Bring aanneemlike offerandes aan Jehovah
DAAR was ’n tyd in die geskiedenis toe ’n merkwaardige verskynsel by die oostelike ingang tot die tuin van Eden gesien kon word.a Magtige gerubs het daar waggestaan en hulle vreeswekkende voorkoms het duidelik getoon dat niemand dit moet waag om daar verby te gaan nie. Die vlammende lem van ’n draaiende swaard was net so skrikwekkend, en dit het moontlik snags ’n onheilspellende skynsel op die omringende bome laat val (Genesis 3:24). Hoewel dit dalk ’n baie interessante verskynsel was, het enige toeskouers op ’n veilige afstand gebly.
Kain en Abel het heel moontlik baie keer soontoe gegaan. Aangesien hulle buite die tuin vir Adam en Eva gebore is, kon hulle net gis oor hoe dit moes gewees het om in die Paradys te lewe, soos wat hulle ouers vroeër gedoen het, waar daar baie water, geil plantegroei en volop vrugte en groente was. Nou sou die bietjie wat daar van Eden gesien kon word ongetwyfeld onbewerk en ruig gelyk het.
Adam en Eva het sekerlik aan hulle kinders verduidelik waarom die tuin onversorg was en waarom hulle daaruit verdryf is (Genesis 2:17; 3:6, 23). Hoe gefrustreerd moes Kain en Abel tog nie gevoel het nie! Hulle kon die tuin sien, maar hulle kon nie daar ingaan nie. Hulle was so naby aan die Paradys en tog so ver daarvandaan. Hulle was onvolmaak, en daar was nie veel wat Kain of Abel daaraan kon doen nie.
Hulle ouers se verhouding kon sake beslis nie verbeter het nie. Toe God Eva gevonnis het, het hy gesê: “Jou hunkering sal na jou man wees, en hy sal oor jou heers” (Genesis 3:16, NW). Soos die profesie voorspel het, het Adam seker sy vrou nou oorheers en haar dalk nie meer as ’n metgesel en ’n helper behandel nie. En Eva was blykbaar op ’n ongesonde wyse afhanklik van hierdie man. Een kommentaar beskryf haar “hunkering” selfs as “’n begeerte wat byna soos ’n siekte is”.
Die Bybel sê nie in watter mate die situasie in hierdie huwelik die seuns se respek vir hulle ouers beïnvloed het nie. Dit is egter duidelik dat Adam en Eva ’n verontrustende voorbeeld vir hulle kinders gestel het.
Hulle kies verskillende paaie
Uiteindelik het Abel ’n herder geword en Kain het begin boer (Genesis 4:2). Terwyl Abel sy kuddes opgepas het, het hy ongetwyfeld baie tyd gehad om te peins oor die eienaardige profesie wat uitgespreek is voordat sy ouers uit Eden gedryf is: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Abel het seker gewonder: ‘Hoe sal God se belofte aangaande ’n saad wat die slang sal vermorsel, verwesenlik word, en hoe sal hierdie saad in die hakskeen gebyt word?’
Na verloop van tyd, toe Kain en Abel waarskynlik reeds volwasse manne was, het hulle elkeen ’n offer aan Jehovah gebring. Aangesien Abel ’n herder was, was dit nie verbasend dat hy “van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring [het nie], naamlik van hulle vet”. In teenstelling hiermee het Kain “van die vrugte van die land” geoffer. Jehovah het Abel se offerande aanvaar, maar “Kain en sy offer nie aangesien nie” (Genesis 4:3-5). Waarom nie?
Party wys op die feit dat Abel se offerande van die “eersgeborenes van sy kleinvee” was, terwyl Kain s’n net “van die vrugte van die land” was. Maar die probleem was nie die gehalte van die opbrengs wat Kain geoffer het nie, want die verslag sê dat Jehovah “Abel en sy offer” genadig aangesien het, en “Kain en sy offer” nie aangesien het nie. Jehovah het dus hoofsaaklik na die hartstoestand van die aanbidder gekyk. Wat het hy gesien? Hebreërs 11:4 sê dat dit “deur geloof” was dat Abel sy offerande gebring het. Kain het klaarblyklik dus nie die geloof gehad wat Abel se offerande aanneemlik gemaak het nie.
In hierdie opsig is dit opmerkenswaardig dat Abel se offerande die vergieting van bloed behels het. Hy het moontlik tereg die gevolgtrekking gemaak dat God se belofte aangaande ’n saad wat in die hakskeen gebyt sou word die opoffering van ’n lewe sou meebring. Abel se offer was dus ’n versoek om versoening, en dit het sy geloof getoon dat God op die bestemde tyd ’n soenofferande vir sondes sou voorsien.
In teenstelling hiermee het Kain waarskynlik nie veel gepeins oor die offer wat hy gebring het nie. “Sy offer was ’n blote erkenning van die feit dat God ’n weldoener is”, het ’n 19de-eeuse Bybelkommentator aan die hand gedoen. “Dit het duidelik getoon dat hy geen werklike breuk tussen hom en sy Skepper erken het of enige belydenis van sonde of behoefte aan versoening nodig geag het nie.”
Daarbenewens was Kain, as eersgeborene, dalk selfs vermetel genoeg om te dink dat hy die beloofde saad was wat die Slang, Satan, sou vernietig. Eva het miskien ook sulke hoë ambisies vir haar eersgebore seun gehad (Genesis 4:1). As dít was wat Kain en Eva verwag het, het hulle hulle natuurlik hopeloos misgis.
Die Bybel sê nie hoe Jehovah aangedui het dat hy Abel se offerande goedgekeur het nie. Party doen aan die hand dat dit deur vuur uit die hemel verteer is. Hoe dit ook al sy, toe Kain besef dat sy offer verwerp is, ‘het hy baie kwaad geword, en hy het sy hoof laat hang’ (Genesis 4:5). Kain het op ’n ramp afgestuur.
Jehovah se raad en Kain se reaksie
Jehovah het met Kain geredeneer. “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?” het hy gevra. Dit het Kain die geleentheid gegee om sy eie gevoelens en beweegredes noukeurig te ondersoek. Jehovah het verder gesê: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers.”—Genesis 4:6, 7. (Sien die venster op bladsy 23.)
Kain het nie geluister nie. Hy het Abel eerder in die veld ingeneem en hom vermoor. Later, toe Jehovah vra waar Abel is, het Kain sy sonde met ’n leuen vererger. “Ek weet nie”, het hy geantwoord. “Is ek my broer se wagter?”—Genesis 4:8, 9.
Voor sowel as ná Abel se moord het Kain geweier om ‘goed te doen’. Hy het verkies dat sonde oor hom heers, en hiervoor is Kain verdryf uit die gebied waarin die mensegesin gewoon het. ’n “Teken”, dalk bloot ’n plegtige gebod, is gegee sodat niemand Abel se dood sou wreek deur Kain dood te maak nie.—Genesis 4:15.
Kain het later ’n stad gebou en dit na sy seun vernoem. Dit is nie verbasend dat sy afstammelinge bekend geword het vir hulle gewelddadigheid nie. Uiteindelik het Kain se geslagslyn geëindig toe die Vloed van Noag se dag alle onregverdige mense vernietig het.—Genesis 4:17-24; 7:21-24.
Die Bybelverslag van Kain en Abel is nie bewaar sodat dit bloot vir ontspanning gelees kan word nie. Dit is eerder “tot ons onderrigting geskryf” en is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys” (Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16). Wat kan ons uit hierdie verslag leer?
’n Les vir ons
Soos Kain en Abel word Christene van vandag genooi om ’n offerande aan God te bring—nie ’n letterlike brandoffer nie, maar “’n lofofferande . . . , dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Dit word tans op ’n wêreldwye skaal gedoen, aangesien Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk in meer as 230 lande verkondig (Matteus 24:14). Het jy ’n aandeel aan hierdie werk? Dan kan jy seker wees dat ‘God nie onregverdig is sodat hy jou werk sal vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’.—Hebreërs 6:10.
Soos in die geval van Kain en Abel se offers word jou offerande nie aan die uiterlike voorkoms daarvan beoordeel nie—byvoorbeeld net aan die aantal ure wat jy in die bediening deurbring nie. Jehovah kyk dieper. Jeremia 17:10 sê dat hy ‘die hart deursoek’ en selfs ‘die niere toets’—die diepste gedagtes, gevoelens en beweegredes van ’n mens se persoonlikheid. Die werklike kwessie is dus ’n mens se beweegrede, nie hoeveel ’n mens doen nie. Ja, hetsy ’n offerande groot of klein is, dit is kosbaar vir God wanneer dit gebring word uit ’n hart wat deur liefde beweeg word.—Vergelyk Markus 12:41-44 met 14:3-9.
Terselfdertyd moet ons daarvan bewus wees dat Jehovah nie lam offerandes sal aanvaar nie, net soos wat hy nie die halfhartige offer van Kain aanvaar het nie (Maleagi 1:8, 13). Jehovah vereis dat ’n mens hom jou allerbeste gee, dat jy hom met jou hele hart, siel, verstand en krag dien (Markus 12:30). Doen jy dit? Dan het jy goeie rede om tevrede te wees met jou offerande. Paulus het geskryf: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.
Kain en Abel het dieselfde opvoeding gehad. Maar tyd en omstandighede het elkeen die geleentheid gegee om unieke eienskappe te ontwikkel. Kain se gesindheid is al hoe meer aangetas deur jaloesie, twisgierigheid en vlae van toorn.
In teenstelling hiermee is Abel as ’n regverdige man deur God onthou (Matteus 23:35). Sy vasbeslotenheid om God tot elke prys te behaag, het Abel verkwikkend anders gemaak as die ondankbare lede van sy gesin—Adam, Eva en Kain. Die Bybel sê vir ons dat Abel ‘nog spreek’, hoewel hy gesterf het. Sy getroue diens aan God is deel van die permanente geskiedkundige verslag in die Bybel. Mag ons Abel se voorbeeld volg deur voortdurend aanneemlike offerandes aan God te bring.—Hebreërs 11:4.
[Voetnoot]
a Party meen dat die tuin van Eden in ’n bergagtige streek in die oostelike deel van hedendaagse Turkye geleë was.
[Venster/Prent op bladsy 23]
ʼn Voorbeeld vir Christenraadgewers
“WAAROM is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?” Met hierdie vraag het Jehovah op ’n vriendelike wyse met Kain geredeneer. Hy het Kain nie gedwing om te verander nie, want Kain het wilsvryheid gehad. (Vergelyk Deuteronomium 30:19.) Jehovah het nietemin nie gehuiwer om vir Kain te se wat die gevolge van sy eiesinnige gedrag sou wees nie. Hy het Kain gewaarsku: “As jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou.”—Genesis 4:6, 7.
Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah selfs met hierdie sterk teregwysing Kain nie soos ’n ‘verlore saak’ behandel het nie. Hy het eerder vir Kain van die seëninge vertel wat op horm gewag het as hy sy weë verander, en hy het die vertroue uitgespreek dat Kain hierdie probleem kon oorkom as hy wou. Jehovah het gesê: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie?” Hy het ook vir Kain aangaande sy moorddadige woede gesê: “Jy moet daaroor heers.”
Vandag moet ouer manne in die Christengemeente Jehovah se voorbeeld navolg. Soos 2 Timoteus 4:2 sê, moet hulle soms ‘teregwys’ en “berispe”, deur dit vir die oortreder heeltemal duidelik te maak wat die gevolge van sy eiesinnige gedrag sal wees. Terselfdertyd moet ouer manne “vermaan”. Die Griekse woord pa·ra·ka·leʹo beteken “om aan te moedig”. “Die vermaning is nie skerp, twissoekerig of krities nie”, sê die Theological Dictionary of the New Testament. “Die feit dat vertroosting ’n ander beteke-nis kan wees, wys op dieselfde gedagte.”
Dit is betekenisvol dat ’n verwante Griekse woord, pa·raʹkle·tos, na ’n helper of ’n voorspraak in ’n regsaak kan verwys. Wanneer ouer manne iemand dus selfs streng teregwysing gee, moet hulle onthou dat hulle helpers is—nie teenstanders nie—van die individu wat raad nodig het. Soos Jehovah, moet die ouer manne positief wees en toon dat hulle die vertroue het dat die een wat raad ontvang wel die probleem kan oorkom.—Vergelyk Galasiers 6:1.
Op die ou end berus dit natuurlik by die individu om aan die vermaning gehoor te gee (Galasiërs 6:5; Filippense 2:12). Raadgewers sal dalk vind dat party nie op hulle waarskuwings ag slaan nie, net soos Kain verkies het om teregwysing van die Skepper self te ignoreer. Maar wanneer ouer manne Jehovah, die volmaakte Voorbeeld vir Christenraadgewers, navolg, kan hulle seker wees dat hulle gedoen het wat hulle moet.