Jongmense, wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is
PARTY jong Christene moes tydelik van hulle gesin en hulle tuisgemeente af weggaan. Sommige het dit gedoen om hulle bediening uit te brei. Ander moes van die huis af weggaan as gevolg van hulle neutrale standpunt ten opsigte van hierdie wêreld se aangeleenthede (Jesaja 2:4; Johannes 17:16). In sekere lande het “die keiser” jongmense wat hulle onkreukbaarheid handhaaf, tot tronkstraf of gemeenskapsdiens gevonnis.a—Markus 12:17; Titus 3:1, 2.
Terwyl hierdie jongmense weens hulle neutrale standpunt tronkstraf uitdien, moet hulle soms noodgedwonge lang tye saam met wetsoortreders deurbring. Jongmense wat om ander redes weg van die huis af is, moes eweneens in ’n onheilsame milieu werk. Hoe kan hierdie jong Christene of ander wat hulle noodgedwonge in so ’n situasie bevind, die druk en eise wat daarmee gepaardgaan, met welslae die hoof bied terwyl hulle daarna streef om altyd ‘te wandel op ’n wyse wat God waardig is’? (1 Tessalonisense 2:12). Hoe kan hulle ouers hulle help om voorbereid te wees op enige onaangename omstandighede waarvoor hulle moontlik te staan sal kom?—Spreuke 22:3.
Spesifieke uitdagings
“Dit was moeilik en skrikwekkend om ver te wees van die beskermende sorg van my ouers en die liefdevolle toesig van die ouer manne wat my goed geken het”, sê die 21-jarige Tákis, wat 37 maande weg van die huis af moes deurbring.b Hy voeg by: “Soms het ek baie kwesbaar gevoel.” Die 20-jarige Pétros was meer as twee jaar weg van die huis af. Hy erken: “Vir die eerste keer in my lewe moes ek besluite oor vermaak en vriende heeltemal op my eie neem, en dit was nie altyd wyse besluite nie.” Dan sê hy: “Soms het die groter verantwoordelikheid wat groter vryheid meegebring het, my senuweeagtig laat voel.” Tássos, ’n Christen- ouer man wat gereelde kontak met Christenjongmense in dié situasie het, het gesê: “Die vuil taal, opstandige gees en gewelddadige gedrag van ongelowige portuurs kan ’n invloed op niksvermoedende, kwesbare jongmense hê.”
Jong Christene wat woon en werk saam met mense wat geen respek vir Bybelbeginsels het nie, moet waak teen die versoeking om hulle portuurs se onsedelike en onskriftuurlike weë te volg (Psalm 1:1; 26:4; 119:9). Dit lyk miskien moeilik om by ’n goeie roetine van persoonlike studie, vergaderingbywoning en velddiens te bly (Filippense 3:16). Dit is dalk ook nie maklik om geestelike doelwitte te stel en dit na te streef nie.
Getroue Christenjongmense wil beslis Jehovah behaag in hulle gedrag en spraak. Hulle probeer getrou die liefdevolle uitnodiging van hulle hemelse Vader gehoorsaam: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spreuke 27:11). Hulle besef dat hulle voorkoms en gedrag ’n invloed op mense se beskouing van Jehovah en sy knegte het.—1 Petrus 2:12.
Dit is prysenswaardig dat die meeste van hierdie jongmense hulle bes doen om soos hulle eerste-eeuse broers te wees vir wie die apostel Paulus gebid het: “Wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk . . . om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde” (Kolossense 1:9-11). Die Bybel gee ’n hele paar voorbeelde van godvresende jongmense wat met welslae gewandel het op ’n wyse wat God waardig is, al het hulle hulle in ’n vreemde, vyandige en afgodiese milieu bevind.—Filippense 2:15.
“Jehovah was met Josef”
Toe Josef, die geliefde seun van Jakob en Ragel, nog baie jonk was, het hy hom ver van die beskermende sorg van sy godvresende vader bevind. Hy is as slaaf in Egipte verkoop. Josef het ’n uitstekende voorbeeld gestel as ’n hardwerkende, betroubare jong man met goeie sedes. Al was hy ’n slaaf van Potifar—iemand wat Jehovah nie aanbid het nie—was Josef pligsgetrou en vlytig, sodat sy heer hom uiteindelik oor sy hele huishouding aangestel het (Genesis 39:2-6). Josef het sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf, en toe dit hom in die tronk laat beland het, het hy nie tot die slotsom gekom: “Van watter nut is dit tog?” nie. Selfs in die tronk het hy goeie eienskappe aan die dag gelê, en hy is kort voor lank baie verantwoordelikhede in die tronk gegee (Genesis 39:17-22). God het hom geseën, en soos Genesis 39:23 sê: “Jehovah was met Josef.”
Hoe maklik sou dit tog gewees het vir Josef, wat ver van sy godvresende gesin af was, om soos die heidene om hom te word en die onsedelike Egiptiese lewenswyse te begin navolg! Maar hy het eerder getrou by godvrugtige beginsels gebly en sy rein posisie ten spyte van die kragtigste versoekings behou. Toe Potifar se vrou herhaaldelik by hom aangedring het om geslagsomgang met haar te hê, was sy besliste antwoord: “Hoe kan ek . . . hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Genesis 39:7-9.
Vandag moet jong Getuies die Bybel se waarskuwings teen slegte omgang, onsedelike vermaak, pornografie en verderflike musiek gehoorsaam. Hulle besef dat ‘die oë van Jehovah op elke plek is en op die slegtes en die goeies let’.—Spreuke 15:3.
Moses het die “genieting van sonde” vermy
Moses het in die afgodiese en genotsugtige milieu van Farao se hof grootgeword. Die Bybel sê van hom: “Deur geloof het Moses . . . geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word en verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê.”—Hebreërs 11:24, 25.
Vriendskap met die wêreld kan sekere voordele inhou, maar dit is bloot tydelik. Dit kan maar net so lank duur as die tydjie wat hierdie wêreld nog oorhet (1 Johannes 2:15-17). Sal dit nie beter wees om die voorbeeld van Moses te volg nie? Die Bybel sê dat hy “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Hy het sy gedagtes gerig gehou op die geestelike erfenis van sy godvresende voorvaders. Hy het Jehovah se voorneme sy voorneme in die lewe gemaak en die uitvoering van God se wil altyd eerste probeer stel.—Eksodus 2:11; Handelinge 7:23, 25.
As godvresende jongmense hulle in ’n onheilsame, vyandige milieu bevind, kan hulle hulle persoonlike verhouding met Jehovah deur persoonlike studie versterk en “die Onsigbare” beter leer ken. ’n Vol program van Christelike bedrywighede, wat gereelde vergaderingbywoning en velddiens insluit, sal hierdie jongmense help om hulle gedagtes op geestelike dinge gerig te hou (Psalm 63:6; 77:12). Hulle moet daarna streef om ’n sterk geloof en hoop soos dié van Moses op te bou. Hulle moet Jehovah in ag neem in alles wat hulle dink en doen, bly om sy vriend te wees.
Sy het haar tong gebruik om God te loof
Nog ’n jong persoon wat ’n goeie voorbeeld gestel het terwyl sy weg van die huis af was, is die Israelitiese meisie wat deur die Siriërs gevange geneem is in die dae van God se profeet Elisa. Sy het die diensmeisie geword van die vrou van Naäman, ’n Siriese leërhoof wat melaats was. Hierdie meisie het vir haar meesteres gesê: “Was my heer tog maar voor die profeet wat in Samaria is! Dan sou hy hom van sy melaatsheid genees.” Weens haar getuienis het Naäman na Elisa in Israel gegaan, en hy is van sy melaatsheid gereinig. Wat meer is, Naäman het ’n aanbidder van Jehovah geword.—2 Konings 5:1-3, 13-19.
Die voorbeeld van hierdie meisie beklemtoon hoe belangrik dit vir jongmense is om hulle tong te gebruik om God te vereer, selfs wanneer hulle weg van hulle ouers af is. Sê nou daardie meisie het gehou van “dwase praatjies” of “onwelvoeglike skertsery”. Sou sy die vrymoedigheid gehad het om haar tong so goed te gebruik toe die geleentheid hom voorgedoen het? (Efesiërs 5:4; Spreuke 15:2). Níkos, ’n jong man in sy vroeë twintigerjare wat in die tronk was weens sy neutrale standpunt, sê: “Toe ek saam met ander jong broers in ’n landboutronk was, weg van ons ouers en die gemeente se gesag, het ek opgemerk dat ons spraak agteruitgaan. Dit het beslis nie lof aan Jehovah gebring nie.” Gelukkig is Níkos en ander gehelp om ag te slaan op Paulus se raad in dié verband: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam.”—Efesiërs 5:3.
Jehovah was vir hulle ’n werklike persoon
Die ondervinding van Daniël se drie Hebreeuse metgeselle in eertydse Babilon bevestig die waarheid van die beginsel wat Jesus gemeld het, naamlik dat getrouheid in klein dingetjies tot getrouheid in groter dinge lei (Lukas 16:10). Toe hulle te staan gekom het voor die probleem om voedsel te eet wat deur die Wet van Moses verbied is, kon hulle geredeneer het dat hulle gevangenes in ’n vreemde land is en dus geen keuse in die saak het nie. Maar hoe is hulle tog geseën omdat hulle iets wat dalk klein gelyk het, as ernstig beskou het! Hulle was op die ou end gesonder en wyser as al die ander gevangenes wat die koning se lekkernye bly eet het. Getrouheid in hierdie klein dingetjies het hulle ongetwyfeld versterk, sodat hulle getrou gebly het tydens die veel groter toets om voor ’n afgodsbeeld neer te buig.—Daniël 1:3-21; 3:1-30.
Jehovah was beslis ’n werklike persoon vir hierdie drie jong manne. Al was hulle ver van hulle huis en die sentrum van God se aanbidding af, was hulle vasbeslote om nie deur die wêreld besmet te word nie (2 Petrus 3:14). Hulle verhouding met Jehovah was so kosbaar vir hulle dat hulle bereid was om hulle lewe daarvoor op te offer.
Jehovah sal jou nie verlaat nie
Wanneer jongmense weg is van diegene wat hulle liefhet en vertrou, voel hulle begryplikerwys dalk onveilig, onseker en bang. Maar hulle kan hulle toetse en beproewinge die hoof bied met die volkome vertroue dat ‘Jehovah hulle nie sal verlaat nie’ (Psalm 94:14). As hierdie jongmense “ter wille van regverdigheid . . . ly”, is Jehovah daar om hulle te help om “op die pad van regverdigheid” te bly wandel.—1 Petrus 3:14; Spreuke 8:20.
Jehovah het Josef, Moses, die Israelitiese diensmeisie en die drie getroue jong Hebreërs voortdurend versterk en ryklik beloon. Vandag gebruik hy sy heilige gees, sy Woord en sy organisasie om diegene te onderskraag wat “die goeie stryd van die geloof” stry, en hy bied hulle die “ewige lewe” as beloning (1 Timoteus 6:11, 12). Ja, dit is moontlik om te wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is, en dit is beslis die wyse weg om te volg.—Spreuke 23:15, 19.
[Voetnote]
b Van die name is verander.
[Venster op bladsy 25]
OUERS—BEREI JULLE KINDERS VOOR!
“Soos pyle in die hand van ’n sterk man, so is die seuns van die jeug” (Psalm 127:4). ’n Pyl sal nie sy teiken per toeval bereik nie. Dit moet op vaardige wyse gerig word. So ook sal kinders nie voorbereid wees op die werklikhede van die lewe weg van die huis af as hulle ouers hulle nie behoorlike leiding gee nie.—Spreuke 22:6.
Jongmense is geneig om impulsief op te tree of toe te gee aan “die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). Die Bybel waarsku: “Die roede en teregwysing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek” (Spreuke 29:15). As daar nie perke gestel word aan ’n kind se gedrag nie, sal hy onvoorbereid wees op die eise en druk van die lewe weg van die huis af.
Christenouers moet op ’n duidelike en verantwoordelike wyse vir hulle kinders die probleme, druk en werklikhede van die lewe in hierdie stelsel van dinge uitwys. Sonder om pessimisties of negatief te wees, kan hulle die onaangename toestande beskryf waarmee die jong persoon te kampe kan kry as hy weg van die huis af moet woon. Hierdie opleiding, tesame met godgegewe wysheid, sal “aan die onervarenes skerpsinnigheid . . . gee, aan ’n jong man kennis en denkvermoë”.—Spreuke 1:4.
Ouers wat godvrugtige waardes en sedelike beginsels in hulle kinders se harte inskerp, stel hulle in staat om die uitdagings van die lewe die hoof te bied. Gereelde gesinsbybelstudie, openhartige kommunikasie en opregte belangstelling in hulle kinders se welsyn kan die verskil beteken tussen sukses en mislukking. Ouers moet godvrugtige opleiding voorsien op ’n gebalanseerde maar positiewe en redelike wyse, sodat hulle kinders voorbereid kan wees om later in die lewe op hulle eie voete te staan. Deur hulle eie voorbeeld kan ouers hulle kinders leer dat dit wel moontlik is om in die wêreld te wees sonder om deel daarvan te wees.—Johannes 17:15, 16.
[Prent op bladsy 23]
Party jong Christene moes van die huis af weggaan
[Prente op bladsy 24]
Jongmense kan Josef se voorbeeld volg en sedelik rein bly deur versoekings te weerstaan
[Prente op bladsy 26]
Volg die voorbeeld van die Israelitiese diensmeisie wat haar tong gebruik het om Jehovah te vereer