Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 3/1 bl. 20-24
  • Ek hou my lewe eenvoudig om Jehovah te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek hou my lewe eenvoudig om Jehovah te dien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons ontmoet dié wat die leiding neem
  • Onvergeetlike vroeë streekbyeenkomste
  • Waardering vir die bediening
  • Ander onvergeetlike streekbyeenkomste
  • ’n Huweliksmaat
  • Ons maak aanpassings
  • Verlies van my dierbare maat
  • Dankbaar vir my voorregte
  • Dankbaar vir ’n genotvolle lewe van diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Adverteer die Koning en die Koninkryk! (1919-1941)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 3/1 bl. 20-24

Lewensverhaal

Ek hou my lewe eenvoudig om Jehovah te dien

SOOS VERTEL DEUR CLARA GERBER MOYER

Ek is 92 jaar oud en loop swaar, maar ek het nog steeds ’n helder verstand en ’n goeie geheue. Hoe dankbaar is ek tog dat ek die voorreg gehad het om Jehovah van kleins af te dien! Die feit dat ek ’n eenvoudige lewe gelei het, het oneindig baie tot daardie skat bygedra.

EK IS op 18 Augustus 1907 in Alliance, Ohio, VSA, gebore, die oudste van vyf kinders. Toe ek agt was, het ’n voltydse bedienaar van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, op sy fiets na ons melkplaas gekom. Hy het my ma, Laura Gerber, by die deur ontmoet, en gevra of sy weet waarom boosheid toegelaat word. Dit was iets waaroor my ma altyd gewonder het.

My pa was in die skuur, en nadat my ma hom gaan vra het, het sy die stel van ses dele van Studies in the Scriptures bestel. Sy het die boeke verslind en is diep getref deur die Bybelwaarhede wat sy geleer het. Sy het Deel 6, The New Creation, bestudeer en duidelik verstaan dat Christelike doop deur onderdompeling nodig is. Sy het nie geweet waar om die Bybelstudente te vind nie en het dus my pa gevra om haar in die spruitjie op die plaas te doop, hoewel dit die koue maand Maart 1916 was.

Kort daarna het my ma ’n advertensie in die koerant gesien wat ’n toespraak in die “Daughters of Veterans”-saal in Alliance aangekondig het. Die toespraak se titel was “The Divine Plan of the Ages”. Sy het onmiddellik besluit om dit by te woon, aangesien Deel 1 van Studies in the Scriptures dieselfde titel as die toespraak gehad het. Die perdekarretjie is ingespan, en ons hele gesin het daarmee na ons eerste vergadering toe gegaan. Van toe af het ons die vergaderinge op ’n Sondag- en ’n Woensdagaand in die huise van die broers bygewoon. Kort daarna is my ma weer gedoop deur ’n verteenwoordiger van die Christengemeente. My pa, wat altyd met plaaswerk besig was, het uiteindelik daarin begin belangstel om die Bybel te studeer, en hy is ’n paar jaar later gedoop.

Ons ontmoet dié wat die leiding neem

Op 10 Junie 1917 het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Alliance besoek om ’n toespraak te hou oor die onderwerp: “Waarom voer die nasies oorlog?” Ek was nege jaar oud en het dit saam met my ouers en my twee broers, Willie en Charles, bygewoon. ’n Groep van meer as honderd was teenwoordig. Ná broer Rutherford se toespraak is daar buite die Columbia-teater, waar sy toespraak gehou is, ’n foto geneem van die meeste van ons wat daar was. Die volgende week het A. H. Macmillan in dieselfde teater ’n toespraak oor “God se komende koninkryk” gehou. Dit was vir ons ’n voorreg dat hierdie broers ons klein dorpie besoek het.

Onvergeetlike vroeë streekbyeenkomste

Die eerste streekbyeenkoms wat ek bygewoon het, was in 1918 in Atwater, Ohio, ’n paar kilometer van Alliance af. My ma het die Genootskap se verteenwoordiger daar gevra of ek oud genoeg is om gedoop te word. Ek het gevoel dat my toewyding aan God om sy wil te doen geldig was, en ek is dus toegelaat om daardie dag in ’n spruitjie naby ’n groot appelboord gedoop te word. Ek het in ’n tent verklee wat die broers vir daardie doel opgeslaan het en is in ’n ou, swaar nagrok gedoop.

In September 1919 het ek en my ouers met die trein na Sandusky, Ohio, langs die Erie-meer, gereis. Daar het ons met ’n veerboot oorgevaar en ’n rukkie later in Cedar Point aangekom waar ons onvergeetlike streekbyeenkoms gehou sou word. Toe ons van die boot afklim, was daar ’n klein kosstalletjie op die dokke. Ek het ’n hamburger gekry, wat in daardie dae vir my werklik ’n luukse was. Dit was só lekker! Die opkomshoogtepunt vir ons agt dae lange byeenkoms was 7 000. Daar was geen luidsprekerstelsel nie, en daarom moes ek baie mooi luister.

By hierdie streekbyeenkoms is die medetydskrif van Die Wagtoring met die titel The Golden Age (nou Ontwaak!) vrygestel. Ek het die eerste week van die skool af weggebly om daardie byeenkoms by te woon, maar dit was beslis die moeite werd. Cedar Point was ’n vakansieoord, en hulle het kokke by die restaurant gehad wat maaltye vir die byeenkomsgangers voorberei het. Maar om die een of ander rede het die kokke en kelnerinne gestaak, en Christenbroers wat geweet het hoe om kos te maak, het dus ingespring en vir die byeenkomsgangers kos gemaak. Jehovah se volk het baie dekades daarna nog hulle eie maaltye by kring- en streekbyeenkomste voorberei.

Ons het ook die voorreg gehad om weer in September 1922 na Cedar Point te gaan vir ’n negedaagse streekbyeenkoms waar daar ’n opkomshoogtepunt van meer as 18 000 was. Dit is waar broer Rutherford ons aangespoor het: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” Ek het egter al ’n paar jaar vroeër aan die bediening begin deelneem deur traktate en The Golden Age te versprei.

Waardering vir die bediening

Vroeg in 1918 het ek ’n aandeel daaraan gehad om die traktaat The Fall of Babylon by nabygeleë plase af te lewer. Weens die koue het ons ’n seepsteen op die koolstoof warm gemaak en dit saamgeneem in die perdekarretjie om ons voete warm te hou. Ons het dik jasse en hoede gedra, aangesien die perdekarretjie net gordyne bo en aan die kante gehad het, maar nie ’n verwarmer nie. Maar dit was heerlike tye.

In 1920 is ’n spesiale uitgawe van The Finished Mystery, wat ZG genoem is, in die vorm van ’n tydskrif uitgegee.a Ek en my ouers het hierdie publikasie in Alliance versprei. In daardie dae het almal alleen na die deure toe gegaan, en daarom was ek skrikkerig toe ek met die trappe opgegaan het na ’n stoep waar ’n paar mense gesit het. Nadat ek my aanbieding gedoen het, het een vrou gesê: “Praat sy nie mooi nie?” en die publikasie geneem. Ek het daardie dag 13 ZG’s versprei, en dit was die eerste keer dat ek ’n langer, formele aanbieding van huis tot huis gedoen het.

Toe ek in graad nege was, het my ma longontsteking opgedoen en was sy meer as ’n maand lank in die bed. My jongste sussie, Hazel, was ’n babatjie en daarom het ek die skool verlaat om met die plaaswerk te help en na die kinders om te sien. Ons gesin het Bybelwaarheid nietemin ernstig opgeneem, en ons het al die gemeentelike vergaderinge gereeld bygewoon.

By die herdenking van Christus se dood in 1928 is ’n traktaat met die titel “Where Are the Nine?” vir almal in die gehoor gegee. Dit het Lukas 17:11-19 bespreek, waar die Bybel sê dat net een van tien gereinigde melaatses Jesus nederig bedank het omdat hy wonderdadig genees is. Dit het my hart geraak. Ek het my afgevra: ‘Hoe dankbaar is ek?’

Aangesien dit toe goed gegaan het by die huis en ek gesond was en geen verantwoordelikhede gehad het nie, het ek besluit om die huis te verlaat en pionierdiens, soos die voltydse bediening genoem word, te begin doen. My ouers het my aangemoedig om dit te doen. Ek en my pioniermaat, Agnes Aleta, het dus ons toewysing ontvang, en op 28 Augustus 1928 het ons 9:00 nm. op ’n trein geklim. Ons het elkeen net een tas gehad en ’n boeksak om ons Bybellektuur te dra. By die stasie het my susters en my ouers gehuil, en ons het ook. Ek het gedink ek sal hulle dalk nooit weer sien nie, aangesien ons geglo het dat Armageddon naby was. Die volgende oggend het ons by ons toewysing in Brooksville, Kentucky, aangekom.

Ons het ’n kamertjie in ’n losieshuis gehuur en blikkies spaghetti gekoop en ook vir ons toebroodjies gemaak. Elke dag het ons in ’n verskillende rigting geloop, alleen gewerk en vyf boeke by huisbewoners aangebied teen ’n bydrae van $1,98. Ons het geleidelik die dorp gedek en baie mense ontmoet wat baie in die Bybel belanggestel het.

Binne ongeveer drie maande het ons almal in en om Brooksville sowel as Augusta besoek. Ons het dus verder getrek en die dorpe Maysville, Paris en Richmond deurgewerk. Gedurende die daaropvolgende drie jaar het ons baie distrikte in Kentucky gedek waar daar geen gemeentes was nie. Vriende en familielede van Ohio het ons dikwels ondersteun deur ’n week of meer op ’n slag saam met ons in die bediening te kom werk.

Ander onvergeetlike streekbyeenkomste

Die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, van 24-30 Julie 1931, was beslis onvergeetlik. Dit is waar daar aangekondig is dat ons deur die Bybelse naam Jehovah se Getuies geïdentifiseer sou word (Jesaja 43:12, NW). As mense voor daardie tyd vir ons gevra het aan watter godsdiens ons behoort, het ons gesê: “Ons is Internasionale Bybelstudente”. Maar dit het ons nie werklik baie goed onderskei van ander godsdienste nie, aangesien daar Bybelstudente was wat met verskeie ander godsdiensgroepe geaffilieer was.

My pioniermaat, Agnes, is intussen getroud en ek was alleen; ek was dus baie opgewonde toe daar aangekondig is dat diegene wat ’n pioniermaat soek by ’n sekere plek moet gaan aanmeld. Daar het ek Bertha en Elsie Garty en Bessie Ensminger ontmoet. Hulle het twee motors gehad en het ’n vierde pioniersuster gesoek om saam met hulle te werk. Ons het saam van die streekbyeenkoms af vertrek, al het ons mekaar glad nie geken nie.

In die somer het ons die staat Pennsilvanië deurgewerk. Toe dit begin winter word, het ons toewysings in die warmer suidelike state Noord-Carolina, Virginië en Maryland gevra. In die lente het ons na die noorde teruggekeer. Dit was destyds die pioniers se gebruik. In 1934 het John Booth en Rudolph Abbuhl, wat hierdie gebruik gevolg het, vir Ralph Moyer en sy jonger broer Willard saam met hulle na Hazard, Kentucky, geneem.

Ek het Ralph al ’n paar keer ontmoet, en ons het mekaar beter leer ken gedurende die groot streekbyeenkoms in Washington, DC, wat van 30 Mei–3 Junie 1935 gehou is. Ek en Ralph het saam op die galery gesit toe die toespraak oor die “groot skare” gehou is (Openbaring 7:9-14). Ons het tot daardie tyd nog geglo dat die groot skare lede van ’n hemelse klas was wat nie so getrou soos die 144 000 was nie (Openbaring 14:1-3). Ek wou dus nie een van hulle wees nie!

Toe broer Rutherford verduidelik het dat die groot skare ’n aardse klas van getroue Armageddon-oorlewendes is, was baie in die gehoor verbaas. Toe het hy almal wat deel van die groot skare was, gevra om te staan. Wel, ek het nie gestaan nie, maar Ralph het. Later het die saak vir my duideliker geword. Derhalwe was 1935 die laaste jaar dat ek die embleme, die brood en die wyn, by die herdenking van Christus se dood gebruik het. Maar my ma het voortgegaan om die embleme tot haar dood in November 1957 te gebruik.

’n Huweliksmaat

Ek en Ralph het aangehou om vir mekaar te skryf. Ek het in Lake Placid, New York, gedien en hy was in Pennsilvanië. In 1936 het hy ’n klein karavaan gebou wat hy met sy motor kon sleep. Hy het dit van Pottstown, Pennsilvanië, na Newark, New Jersey, gesleep vir die streekbyeenkoms wat van 16-18 Oktober daar gehou is. Ná die program die een aand het ’n hele paar van ons pioniers na Ralph se nuwe karavaan gaan kyk. Ek en hy het in die karavaan by die klein ingeboude opwasbak gestaan toe hy gevra het: “Hou jy van die karavaan?”

Toe ek my kop geknik het, het hy gevra: “Wil jy in die karavaan bly?”

“Ja”, het ek geantwoord, en hy het my ’n teer soen gegee wat ek nooit sal vergeet nie. ’n Paar dae later het ons ’n troulisensie gekry. Op 19 Oktober, die dag ná die streekbyeenkoms, het ons Brooklyn besoek en op ’n toer van die Wagtoringgenootskap se drukkery gegaan. Toe het ons vir ’n gebiedstoewysing gevra. Grant Suiter was in beheer van die gebied, en hy het gevra wie daar gaan werk. Ralph het gesê: “Ons sal, as ons kan trou.”

“As julle vanmiddag om 5:00 terugkom, kan ons dit reël”, het broer Suiter geantwoord. Só is ons dan daardie aand in die huis van ’n Getuie in Brooklyn Heights getroud. Ons het saam met ’n paar vriende by ’n restaurant daar naby gaan eet en toe met openbare vervoer na Ralph se karavaan in Newark, New Jersey, gereis.

Kort daarna was ons op pad na Heathsville, Virginië, ons eerste pioniertoewysing saam. Ons het in die distrik Northumberland gewerk en toe verder gegaan na die distrikte Fulton en Franklin in Pennsilvanië. In 1939 is Ralph genooi om sonewerk te doen, wat behels het dat ons ’n aantal gemeentes om die beurt besoek het. Ons het gemeentes in die staat Tennessee bedien. Die volgende jaar is ons seun, Allen, gebore, en in 1941 is die sonewerk beëindig. Ons is toe as spesiale pioniers na Marion, Virginië, gestuur. In daardie dae het dit beteken dat ons 200 uur per maand in die bediening moes deurbring.

Ons maak aanpassings

In 1943 het ek gevoel dat ek nie meer as ’n spesiale pionier kon dien nie. Aangesien ons in ’n klein karavaan gewoon het en ek na ’n klein kindjie moes omsien, kos moes maak en ons klere skoon moes hou, kon ek net sowat 60 uur elke maand aan die bediening wy. Maar Ralph het bly dien as ’n spesiale pionier.

Ons het in 1945 na Alliance, Ohio, teruggetrek, die karavaan, wat nege jaar lank ons tuiste was, verkoop en saam met my ouers in die plaashuis ingetrek. Dit was daar, in die voorste stoepkamer, dat ons dogter, Rebekah, gebore is. Ralph het deeltydse werk in die dorp begin doen en as ’n gewone pionier bly dien. Ek het op die plaas gewerk en gedoen wat ek kon om hom te help sodat hy in die pionierdiens kon bly. Hoewel my familie ons gratis grond en ’n huis aangebied het, het Ralph dit van die hand gewys. Hy wou nie ekstra laste hê nie, sodat ons Koninkryksbelange in ’n groter mate kon nastreef.

In 1950 het ons na Pottstown, Pennsilvanië, getrek, en ’n huis vir die ekwivalent van R25 per maand gehuur. Gedurende die volgende 30 jaar het die huur net na ongeveer R75 opgegaan. Ons het gevoel dat Jehovah ons help om ons lewe eenvoudig te hou (Matteus 6:31-33). Ralph het drie dae per week as ’n haarkapper gewerk. Elke week het ons die Bybel met ons twee kinders gestudeer, die gemeentelike vergaderinge bygewoon en die goeie nuus van die Koninkryk as ’n gesin verkondig. Ralph het as die presiderende opsiener van die plaaslike gemeente gedien. Deur ons lewe eenvoudig te hou, kon ons baie doen in Jehovah se diens.

Verlies van my dierbare maat

Op 17 Mei 1981 het ons in die Koninkryksaal gesit en na ’n openbare toespraak geluister. Ralph het sleg gevoel, agtertoe geloop en vir ’n saalwagter gevra om vir my ’n briefie te bring wat sê dat hy huis toe gaan. Dit was so ongewoon vir Ralph dat ek iemand gevra het om my onmiddellik huis toe te neem. Ralph het binne ’n uur aan ’n hewige beroerte gesterf. Teen die einde van die Wagtoring-studie daardie oggend is daar in die gemeente aangekondig dat hy oorlede is.

Ralph het daardie maand reeds meer as 50 uur in die bediening deurgebring. Sy voltydse loopbaan as ’n pionier het oor meer as 46 jaar gestrek. Hy het Bybelstudies gehou met meer as honderd mense wat uiteindelik gedoopte Getuies van Jehovah geword het. Die geestelike seëninge wat ons ontvang het, het die opofferinge wat ons deur die jare heen gemaak het beslis die moeite werd gemaak.

Dankbaar vir my voorregte

Die afgelope 18 jaar het ek alleen gewoon, vergaderinge bygewoon, vir ander getuig in die mate waarin ek kon en God se Woord bestudeer. Nou woon ek in ’n woonstel in ’n aftree-oord vir bejaardes. Ek besit net ’n paar meubels en verkies om nie ’n televisie te hê nie. Maar ek het ’n vol lewe en ek is geestelik ryk. My ouers en my twee broers was getrou tot hulle dood, en my twee susters volg nog steeds die weg van die waarheid getrou.

Ek is verheug dat my seun, Allen, as ’n Christen- ouer man dien. Hy installeer al baie jare lank die luidsprekerstelsels in Koninkryksale en Byeenkomssale, en hy het al gehelp om die klankstelsel by streekbyeenkomste te installeer. Sy vrou is ’n lojale kneg van God, en hulle twee seuns dien as ouer manne. My dogter, Rebekah Karres, het al meer as 35 jaar in die voltydse bediening deurgebring, insluitende vier jaar by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn. Sy en haar man het die afgelope 25 jaar die reisende werk in verskeie dele van die Verenigde State gedoen.

Jesus het gesê dat die Koninkryk soos ’n verborge skat is wat gevind kan word (Matteus 13:44). Ek is dankbaar dat ons gesin soveel jare gelede daardie skat gevind het. Wat ’n voorreg is dit tog om terug te kyk op 80 jaar van toegewyde diens aan God—sonder dat ek oor enigiets spyt is! As ek my lewe kon oorhê, sou ek dit dieselfde wou hê, want ‘God se goedertierenheid is inderdaad beter as die lewe’.—Psalm 63:4.

[Voetnoot]

a The Finished Mystery was die sewende deel van ’n reeks bundels met die titel Studies in the Scriptures, waarvan die eerste ses deur Charles Taze Russell geskryf is. The Finished Mystery is ná Russell se dood uitgegee.

[Prent op bladsy 23]

Ons het in 1917 na broer Rutherford se toespraak in Alliance, Ohio, geluister

[Prent op bladsy 23]

Saam met Ralph voor die karavaan wat hy gebou het

[Prent op bladsy 24]

Saam met my twee kinders vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel