Manne van nederige herkoms vertaal die Bybel
IN 1835 het Henry Nott, ’n messelaar van Engeland, en John Davies, ’n Walliese winkelassistent, die einde van ’n enorme projek bereik. Nadat hulle meer as 30 jaar lank geswoeg het, het hulle uiteindelik ’n vertaling van die hele Bybel in Tahitiaans voltooi. Voor watter uitdagings het hierdie twee manne van nederige herkoms te staan gekom, en wat was die resultate van hulle liefdeswerk?
“Die Groot Ontwaking”
In die tweede helfte van die 18de eeu het lede van ’n Protestantse beweging wat die Groot Ontwaking, of net die Ontwaking, genoem is, op dorpspleine en naby myne en fabrieke in Brittanje gepreek. Hulle doel was om die werkersklas te bereik. Die Ontwaking se predikers het die verspreiding van die Bybel geesdriftig bevorder.
’n Baptis met die naam William Carey, wat die beweging begin het, het bygedra tot die stigting van die Londense Sendinggenootskap (LMS) in 1795. Die LMS het mense opgelei wat bereid was om die tale van die Stille Suidsee te leer en daar as sendelinge te dien. Die doel van hierdie sendelinge was om die Evangelie in die taal van die plaaslike mense te verkondig.
Die eiland Tahiti, wat kort tevore ontdek is, het die LMS se eerste sendingveld geword. Vir lede van die Ontwaking was hierdie eilande ‘donker plekke’ van die heidendom, plekke wat gereed was om geoes te word.
Mense uit ’n nederige agtergrond stel hulle beskikbaar
Om die oes in te samel, het omtrent 30 sendelinge wat haastig gekies en heeltemal onvoorbereid was, aan boord van die Duff gegaan, ’n skip wat deur die LMS gekoop is. Volgens ’n verslag was daar “vier toegewyde pastore [sonder formele opleiding], ses skrynwerkers, twee skoenmakers, twee messelaars, twee wewers, twee kleremakers, ’n winkelier, ’n saalmaker, ’n bediende, ’n tuinier, ’n dokter, ’n smid, ’n kuiper, ’n katoenfabrikant, ’n hoedemaker, ’n lakenfabrikant, ’n meubelmaker, vyf eggenote en drie kinders”.
’n Grieks-Engelse woordeboek en ’n Bybel met ’n Hebreeuse woordeboek was die enigste hulpmiddele wat hierdie sendelinge tot hulle beskikking gehad het om met die oorspronklike Bybeltale vertroud te raak. Gedurende die sewe maande op see het die sendelinge ’n paar Tahitiaanse woorde gememoriseer wat deur vorige besoekers neergeskryf is, hoofsaaklik deur die muiters van die Bounty. Uiteindelik het die Duff Tahiti bereik, en op 7 Maart 1797 het die sendelinge voet aan wal gesit. Maar ’n jaar later was die meeste ontmoedig en het hulle die eiland verlaat. Slegs sewe sendelinge het agtergebly.
Een van die sewe, Henry Nott, wat vroeër ’n messelaar was, was maar 23 jaar oud. Te oordeel aan sy eerste briewe het hy net ’n basiese opvoeding gehad. Hy het nietemin uit die staanspoor getoon dat hy die vermoë het om Tahitiaans baas te raak. Hy is beskryf as ’n opregte, gemaklike en aangename mens.
In 1801 is Nott gekies om Tahitiaans vir nege sendelinge te leer wat kort tevore by hulle aangesluit het. Onder hulle was die 28-jarige Wallieser John Davies, ’n goeie student en harde werker met ’n sagmoedige en ’n vrygewige geaardheid. Kort voor lank het hierdie twee manne besluit om die Bybel in Tahitiaans te vertaal.
’n Ontsaglike taak
Dit was egter ’n ontsaglike taak om vertaalwerk in Tahitiaans te doen, aangesien dit nog nie ’n geskrewe taal was nie. Die enigste manier waarop die sendelinge dit kon leer, was deur daarna te luister. Hulle het nie ’n woordeboek of ’n grammatikaboek gehad nie. Die ruisende klanke van die taal wat deur stembandkonsonante onderbreek word, die tallose opeenvolgende vokale (tot vyf in een woord) en die min konsonante het die sendelinge se moed gebreek. “Baie woorde bestaan slegs uit vokale, en elkeen het ’n klank”, het hulle gekla. Hulle het erken dat hulle nie in staat was “om die klanke van die woorde te onderskei met die akkuraatheid wat nodig was nie”. Hulle het selfs gedink dat hulle klanke hoor wat nie bestaan nie!
Om sake te vererger, is sommige woorde in Tahitiaans van tyd tot tyd verbied en moes dit dus vervang word. Sinonieme was nog iets wat ’n kopseer veroorsaak het. Vir die woord “gebed” was daar meer as 70 terme in Tahitiaans. Die Tahitiaanse sintaksis, wat geheel en al van Engels verskil, het nog ’n uitdaging gebied. Ondanks die probleme het die sendelinge stadig maar seker ’n woordelys saamgestel wat Davies uiteindelik 50 jaar later as ’n woordeboek met 10 000 inskrywings uitgegee het.
Dan was daar die uitdaging om Tahitiaans te skryf. Die sendelinge het dit deur middel van die gevestigde Engelse spelwyse probeer doen. Die Engelse gebruik van die Latynse alfabet het egter nie by die Tahitiaanse klanke gepas nie. Dit het tot eindelose besprekings oor fonetiek en spelling gelei. Die sendelinge het dikwels nuwe spelwyses geskep, aangesien hulle die eerstes in die Suidsee was om ’n gesproke taal in ’n geskrewe vorm oor te sit. Min het hulle geweet dat hulle werk later ’n voorbeeld vir baie van die tale van die Stille Suidsee sou wees.
Min hulpmiddele, maar groot vindingrykheid
Die vertalers het slegs ’n paar naslaanwerke tot hulle beskikking gehad. Die LMS het gesê dat hulle die Textus Receptus en die King James Version as basiese teks moet gebruik. Nott het die LMS gevra om vir hom nog woordeboeke in Hebreeus en Grieks te stuur, asook Bybels in albei tale. Dit is nie bekend of hy ooit daardie boeke ontvang het nie. Wat Davies betref, hy het ’n paar vakkundige boeke van Walliese vriende ontvang. Volgens verslae het hy ten minste ’n Griekse woordeboek, ’n Hebreeuse Bybel, ’n Nuwe Testament in Grieks en die Septuagint gehad.
Intussen het die predikingsbedrywighede van die sendelinge geen resultate opgelewer nie. Hoewel die sendelinge reeds 12 jaar in Tahiti was, is nie eens een plaaslike inwoner gedoop nie. Uiteindelik het voortdurende burgeroorloë al die sendelinge, buiten die vasberade Nott, na Australië laat vlug. Hy was ’n tyd lank die enigste sendeling wat oorgebly het op die Bowindse Eilande, deel van die Genootskapseilande, maar hy moes koning Pomare II volg toe dié na die nabygeleë eiland Moorea gevlug het.
Toe Nott weggetrek het, het die vertaalwerk egter nie tot ’n einde gekom nie, en nadat Davies twee jaar in Australië deurgebring het, het hy weer by Nott aangesluit. Intussen het Nott hom op ’n studie van Grieks en Hebreeus toegelê en daardie tale onder die knie gekry. Gevolglik het hy sekere dele van die Hebreeuse Geskrifte in Tahitiaans begin vertaal. Hy het Skrifgedeeltes gekies wat verhale bevat het waarmee die plaaslike mense hulle maklik kon vereenselwig.
Nott, wat ten nouste met Davies saamgewerk het, het toe die Evangelie van Lukas begin vertaal, wat in September 1814 voltooi is. Hy het ’n vertaling saamgestel wat in Tahitiaans natuurlik geklink het, terwyl Davies die vertaling met die oorspronklike teks vergelyk het. In 1817 het koning Pomare II gevra of hy persoonlik die eerste bladsy van die Evangelie van Lukas kon druk. Hy het dit op ’n klein handpers gedoen wat deur sendelinge na Moorea gebring is. Die verhaal van die Tahitiaanse vertaling van die Bybel sal onvolledig wees sonder ’n verwysing na ’n getroue Tahitiaan met die naam Tuahine, wat deur die jare heen saam met die sendelinge was en hulle gehelp het om die nuanses van die taal te verstaan.
Die vertaling word voltooi
In 1819, ná ses jaar se harde werk, is die vertaling van die Evangelies, die Handelinge van die Apostels en die boek Psalms voltooi. ’n Drukpers, wat deur sendelinge saamgebring is wat kort tevore daar opgedaag het, het die druk en verspreiding van hierdie Bybelboeke vergemaklik.
’n Tydperk van intensiewe vertaal-, proeflees- en hersienwerk het gevolg. Nadat Nott 28 jaar lank in Tahiti gewoon het, het hy in 1825 siek geword, en die LMS het hom toegelaat om per skip na Engeland terug te keer. Gelukkig was die vertaling van die Griekse Geskrifte teen daardie tyd byna voltooi. Hy het voortgegaan om die res van die Bybel te vertaal gedurende sy reis na Engeland en tydens sy verblyf daar. Nott het in 1827 na Tahiti teruggekeer. Agt jaar later, in Desember 1835, het hy sy pen neergelê. Ná meer as 30 jaar se harde werk is die hele Bybel vertaal.
In 1836 is Nott terug na Engeland om die volledige Bybel in Tahitiaans in Londen te laat druk. Op 8 Junie 1838 het ’n trotse Nott die eerste gedrukte uitgawe van die Bybel in Tahitiaans aan koningin Victoria oorhandig. Dit was natuurlik ’n baie emosionele oomblik vir die gewese messelaar wat 40 jaar vroeër op die Duff vertrek het en hom in die Tahitiaanse kultuur verdiep het sodat hy hierdie ontsaglike lewenstaak kon voltooi.
Twee maande later was Nott op pad terug na die Stille Suidsee met 27 kratte wat die eerste 3 000 eksemplare van die volledige Bybel in Tahitiaans bevat het. Nadat hy by Sydney aangedoen het, het hy weer siek geword, maar geweier om van die kosbare vrag geskei te word. Ná sy herstel het hy in 1840 in Tahiti aangekom, waar die mense sy vrag feitlik bestorm het in ’n poging om ’n Tahitiaanse Bybel te kry. Nott is in Mei 1844 op die ouderdom van 70 oorlede.
Verreikende gevolge
Nott se werk het egter voortgeleef. Sy vertaling het ’n verreikende uitwerking op Polinesiese tale gehad. Deur Tahitiaans in ’n geskrewe vorm oor te sit, het die sendelinge daardie taal behoue laat bly. Een skrywer het gesê: “Nott het die klassieke grammatikale Tahitiaans vasgestel. ’n Mens sal altyd die Bybel moet raadpleeg om Tahitiaans in sy suiwerste vorm te leer.” Die onvermoeide werk van hierdie vertalers het verseker dat duisende woorde bewaar is. ’n Eeu later het een skrywer gesê: “Die merkwaardige Tahitiaanse Bybel van Nott is die meesterstuk van die Tahitiaanse taal—almal is dit hiermee eens.”
Hierdie belangrike werk was nie net tot voordeel van die Tahitiane nie, maar is ook as ’n grondslag gebruik vir ander vertalings in tale van die Stille Suidsee. Vertalers op die Cook-eilande en Samoa het dit as ’n voorbeeld gebruik. “Ek het hoofsaaklik mnr. Nott se vertaling gevolg, wat ek noukeurig bestudeer het”, het een vertaler gesê. ’n Ander vertaler het glo ‘die Hebreeuse Psalmboek en die Engelse en Tahitiaanse weergawes daarvan voor hom gehad’ toe hy ‘een van Dawid se Psalms in Samoaans vertaal het’.
Die sendelinge in Tahiti het die voorbeeld van lede van die Ontwaking in Engeland gevolg en geesdriftig geletterdheid bevorder. Trouens, die Bybel was meer as ’n eeu lank die enigste boek wat vir die Tahitiaanse bevolking beskikbaar was. Dit het dus ’n onmisbare deel van die Tahitiaanse kultuur geword.
Die feit dat God se naam so dikwels in die Hebreeuse en Griekse Geskrifte voorkom, is een van die beste kenmerke van die Nott-vertaling. Gevolglik is Jehovah se naam vandag welbekend in Tahiti en die omliggende eilande. Dit verskyn selfs op sommige Protestantse kerke. Maar God se naam word nou hoofsaaklik geassosieer met Jehovah se Getuies en hulle ywerige predikingsbedrywighede waarin hulle goed gebruik maak van die Tahitiaanse Bybel wat deur Nott en sy medewerkers vertaal is. En die onvermoeide pogings van vertalers soos Henry Nott herinner ons aan hoe dankbaar ons moet wees dat God se Woord vandag vir die grootste deel van die mensdom vryelik beskikbaar is.
[Prente op bladsy 26]
Eerste vertalings van die Bybel in Tahitiaans, 1815. Jehovah se naam verskyn daarin
Henry Nott (1774-1844), die hoofvertaler van die Tahitiaanse Bybel
[Erkennings]
Tahitiaanse Bybel: Copyright the British Library (3070.a.32); Henry Nott en brief: Collection du Musée de Tahiti et de ses Îles, Punaauia, Tahiti; katkisasieboek: With permission of the London Missionary Society Papers, Alexander Turnbull Library, Wellington, New Zealand
[Prent op bladsy 28]
Tahitiaans-Walliese katkisasieboek van 1801, waarin God se naam verskyn
[Erkenning]
With permission of the London Missionary Society Papers, Alexander Turnbull Library, Wellington, New Zealand
[Prent op bladsy 29]
Protestantse kerk met Jehovah se naam voor op, die eiland Huahine, Frans-Polinesië
[Erkenning]
Avec la permission du Pasteur Teoroi Firipa