“Visserswerk” in die waters van Fidji
FIDJI—die naam tower tonele van ’n Suidsee-paradys voor jou geestesoog op. Blou-groen waters, koraalriwwe, wuiwende kokospalms, grasbedekte berge, tropiese visse, eksotiese vrugte en blomme. Al hierdie dinge kan jy in oorvloed aantref op hierdie argipel wat uit 300 eilande bestaan en sowat 1 800 kilometer noord van Nieu-Seeland in die Stille Suidsee geleë is. Jy stem dus miskien saam dat Fidji die tropiese paradys kan wees waarvan almal droom.
Maar Fidji se bekoring lê in meer as net sy natuurskoon. Ja, net soos daar groot verskeidenheid onder die visse van die koraalriwwe is, tref ’n mens ook groot verskeidenheid op land aan. Die teenstellings in Fidji se etniese mengelmoes is miskien ongeëwenaard in die Stille Suidsee. Die twee grootste groepe onder sy nagenoeg 750 000 bewoners is die inboorling-Fidjiane, wat van Melanesiese herkoms is, en die Indiërs van Fidjiaanse afkoms, die afstammelinge van werkers wat tydens die Britse koloniale tyd uit Indië hierheen gebring is. Maar daar is ook Banabane, Chinese, Europeërs, Gilbertese, Rotumane, Tuvaluane en ander.
In hierdie gemeenskap met sy mengelmoes van soveel kulture is Jehovah se Getuies druk besig met ’n “visserswerk” (Markus 1:17). Dit is ’n uitdaging om die goeie nuus van God se Koninkryk in so ’n kosmopolitiese gemeenskap te verkondig. Eerstens is daar die taal- en kultuurstruikelblokke wat ’n mens te bowe moet kom. Hoewel Engels die amptelike voertaal is, moet ’n mens dikwels Fidjiaans, Hindi, Rotumaans of ander tale gebruik.
’n Mens moet ook verskillende benaderings gebruik om met mense van verskillende godsdiensagtergronde te kan gesels. Die meeste inboorling-Fidjiane en ander eilandbewoners behoort aan verskillende Christelike kerkgroepe. Die Indiërbevolking bestaan uit Hindoes, Moslems en Sikhs; maar die Hindoes is in die meerderheid. Kerke is volop in die stede en dorpe, maar op Fidji se twee grootste eilande vorm die talle Hindoetempels en Moslemmoskees ’n teenstelling.
Baie van die plaaslike Getuies het van kleins af geleer om die drie vernaamste tale—Engels, Fidjiaans en Hindi—te praat. Hierdie vaardigheid kom hulle baie goed te pas in die “visserswerk”. Mense is soms verbaas om te hoor hoe ’n Fidjiaan vlot Hindi en ’n Hindu vlot Fidjiaans praat. Met kultuur-, godsdiens- en taalverskille om te bowe te kom, moet ’n mens ’n veelsydige benadering hê om “met ander ’n deelgenoot [van die goeie nuus]” te kan word.—1 Korinthiërs 9:23, NW.
“Visserswerk” in ’n Fidjiaanse dorpie
Die inboorling-Fidjiane is ’n vriendelike, gasvrye volk. ’n Mens kan jou dit nouliks voorstel dat stamoorloë bietjie meer as ’n eeu gelede hier iets algemeens was. Trouens, destyds toe die eerste Europeërs Fidji besoek het, het dié eilande as die Kannibaal-eilande bekend gestaan. Toe ’n opperhoof aan bewind gekom het en die Christelike godsdiens aangeneem het, het stamgevegte en kannibalisme mettertyd uitgesterf. Die enigste stamverskille wat nog bestaan, is die vele dialekte wat in die verskillende provinsies aangetref word, hoewel die Bauaanse dialek algemeen verstaan word.
Benewens Suva, die hoofstad, is daar talle stede oral in Fidji. Die meeste Fidjiane woon in dorpsgemeenskappe wat onder die beheer van ’n turaga ni koro, of hoofman, staan. Wanneer ’n mens ’n dorp binnegaan om “visserswerk” te doen, is dit gebruiklik om hierdie man te nader en toestemming te vra om die verskillende bures, of plaaslike wonings, te besoek. Net af en toe word toestemming geweier, gewoonlik weens die feit dat die een of ander geestelike in die dorpie teen Jehovah se Getuies gekant is. Hoe verloop ’n besoek by ’n Fidjiaanse huis?
Nadat ons die bure binnegekom het, sit ons met gekruisde bene op die vloer. Hier het ’n mens nie ’n sorgvuldig bewoorde inleiding nodig wat gebruik word om die belangstelling in Westerse lande te wek nie. Enigeen wat kom om oor God te gesels, is welkom. Wanneer die huisbewoner genooi word om sy Bybel te kry, staan hy geredelik op en, met die uitdrukking “tulou” (verskoon my), haal hy ’n Bybel in Fidjiaans bo van ’n rak af en lees gretig die verskillende tekste wat die besoekende evangeliedienaar noem. Maar die gasvrye en eerbiedige gesindheid van die Fidjiaan bied in ’n ander opsig ’n uitdaging. ’n Mens moet aansienlike onderskeidingsvermoë en takt aan die dag lê om huisbewoners by die gesprek te betrek, om hulle aan te moedig om die redenasie wat gebruik word te volg of om hulle te help besef dat hulle hulle eie opvattings met die Bybel se leringe moet vergelyk.
Fidjiaanse huisbewoners stel gewoonlik meer daarin belang om leerstellige onderwerpe te bespreek as om oor maatskaplike toestande of vraagstukke te gesels. Trouens, baie van die meer as 1 400 bedrywige Getuies van Jehovah in Fidji se belangstelling in Bybelwaarheid is gewek as gevolg van ’n bespreking van vrae soos: Watter soort plek is die hel? Wie gaan hemel toe? en Gaan die aarde vernietig word? Maar dit verg aanpasbaarheid en volharding om herbesoeke te doen by mense wat belangstelling toon. Wanneer ’n mens op ’n afgesproke tyd teruggaan, vind jy dikwels dat die huisbewoner na die teitei (plantasie) of êrens anders toe gegaan het. Nee, dit is nie dat hulle nie die besoek waardeer nie, dit is maar net dat hulle nie so tydbewus is nie. Vir die plaaslike Getuies is dit natuurlik nie iets ongewoons nie. Hulle volhard deur op ’n ander tyd te gaan. Hier is daar geen straatname of huisnommers om neer te skryf nie, daarom moet ’n mens ’n goeie geheue hê wanneer jy herbesoeke doen.
“Visserswerk” op die Polinesiese manier
Kom ons vergesel ’n reisende bedienaar, of kringopsiener, in die “visserswerk” terwyl hy die gemeentetjie in Rotuma besoek. Hierdie groep vulkaniese eilande is 500 kilometer noord van Fidji geleë. Om daar te kom, vlieg ons in ’n vliegtuig met 19 sitplekke. Die hoofeiland beslaan ’n oppervlakte van slegs 50 vierkante kilometer met ’n totale bevolking van ongeveer 3 000. ’n Sanderige pad al langs die kuslyn verbind sowat 20 dorpies. Rotuma word deur Fidji bestuur, maar het ’n ander kultuur en taal. Sy mense wat van Polinesiese herkoms is, lyk anders as die Melanesiese Fidjiane. Wat godsdiens betref, is die meeste óf Rooms-Katolieke óf Metodiste.
Terwyl die vliegtuig sak en gereedmaak om te land, sien ons die welige groen plantegroei van die eiland. Die veeragtige blare van die kokospalms is oral te sien. ’n Groot skare is hier om die weeklikse vlug te verwelkom. Onder hulle is ’n groep Getuies. Ons word hartlik gegroet, en etlike groot groen kokosneute met oopgesnyde “oë” word aan ons gegee om ons dors te les.
Ná ’n kort rit kom ons by ons huisvesting aan. ’n Maaltyd is voorberei wat in ’n oond in die grond gebak is. Gebraaide vark, hoender, vis, kreef en die plaaslike knolgroente, taro, word vir ons voorgesit. Wat ’n fees, en wat ’n paradysagtige toneel onder die jong kokosbome!
Die volgende dag besoek ons mense in die dorpies, wat in Rotumaans ho’aga genoem word. Terwyl ons die eerste huis nader, hardloop ’n varkie wat uit een van die hokke ontsnap het al skreeuende verby. Die huisbewoner het ons sien kom en maak die deur met ’n glimlag oop terwyl hy ons met “Noya!” in Rotumaans groet en ons dan nooi om te sit. ’n Bord ryp piesangs word voor ons neergesit, en ons word ook genooi om uit groen kokosneute te drink. Gasvryheid kom eerste in Rotuma.
Hier tref ’n mens geen agnostikusse of evolusioniste aan nie. Almal glo aan die Bybel. Onderwerpe soos God se voorneme met die aarde wek maklik hulle belangstelling. Die huisbewoner is verbaas om te verneem dat die aarde nie vernietig gaan word nie, maar dat dit deur regverdige mense bewoon gaan word wat vir ewig daarop gaan lewe (Psalm 37:29). Hy volg noukeurig wanneer Bybeltekste gelees word wat die punt bevestig, en hy neem gretig die Bybellektuur wat ons aanbied. Wanneer ons gereedmaak om te loop, bedank hy ons vir die besoek en bied ons ’n plastieksak vol ryp piesangs aan wat ons langs die pad kan eet. ’n Mens kan maklik gewig aansit terwyl jy hier predikingswerk doen!
Ons pas ons benadering by die Indiërgemeenskap aan
Hoewel baie ander eilandstate van die Stille Suidsee ook veelrassig is, oortref Fidji hulle almal in hierdie opsig. Sy aan sy met die Melanesiese, Mikronesiese en Polinesiese kulture tref ’n mens ’n kultuur aan wat uit Asië hier oorgeplant is. Tussen 1879 en 1916 is kontrakarbeiders uit Indië hierheen gebring om in die suikerrietplantasies te werk. Hierdie reëling, wat girmit (ooreenkoms) genoem word, het meegebring dat duisende Indiërs na Fidji toe gekom het. Die afstammelinge van hierdie werkers maak ’n groot deel van die land se bevolking uit. Hulle het hulle kultuur, taal en godsdiens behou.
Aan die lykant van Fidji se hoofeiland is die stad Lautoka. Dit is die hart van Fidji se suikerrietbedryf en die tuiste van ’n groot deel van die land se Indiërbevolking. Die lede van die drie gemeentes van Jehovah se Getuies hier moet baie aanpasbaar in hulle “visserswerk” wees. Wanneer ’n mens van huis tot huis gaan, moet jy voorbereid wees om jou onderwerpe volgens die ras of godsdiens van die huisbewoner aan te pas. Kom ons sluit by ’n groep plaaslike Getuies aan terwyl hulle die huise besoek wat oral tussen die suikerrietplantasies net buitekant Lautoka staan.
Terwyl ons die eerste huis nader, sien ons in die voorste hoek van die groep geboue ’n paar lang bamboespale met stukke rooi lap aan die punte vasgebind. Dit dui aan dat hierdie gesin Hindoes is. Die meeste Hindoewonings is versier met prente van hulle gode. Baie het ’n gunstelinggod, soos Krisjna, en daar is dikwels ’n klein heiligdom.a
Die meeste Hindoes glo dat alle godsdienste goed is en maar net verskillende maniere van aanbidding is. Gevolglik sal ’n huisbewoner miskien beleefd luister, leesstof neem, verversings aanbied en voel dat hy sy plig gedoen het. Om gepaste vrae te stel en die huisbewoners by sinvoller besprekings te betrek, is dit dikwels nuttig om vertroud te wees met sommige van die verhale wat deel van hulle geloof uitmaak. As ’n mens byvoorbeeld van hulle verhale ken wat vertel hoe hulle gode dade bedryf waaroor sommige mense bedenkings het, kan jy vra: “Sou jy dit goedkeur as jou vrou (man) sulke dade pleeg?” Die antwoord is gewoonlik: “Nee, beslis nie!” Dan kan ’n mens die persoon vra: “Wel, behoort ’n god sulke dinge te doen?” Sulke besprekings skep dikwels geleenthede om vir die huisbewoner op die waarde van die Bybel te wys.
Die leerstelling van reïnkarnasie, ’n ander vername leerstelling van Hindoeïsme, is ’n onderwerp vir bespreking wat goeie vrugte afwerp. Een goed opgevoede Hindoevrou wat onlangs haar vader aan die dood moes afgee, is gevra: “Sou jy graag jou vader weer wou sien net soos hy voorheen was?” Sy het geantwoord: “Ja, dit sou wonderlik wees.” Uit haar antwoord en die daaropvolgende gesprek was dit duidelik dat sy nie tevrede was met die leerstelling dat haar vader nou in ’n ander vorm lewe en dat sy hom nooit weer sou ken nie. Maar die Bybel se wonderlike opstandingsleer het haar hart geraak.
Party Hindoes het vrae en soek na bevredigende antwoorde. Toe ’n Getuie ’n Hindoewoning besoek het, het die man gevra: “Wat is die naam van jou god?” Die Getuie het vir hom Psalm 83:19 NW gelees en verduidelik dat God se naam Jehovah is en dat Romeine 10:13 sê ons moet hierdie naam aanroep as ons gered wil word. Die man was beïndruk en wou meer weet. Trouens, hy was desperaat om meer te weet. Hy het verduidelik dat sy vader, wat baie toegewyd was aan hulle gesinsgod, siek geword het nadat hy voor die beeld aanbid het en kort daarna gesterf het. Dieselfde het met sy broer gebeur. Toe het hy bygevoeg: “Daardie beeld bring vir ons die dood, nie die lewe nie. Dus moet iets daarmee verkeerd wees om dit te aanbid. Dalk kan hierdie God, Jehovah, ons help om die weg na die lewe te vind.” Daar is toe ’n Bybelstudie met hom, sy vrou en sy twee kinders begin. Hulle het vinnig gevorder en is kort voor lank gedoop. Hulle het hulle afgode verlaat en wandel nou in die weg van Jehovah, die God van lewe.
Die volgende huis wat ons besoek, is dié van ’n Moslemgesin. Hier ondervind ons dieselfde gasvryheid, en gou-gou sit ons almal met ’n koeldrank in die hand. Ons sien geen godsdienstige prente teen die mure nie behalwe ’n klein geraamde versie in Arabiese skrif. Ons meld die feit dat daar ’n gemeenskaplike skakel tussen die Bybel en die Koran bestaan, naamlik die aartsvader Abraham, en dat God aan Abraham beloof het dat al die nasies deur middel van sy saad geseën sou word. Hierdie belofte gaan in Jesus Christus, Sy Seun, vervul word. Party Moslems sal beswaar maak teen die gedagte dat God ’n seun het. Daarom verduidelik ons dat net soos die eerste mens, Adam, God se seun genoem word omdat hy deur God geskep is, Jesus op dieselfde manier God se Seun is. God het nie ’n letterlike vrou nodig om sulke seuns voort te bring nie. Moslems glo nie in die leerstelling van die Drie-eenheid nie, daarom gebruik ons hierdie gemeenskaplike grondslag om te wys dat Jehovah God die Opperwese is.
Teen hierdie tyd is dit al etenstyd, en die lede van ons groep kom uit die suikerrietplantasies terug pad toe om te wag vir die bus wat ons sal terugneem dorp toe. Hoewel ons ’n bietjie moeg voel, loop almal oor van geesdrif oor die oggend se “visserswerk”. Die poging om aan te pas by die verskillende situasies en geloofsopvattings wat ons teëgekom het, was die moeite werd.
Fidji se waters en riwwe wemel van baie soorte vis. Om sukses te behaal, moet die Fidjiaanse gonedau (visserman) bedrewe in sy werk wees. Dit geld ook van die “visserswerk” wat Jesus Christus aan sy dissipels opgedra het. Christen-“vissers van mense” moet bedrewe wees en hulle aanbieding en redenasie aanpas om by die uiteenlopende gelowe van die bevolking te pas (Mattheüs 4:19). Dit is beslis nodig in Fidji. En die resultate blyk duidelik by die jaarlikse byeenkomste van Jehovah se Getuies, waar Fidjiane, Indiërs, Rotumane en mense van gemengde etniese agtergronde Jehovah God in eenheid aanbid. Ja, sy seën rus op die “visserswerk” in die waters van Fidji.
[Voetnoot]
a Sien bladsye 115-17 van die boek Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Viti Levu
Vanua Levu
Suva
Lautoka
Nandi
0 100 km
0 100 m
18°
180°
[Prent op bladsy 24]
’n “Bure”, of plaaslike woning
[Prent op bladsy 24]
’n Hindoetempel in Fidji
[Prente op bladsy 25]
Suksesvolle “vissers” van mense in Fidji
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Fiji Visitors Bureau