:32; Spreuke 16:31). Ander kan as gevolg daarvan huiwerig wees om ouer mans raad te gee of iets aan die hand te doen as dit nie sake van die grootste erns is nie (Job 32:6, 7; 1 Timotheüs 5:1). Dit is dus liefdevol van Paulus om die ouer mans eerste aan te spreek, en dit sal goed wees as hulle Paulus se woorde ter harte neem en seker maak dat hulle, soos Paulus, ’n navolgenswaardige voorbeeld stel.—1 Korinthiërs 11:1; Filippense 3:17.

7, 8. (a) Wat behels dit om ‘matig in jou gewoontes’ te wees? (b) Waarom moet daar ’n balans tussen “ernstig” en “gesond van verstand” wees?

7 Die ouer Christenmans moet eerstens “nugter” (“matig in hulle gewoontes”, NW) wees. Hoewel die oorspronklike woord na die drankgewoonte kan verwys, beteken dit ook om waaksaam, helderdenkend of nugter van verstand te wees (2 Timotheüs 4:5, NW; 1 Petrus 1:13, NW). Of dit dus nou op drank of op iets anders betrekking het, die ouer mans moet alles in matigheid doen en buitensporigheid of uiterstes vermy.

8 Daarbenewens moet hulle ook “waardig” (“ernstig”, NW) en “ingetoë” (“gesond van verstand”, NW) wees. Om ernstig, of met waardigheid, op te tree en eerbied en respek waardig te wees, kom gewoonlik met die ouderdom. Maar party het dalk die neiging om té ernstig te wees en raak dan onverdraagsaam teenoor die jongmense se energieke optrede (Spreuke 20:29). Dit is waarom daar ’n balans tussen “ernstig” en “gesond van verstand” moet wees. Die ouer mans moet die ernstigheid behou wat met die ouderdom gepaardgaan, maar terselfdertyd gebalanseerd wees en volle beheer oor hulle gevoelens en reaksies hê.

9. Waarom moet die ouer mans gesond in die geloof en liefde en veral in volharding wees?

9 Laastens moet ouer mans “gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid” wees. Paulus het dikwels in sy briewe geloof en liefde saam met hoop gemeld (1 Korinthiërs 13:13; 1 Thessalonicense 1:3; 5:8). Hier het hy “hoop” met “lydsaamheid”, oftewel volharding, vervang. Dalk is dit omdat willoosheid maklik kan posvat wanneer ’n mens ouer word (Prediker 12:1). Maar, soos Jesus getoon het, “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Ouer mense is daarbenewens nie net navolgenswaardige voorbeelde vir ander vanweë hulle ouderdom of ervaring nie, maar ook vanweë hulle sterk geestelike eienskappe—geloof, liefde en volharding.

Vir die ouer vroue

10. Watter raad gee Paulus aan “die bejaarde vroue” in die gemeente?

10 Paulus het hom vervolgens tot die ouer vroue in die gemeente gewend. Lees asseblief Titus 2:3. “Die bejaarde vroue” (NW) is die senior lede onder die vroue in die gemeente en sluit die vrouens van “die bejaarde mans” en moeders en grootmoeders van ander gemeentelede in. Hulle kan as sodanig heelwat invloed uitoefen, hetsy goed of sleg. Dit is waarom Paulus die woord “ook” byvoeg, wat beteken dat ook “die bejaarde vroue” sekere verantwoordelikhede het wat hulle ooreenkomstig hulle rol in die gemeente moet nakom.

11. Wat is godvererende gedrag?

11 Paulus het eerstens gesê: “Laat die bejaarde vroue . . . godvererend wees wat hulle gedrag betref” (NW). “Gedrag” is die uiterlike blyk van ’n mens se innerlike gesindheid en persoonlikheid, wat in jou optrede sowel as jou voorkoms weerspieël word (Mattheüs 12:34, 35). Hoe moet ’n bejaarde Christenvrou se gesindheid of persoonlikheid dan wees? In een woord: “godvererend”. Dit is vertaal van ’n Griekse woord wat beteken: “dit wat betaamlik is in persone, dade of dinge wat aan God toegewy is”. Met die oog op die invloed wat hulle op ander het, veral op die jonger vroue in die gemeente, is dit inderdaad gepaste raad.—1 Timotheüs 2:9, 10.

12. Watter misbruik van die tong moet almal vermy?

12 Vervolgens word daar twee negatiewe faktore gemeld: “geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie”. Dit is interessant dat hierdie twee saam gemeld word. “In die ou tyd, toe wyn die enigste vorm van drank was”, sê professor E. F. Scott, “was dit by hulle klein wynpartytjies wat ou vrouens in hulle bure se karakter ingeklim het.” Vroue is in vergelyking met mans meer oor mense besorg, wat prysenswaardig is. Maar besorgdheid kan in skinderpraatjies en selfs in laster ontaard, veral wanneer drank die tong losmaak (Spreuke 23:33). Almal, mans sowel as vroue, wat daarna strewe om ’n heilsame lewenswyse te volg, moet beslis op hulle hoede wees vir hierdie strik.

13. In watter opsigte kan ouer vroue leraresse wees?

13 Ouer vroue word aangemoedig om hulle beskikbare tyd konstruktief te gebruik deur ‘leraresse te wees van wat goed is’. Paulus het op ander plekke duidelike opdragte gegee dat vroue nie onderrigters in die gemeente mag wees nie (1 Korinthiërs 14:34; 1 Timotheüs 2:12). Dit keer hulle egter nie om kosbare kennis van God aan hulle huisgesin en aan die publiek oor te dra nie (2 Timotheüs 1:5; 3:14, 15). Hulle kan ook ’n ware krag ten goede wees deur Christelike voorbeelde vir die jonger vroue in die gemeente te wees, soos die daaropvolgende verse toon.

Vir die jong vroue

14. Hoe kan jonger Christenvroue toon dat hulle gebalanseerd is ten opsigte van hulle pligte?

14 Toe Paulus die ouer vroue aangespoor het om ‘leraresse te wees van wat goed is’, het hy spesifiek van die jonger vroue melding gemaak. Lees asseblief Titus 2:4, 5. Hoewel baie van die riglyne hoofsaaklik om huishoudelike sake draai, moet jonger Christenvroue nie tot uiterstes gaan en toelaat dat materiële aangeleenthede hulle lewe oorheers nie. Hulle moet eerder “ingetoë . . . , kuis, . . . goed” wees en bowenal die Christelike hoofskapreëling geredelik ondersteun “sodat die woord van God nie belaster word nie”.

15. Waarom moet baie van die jonger vroue in die gemeentes geprys word?

15 Die gesinseenheid verskil vandag baie van wat dit in Paulus se dag was. Baie gesinne is verdeeld ten opsigte van godsdiens, en in ander gesinne is daar net een ouer. Selfs in sogenaamde tradisionele gesinne vind ’n mens al hoe minder dat die vrou of moeder ’n voltydse huisvrou is. Dit alles plaas geweldige druk op jong Christenvroue en bring groot verantwoordelikhede mee, maar dit onthef hulle nie van hulle skriftuurlike verantwoordelikhede nie. Dit verskaf ons dus groot vreugde om te sien dat talle getroue jong vroue hard werk om ’n balans ten opsigte van hulle baie pligte te handhaaf en nog steeds Koninkryksbelange eerste stel en dat party selfs in die voltydse bediening as hulppioniers of gewone pioniers dien (Mattheüs 6:33). Hulle moet werklik daarvoor geprys word!

Vir die jong mans

16. Watter raad het Paulus aan die jonger mans gegee, en waarom is dit tydig?

16 Paulus het daarna oor die jonger mans, met inbegrip van Titus, gepraat. Lees asseblief Titus 2:6-8. Met die oog op die onverantwoordelike en verwoestende lewenswyse wat baie van vandag se jongmense volg—rokery, dwelm- en alkoholmisbruik, ongeoorloofde seks en ander wêreldse bedrywighede, soos barbaarse sportsoorte en verdorwe musiek en vermaak—is dit beslis tydige raad vir jong Christene wat ’n heilsame en bevredigende lewenswyse wil volg.

17. Hoe kan ’n jonger man “gesond van verstand” en ’n “voorbeeld van goeie werke” word?

17 In teenstelling met die jongmense van die wêreld moet ’n jong Christenman “ingetoë” (“gesond van verstand”, NW) en “’n voorbeeld van goeie werke” wees. Paulus het verduidelik dat ’n gesonde en volwasse verstand nie verkry word deur diegene wat net studeer nie, maar deur diegene “wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14, NW). Hoe wonderlik is dit tog om te sien dat jongmense nie hulle jeugdige krag met selfsugtige strewes verkwis nie, maar eerder vrywilliglik hulle tyd en energie gebruik om ’n volle aandeel aan die talle take in die Christengemeente te hê! Deur dit te doen, kan hulle, soos Titus, voorbeelde van “goeie werke” in die Christengemeente word.—1 Timotheüs 4:12.

18. Wat beteken dit om onbedorwe in onderrigting, ernstig in optrede en heilsaam in woorde te wees?

18 Die jonger mans word daaraan herinner dat hulle “blyk [moet gee] van onbedorwenheid in [hulle] onderrigting, erns, heilsame woorde wat nie veroordeel kan word nie” (NW). Onderrigting wat ‘onbedorwe’ is, moet stewig op God se Woord gegrond wees; die jonger mans moet derhalwe ywerige studente van die Bybel wees. Soos die ouer mans moet die jonger mans ook ernstig wees. Hulle moet besef dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om ’n bedienaar van God se Woord te wees en hulle moet hulle gevolglik “waardig die evangelie” gedra (Filippense 1:27). Hulle spraak moet eweneens ‘heilsaam’ wees en van so ’n aard dat dit “nie veroordeel kan word nie”, sodat teenstanders geen rede het om kwaad te spreek nie.—2 Korinthiërs 6:3; 1 Petrus 2:12, 15.

Vir slawe en diensknegte

19, 20. Hoe kan diegene wat by ander in diens is ‘die leer van God, ons Verlosser, versier’?

19 Laastens het Paulus hom tot diegene gewend wat by ander in diens is. Lees asseblief Titus 2:9, 10. Vandag is daar min van ons wat slawe of diensknegte is, maar baie is werknemers en werkers wat aan ander dienste lewer. Die beginsels wat Paulus opgenoem het, geld dus ewe veel in ons tyd.

20 Om “in alles aan hulle eienaars onderdanig [te] wees”, beteken dat Christenwerknemers opregte respek aan hulle werkgewers en opsieners moet betoon (Kolossense 3:22). Hulle moet ook die reputasie van eerlike werkers hê wat ’n volle dag se werk sal lewer soos dit hulle werkgewer toekom. En hulle moet ’n hoë standaard van Christelike gedrag by hulle werkplek handhaaf, ongeag hoe die ander daar hulle gedra. Dit is alles “sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier”. Hoe dikwels hoor ons tog nie van die vreugdevolle resultate wanneer opregte mense die waarheid aanneem omdat hulle die goeie gedrag van hulle Getuie-werkmaats of -werknemers aanskou het nie! Dít is ’n beloning wat Jehovah gee aan diegene wat sy gesonde leer selfs by hulle werkplek naleef.—Efesiërs 6:7, 8.

’n Gereinigde volk

21. Waarom het Jehovah die gesonde leer voorsien, en hoe moet ons daarop reageer?

21 Die gesonde leer wat Paulus uiteengesit het, is nie bloot ’n stel etiese beginsels of sedelike waardes wat ons kan raadpleeg wanneer ons lus het nie. Paulus het vervolgens die doel daarvan verduidelik. Lees asseblief Titus 2:11, 12. Jehovah God het uit sy liefde en onverdiende goedhartigheid teenoor ons die gesonde leer voorsien sodat ons kan leer om ’n betekenisvolle en bevredigende lewe in hierdie kritieke en gevaarlike tye te lei. Is jy bereid om die gesonde leer aan te neem en dit jou lewenswyse te maak? As jy dit doen, sal dit jou redding beteken.

22, 23. Watter seëninge sal ons geniet as ons die gesonde leer ons lewenswyse maak?

22 As ons die gesonde leer ons lewenswyse maak, bring dit boonop nou ’n unieke voorreg mee en bied dit ons ook ’n gelukkige hoop op die toekoms. Lees asseblief Titus 2:13, 14. Ja, as ons die gesonde leer ons lewenswyse maak, skei dit ons as ’n gereinigde volk af van die verdorwe en sterwende wêreld. Paulus se woorde kom ooreen met wat Moses by Sinai aan die kinders van Israel gesê het: “En die HERE . . . [sal] jou dan die hoogste . . . stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ’n lof en ’n roem en ’n sieraad, en . . . jy [sal] ’n heilige volk aan die HERE jou God . . . wees soos Hy beloof het.”—Deuteronomium 26:18, 19.

23 Mag ons altyd die voorreg koester om Jehovah se gereinigde volk te wees deur die gesonde leer ons lewenswyse te maak! As ons altyd op ons hoede is teen enige vorm van goddeloosheid en wêreldse begeertes, sal ons rein bly en geskik wees om deur Jehovah gebruik te word in die glorieryke werk wat hy vandag laat doen.—Kolossense 1:10.

Onthou jy?

◻ Waarom is godvrugtige toegewydheid voordelig vir alles?

◻ Hoe kan ouer Christenmans en -vroue die gesonde leer hulle lewenswyse maak?

◻ Watter gesonde leringe het Paulus vir jonger mans en vroue in die gemeente gehad?

◻ Watter voorreg en seën kan ons geniet as ons die gesonde leer ons lewenswyse maak?

[Prente op bladsy 18]

Baie pas vandag die raad in Titus 2:2-4 toe

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel