Wat beheer jou toekoms?
“MENSE kan net so min die beskikkers van hulle eie lot wees as enige ander dier”, skryf die evolusionis John Gray. Die skrywer Shmuley Boteach spreek presies die teenoorgestelde siening uit in sy boek An Intelligent Person’s Guide to Judaism. Hy sê: “Die mens is nie ’n dier nie en oefen dus altyd beheer uit oor sy eie lot.”
Baie mense stem saam met Gray en glo dat blinde natuurkragte die lot van die mensdom beheer. Ander beskou die mens as ’n skepping van God wat die vermoë gegee is om beheer oor sy eie toekoms te hê.
Party mense voel dat hulle toekoms deur invloedryke mensemagte beheer word. Volgens die skrywer Roy Weatherford “het die meeste mense in die wêreld—en veral die meeste vroue in die geskiedenis—. . . geen mag of beheer oor hulle eie lewe nie, bloot omdat mense hulle onderdruk en uitbuit” (The Implications of Determinism). Baie het gesien hoe hulle drome van ’n gelukkige toekoms deur mededingende politieke of militêre magte vernietig word.
Deur die geskiedenis heen het ander hulpeloos gevoel omdat hulle gedink het dat bonatuurlike magte hulle lot beheer. “Die idee dat alle hoop tevergeefs was aangesien die mens magteloos is teen die voorbestemde noodlot, was ’n obsessie by die eertydse Grieke”, sê Boteach. Hulle het gevoel dat die lot van elke mens deur wispelturige godinne bepaal is. Hierdie godinne, het hulle geglo, het besluit wanneer iemand sou sterf sowel as hoeveel pyn en lyding hy gedurende sy lewe sou moes verduur.
Die oortuiging dat iemand se lot deur ’n bomenslike mag beheer word, is vandag iets algemeens. Baie mense glo byvoorbeeld in kismet, of die noodlot. Hulle sê dat God vooraf bepaal het hoe alle mensedade sal afloop, sowel as wanneer ’n mens sal sterf. Daar is ook die voorbeskikkingsleer, wat die beskouing bevorder dat God die Almagtige “die uiteindelike redding of verdoemenis van elke mens voorbestem het”. Baie verklaarde Christene hang hierdie lering aan.
Wat dink jy? Is jou lot reeds vasgestel deur magte wat heeltemal buite jou beheer is? Of steek daar enige waarheid in die woorde van die Engelse dramaturg William Shakespeare, wat geskryf het: “Elke mens is op die een of ander tyd die beskikker van sy eie lot”? Kyk wat sê die Bybel oor hierdie saak.