Wat word van liefdadigheid?
NÁ DIE aanvalle van 11 September 2001 in New York-stad en Washington, DC, was die ondersteuning wat die publiek aan die slagoffers gegee het, absoluut merkwaardig. Liefdadigheidsorganisasies is oorval met donasies van ongeveer R23,7 miljard om die slagoffers se gesinne te help. Geskok deur die omvang van die verwoesting, het mense uit alle oorde hulp aangebied.
Die gemoedstemming onder ’n deel van die publiek het egter gou verander toe vooraanstaande liefdadigheidsorganisasies daarvan beskuldig is dat hulle fondse misbruik. Mense was woedend toe daar berig is dat ’n groot liefdadigheidsorganisasie beplan om bykans die helfte van die R4,4 miljard wat hulle ontvang het, terug te hou en dit vir ander doeleindes te gebruik. Hoewel die organisasie later van besluit verander en verskoning gevra het, het ’n verslaggewer gesê: “Kritici beskou hierdie nuwe wending as ’n dag te laat en ’n dollar te min om die vertroue te herstel” wat hulle voor die aanvalle geniet het. Wat van jou? Is jou vertroue in liefdadigheidsorganisasies onlangs geskok?
Nuttig of ’n verkwisting?
Dit word oor die algemeen as prysenswaardig beskou om vir liefdadigheid te gee. Maar nie almal voel so nie. Meer as 200 jaar gelede het Samuel Johnson, die Engelse skrywer, hierdie woorde neergepen: “’n Mens is soveel sekerder dat jy iets goeds doen wanneer jy vir mense wat werk, geld gee as vergoeding vir hulle arbeid, as wanneer jy geld bloot vir liefdadigheid gee.” Vandag het sommige mense soortgelyke bedenkinge, en berigte van die misbruik en wanbesteding van donasies deur liefdadigheidsorganisasies help nie juis om die publiek se vertroue te wen nie. Beskou twee onlangse voorbeelde.
’n Direkteur van ’n godsdienstige liefdadigheidsorganisasie in San Francisco is afgedank nadat hy glo oor ’n tydperk van twee jaar sy agentskap se fondse gebruik het vir sy plastiese chirurgie en om sy restaurantrekening van R4 400 per week te betaal. In Brittanje het die organiseerders van ’n groot liefdadigheidsgeleentheid wat oor die televisie aangebied is, in die verleentheid gekom toe ontdek is dat daar net 12 substandaard huise gebou is met die sowat R92 miljoen wat ingestuur is om nuwe weeshuise in Roemenië te bou, en daar kon van miljoene rande nie rekenskap gegee word nie. Ongunstige verslae soos dié het party skenkers heel tereg twee keer laat dink oor hoeveel hulle moet bydra en vir wie.
Om te gee of nie
Dit sal egter jammer wees as ons toelaat dat die dade van ’n paar individue of organisasies ons verhinder om opregte besorgdheid oor ander en medelye met hulle te betoon. Die Bybel sê: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien” (Jakobus 1:27). Ja, daadwerklike besorgdheid oor die armes en minderbevoorregtes is ’n integrerende deel van die Christelike godsdiens.
Nietemin wonder jy dalk: ‘Moet ek aanhou om vir liefdadigheid te gee, of moet ek bloot probeer help deur direk vir individue te gee?’ Op watter maniere verwag God dat ons aan ander moet gee? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.