Die soeke na ’n goeie regering
“Die feit dat die wêreld al hoe meer onderling afhanklik is, het gelei tot ’n reeks wêreldomvattende probleme wat individuele state nie meer op hulle eie kan oplos nie. Slegs deur wêreldwye samewerking kan ons die toenemende gevare en uitdagings hanteer waarvoor die mensdom te staan kom.”—Ghulam Umar, Pakistanse politieke ontleder.
VANDAG se wêreld is vol teenstrydighede. Te midde van materiële oorvloed sukkel baie om ’n bestaan te maak. In hierdie rekenaareeu het mense seker meer geleerdheid en kennis as in die verlede, en tog vind al hoe meer dit moeilik om vaste werk te kry. Al lyk dit of mense meer vryheid as ooit tevore het, leef miljoene in ’n atmosfeer van vrees, onveiligheid en onsekerheid. Ons is miskien omring deur aanloklike geleenthede, maar bedrog en wetteloosheid, wat in alle kringe aan die orde van die dag is, het baie met hopeloosheid vervul.
Die omvang van die probleme waarmee die mensdom te kampe het, is so oorweldigend dat geen individuele nasie, of selfs groep nasies, dit kan oplos nie. Baie waarnemers het dus tot die slotsom gekom dat wêreldvrede en -veiligheid slegs verwesenlik kan word as alle nasies onder een regering verenig word. Albert Einstein het byvoorbeeld ’n geruime tyd so ’n idee voorgestaan. In 1946 het hy aangevoer: “Ek glo vas dat die meerderheid van die volke in die wêreld sal verkies om in vrede en veiligheid te leef . . . Die mensdom se begeerte na vrede kan slegs verwesenlik word as ’n wêreldregering tot stand gebring word.”
Meer as vyf dekades later is daar nog nie in hierdie behoefte voorsien nie. ’n Berig in die koerant Le Monde van Parys, Frankryk, gee ’n lys van die uitdagings van die 21ste eeu en sê: “Dit beteken dat die geregtelike, administratiewe en grondwetlike grondslae gelê moet word vir ’n internasionale regering wat in staat is om onmiddellik, oral in die wêreld, in te gryp in gevalle van etniese slagting. Die gedagte moet aanvaar word dat die aarde voortaan een land is.” Wie of wat het die mag en vermoë om dit teweeg te bring en sodoende te verseker dat daar ’n vreedsame toekoms op die mens wag?
Is die Verenigde Nasies die antwoord?
Baie vestig hulle hoop op die Verenigde Nasies om wêreldvrede te bring. Is die VN ’n regering wat ware vrede en veiligheid vir die wêreld kan bring? Daar is ongetwyfeld geen gebrek aan besielende politieke retoriek wat vol beloftes is nie. In hulle “Millenniumverklaring” van 2000 het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering byvoorbeeld hierdie resolusie aangeneem: “Ons sal alles in ons vermoë doen om ons volke te bevry van die gruwels van oorlog, hetsy binne of tussen State, wat meer as 5 miljoen lewens in die laaste dekade geëis het.” Sulke verklarings het die VN lof en bewondering uit talle oorde besorg, sowel as die Nobelprys vir vrede in 2001. Toe die Noorweegse Nobelkomitee hierdie eer aan die VN toegeken het, het hulle gesê dat “wêreldvrede en samewerking slegs deur middel van die Verenigde Nasies verwesenlik kan word”.
Maar het die Verenigde Nasies, wat in 1945 gestig is, al bewys dat dit ’n regering is wat ware en blywende wêreldvrede kan bring? Nee, want eiebelang en nasionalistiese strewes van sy lidlande het baie van sy pogings in die wiele gery. Volgens ’n koerantredakteur is die publiek se indruk van die VN dat dit niks meer as “’n soort barometer van wêreldmenings” is nie en dat “sy agenda vol geskille is wat al jare lank bespreek word met min indien enige hoop op ’n oplossing”. Die vraag bly dus nog steeds: Sal die nasies van die wêreld werklik eendag verenig wees?
Die Bybel openbaar dat hierdie eenheid binnekort ’n werklikheid sal wees. Hoe sal dit gebeur? En watter regering sal dit teweegbring? Lees gerus die volgende artikel om die antwoorde te vind.
[Prent op bladsy 3]
Einstein het die idee van ’n wêreldregering voorgestaan
[Erkenning]
Einstein: U.S. National Archives photo