Wanneer begin die derde millennium?
HET jy al die bewering gehoor dat die derde millennium nie in die jaar 2000 sal begin nie, maar wel in 2001? Daardie bewering is reg—in sekere mate. As ons aanneem dat Jesus Christus gebore is in wat nou as 1 v.G.J. bekend staan, soos party voorheen gedink het, dan sal 31 Desember 2000 (nie 1999 nie) wel die einde van die tweede millennium wees en 1 Januarie 2001 die begin van die derde.a Maar vandag is die meeste geleerdes dit eens dat Jesus Christus nie in 1 v.G.J. gebore is nie. Wel, wanneer is hy dan gebore?
Wanneer is Jesus gebore?
Die Bybel gee nie die presiese datum van Jesus se geboorte nie. Maar dit sê wel dat hy “in die dae van Herodes, die koning,” gebore is (Matteus 2:1). Baie Bybelgeleerdes glo dat Herodes in die jaar 4 v.G.J. gesterf het en dat Jesus voor daardie tyd gebore is—moontlik reeds in 5 of 6 v.G.J. Hulle baseer hulle gevolgtrekkings oor Herodes se dood op wat die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus gesê het.b
Volgens Josefus was daar, kort voordat koning Herodes gesterf het, ’n maansverduistering. Bybelgeleerdes vestig die aandag op ’n gedeeltelike maansverduistering op 11 Maart 4 v.G.J. as bewys dat Herodes in daardie jaar moes gesterf het. Maar in die jaar 1 v.G.J. was daar ’n algehele maansverduistering op 8 Januarie en ’n gedeeltelike verduistering op 27 Desember. Niemand kan sê of Josefus na een van die verduisterings in 1 v.G.J. of na die een in 4 v.G.J. verwys het nie. Gevolglik kan ons nie Josefus se woorde gebruik om die presiese jaar van Herodes se dood te bepaal nie. Selfs as ons kon, sou ons nog steeds nie sonder verdere inligting kon bepaal wanneer Jesus gebore is nie.
Die kragtigste bewyse wat ons aangaande die datum van Jesus se geboorte het, kom uit die Bybel. Die geïnspireerde verslag sê dat Jesus se neef Johannes die Doper sy loopbaan as ’n profeet in die 15de jaar van die Romeinse keiser Tiberius Caesar begin het (Lukas 3:1, 2). Die sekulêre geskiedenis bevestig die feit dat Tiberius op 15 September 14 G.J. keiser gemaak is; dus sou sy 15de jaar van die laaste deel van 28 G.J. tot die laaste deel van 29 G.J. gestrek het. Johannes het sy bediening in daardie tyd begin, en Jesus het sy bediening klaarblyklik ses maande later begin (Lukas 1:24-31). Dít, tesame met ander bewyse, toon dat Jesus se bediening in die herfs van 29 G.J. begin het.c Die Bybel sê dat Jesus “omtrent dertig jaar oud” was toe hy sy bediening begin het (Lukas 3:23). As hy in die herfs van 29 G.J. 30 jaar oud was, moes hy in die herfs van 2 v.G.J. gebore gewees het. As ons nou tweeduisend jaar van die herfs van 2 v.G.J. af tel (en onthou dat daar geen jaar nul was nie; gevolglik is dit twee jaar van 2 v.G.J. tot 1 G.J.), besef ons dat die tweede millennium in die herfs van 1999 geëindig het en die derde millennium toe begin het!
Maak dit saak? Sou die begin van die derde millennium byvoorbeeld die begin wees van die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus, waarna daar in die boek Openbaring verwys word? Nee. Die Bybel dui nêrens aan dat daar enige skakel is tussen die derde millennium en die Duisendjarige Heerskappy van Christus nie.
Jesus het sy volgelinge gewaarsku om nie oor datums te spekuleer nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie” (Handelinge 1:7). Jesus het vroeër geopenbaar dat selfs hy nie geweet het wanneer God aan hierdie goddelose stelsel oordeel sou voltrek en sodoende die weg vir Christus se Duisendjarige Heerskappy sou baan nie. Hy het gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.”—Matteus 24:36.
Is dit redelik om te verwag dat Christus presies 2 000 jaar ná die datum van sy geboorte as ’n mens sal terugkeer? Nee, dit is nie. Jesus het natuurlik die datum van sy eie geboorte geweet. En hy het beslis geweet hoe om 2 000 jaar van daardie datum af te tel. En tog het hy nie die dag en uur van sy koms geweet nie. Dit sou uiteraard nie so eenvoudig wees om die datum van sy wederkoms te bepaal nie! Die ‘tye en tydperke’ was onder die Vader se jurisdiksie—die tydrooster sou net hy ken.
Daarbenewens het Jesus nie sy volgelinge beveel om vir hom op ’n spesifieke geografiese plek te wag nie. Hy het nie vir hulle gesê om bymekaar te kom en te wag nie, maar eerder dat hulle “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” moet gaan en dissipels van mense van al die nasies moet maak. Hy het nooit daardie bevel herroep nie.—Handelinge 1:8; Matteus 28:19, 20.
Sal hulle millenniumverwagtinge verydel word?
Party godsdiensfundamentaliste koester nietemin groot verwagtinge vir die jaar 2000. Hulle glo dat dele van die boek Openbaring gedurende die volgende paar maande ’n letterlike vervulling sal hê. Trouens, hulle dink dat hulle self deel van daardie vervulling gaan wees. Hulle wys byvoorbeeld na die profesie wat in Openbaring 11:3, 7, 8 opgeteken is en wat vertel van twee getuies wat profeteer in ’n “groot stad . . . wat in geestelike sin Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook aan die paal gehang is”. Wanneer hulle hulle getuienis klaar gegee het, word die twee getuies deur ’n wrede wilde dier doodgemaak wat uit die afgrond opkom.
Volgens ’n berig in The New York Times Magazine van 27 Desember 1998 het die leier van een godsdiensgroep “vir volgelinge gesê dat hy een van die twee getuies is wat bestem is om die vernietiging van die aarde en die koms van die Here aan te kondig—en dan deur Satan in die strate van Jerusalem doodgemaak te word”. Dit is te verstane dat die Israeliese owerheid bekommerd is. Hulle vrees dat sekere ekstremiste dalk sal probeer om die profesie self te “vervul”—selfs al beteken dit dat hulle ’n gewapende konflik moet uitlok! Maar God het nie die mens se “hulp” nodig om sy voorneme te verwesenlik nie. Al die profesieë in die Bybel sal op God se eie tyd en op God se eie manier vervul word.
Die boek Openbaring is “in tekens” geskryf. Volgens Openbaring 1:1 wou Jesus aan “sy slawe” (nie die wêreld oor die algemeen nie) openbaar wat binnekort sou plaasvind. Om die boek Openbaring te verstaan, sou Christus se slawe, oftewel volgelinge, God se heilige gees nodig hê, wat Jehovah aan diegene gee wat hom behaag. As die boek Openbaring in letterlike sin verstaan moet word, sou selfs ongelowige mense dit kon lees en verstaan. Dit sou dan nie vir Christene nodig wees om vir heilige gees te bid om dit te verstaan nie.—Matteus 13:10-15.
Ons het gesien dat die derde millennium van Jesus se geboorte af volgens Bybelse bewyse in die herfs van 1999 begin en dat nóg daardie datum nóg 1 Januarie 2000 en ook nie 1 Januarie 2001 enige spesiale betekenis het nie. Daar is nietemin ’n millennium waarin Christene baie belangstel. As dit nie die derde millennium is nie, watter een is dit? Die laaste artikel in hierdie reeks sal hierdie vraag beantwoord.
[Voetnote]
a Sien die venster “2000 of 2001?” op bladsy 5.
b Volgens die chronologie van hierdie geleerdes sou die derde millennium al in 1995 of 1996 aangebreek het.
c Sien asseblief Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., Deel 1, bladsye 1094-5, vir verdere besonderhede.
[Venster op bladsy 5]
2000 of 2001?
Om te verstaan waarom party beweer dat die derde millennium van Jesus se geboorte af op 1 Januarie 2001 sal aanbreek, kan ons hierdie illustrasie gebruik. Veronderstel dat jy ’n boek lees wat 200 bladsye lank is. Wanneer jy bo aan bladsy 200 kom, het jy 199 bladsye klaar gelees en moet jy nog een bladsy lees. Jy sal eers die boek heeltemal klaar gelees het as jy aan die einde van bladsy 200 kom. Net so sal 999 jaar van die huidige millennium, soos dit oor die algemeen beskou word, op 31 Desember 1999 verstreke wees, met nog een jaar oor tot die einde van die millennium. Volgens daardie berekening begin die derde millennium op 1 Januarie 2001. Maar dit beteken nie dat presies 2 000 jaar sedert die datum van Jesus se geboorte op daardie dag verstreke is nie, soos hierdie artikel toon.
[Venster op bladsy 6]
Hoe die v.C.-n.C.-dateringstelsel ontwikkel is
Vroeg in die sesde eeu G.J. het pous Johannes I ’n monnik met die naam Dionisius Exiguus die opdrag gegee om ’n stelsel van tydrekening uit te werk wat die kerke in staat sou stel om ’n amptelike datum vir die Paasfees te bepaal.
Dionisius het aan die werk gespring. Hy het in tyd teruggewerk, tot voor Jesus se dood, tot die jaar waarin hy gedink het Jesus gebore is; toe het hy elke jaar van daar af ’n jaartal gegee. Dionisius het die tydperk van Jesus se geboorte af “AD” genoem (vir Anno Domini—“in die jaar van ons Here”). Hoewel Dionisius net van plan was om ’n betroubare manier uit te werk om elke jaar die datum van die Paasfees te bepaal, het hy onbewustelik die konsep ingebring dat die jare van die geboorte van Christus af aan getel word.
Hoewel die meeste geleerdes saamstem dat Jesus nie in die jaar gebore is wat Dionisius as ’n grondslag vir sy berekeninge gebruik het nie, stel sy stelsel van chronologie ons in staat om gebeure in die tydstroom te vind en hulle verband met mekaar te sien.