Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/1 bl. 4-5
  • ’n Versoek van regoor die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Versoek van regoor die wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Versoek wat godsdiensgrense oorskry
  • “Here, leer ons hoe om te bid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Laat u Koninkryk kom” – ’n Gebed wat deur miljoene mense opgesê word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2020
  • Die Onse Vader—Wat dit vir jou beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/1 bl. 4-5

’n Versoek van regoor die wêreld

STEL jou honderdmiljoene, selfs miljarde, mense voor wat almal dieselfde ding vra. Hulle vra die hoogste gesag in die heelal om ’n spesifieke versoek toe te staan. Tog weet baie min van hulle presies waarvoor hulle vra. Kan so iets werklik gebeur? Om die waarheid te sê, dit gebeur elke dag. Waarvoor vra al hierdie mense? Dat die Koninkryk van God moet kom!

Volgens een skatting is daar ongeveer 37 000 godsdienste wat sê dat hulle Christelik is en beweer dat Jesus Christus hulle Leier is. Hierdie godsdienste het ver oor die tweemiljard lidmate. Baie van hulle bid die gebed wat dikwels die Onse Vader genoem word. Ken jy hierdie gebed? Soos Jesus dit vir sy volgelinge geleer het, begin dit so: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.

Aanbidders herhaal reeds eeue lank hierdie woorde met eerbied in kerke. Dit word ook deur gesinne en individue opgesê, in goeie en in slegte tye. Hulle uiter die woorde met opregtheid, selfs met groot intensiteit. Baie ander het dit soos ’n rympie geleer en sê dit op terwyl hulle selde indien ooit dink aan wat dit beteken. Hierdie lidmate van die Christendom is nie die enigstes wat hoop op en bid vir die koms van God se Koninkryk nie.

’n Versoek wat godsdiensgrense oorskry

’n Welbekende gebed van die Joodse geloof is die rouklaer se Kaddisj. Hoewel dit min te doen het met die dood of droefheid, word dit gewoonlik opgesê wanneer ’n geliefde sterf. Die gebed sê: “Mag hy [God] sy Koninkryk in u leeftyd oprig . . . ja, gou.”a Nog ’n eertydse sinagogegebed praat van die hoop op die Koninkryk van die Messias uit die huis van Dawid.

Die gedagte van God se Koninkryk was ook vir ander van nie-Christelike gelowe aantreklik. Volgens The Times of India het ’n vooraanstaande 19de-eeuse Indiese godsdiensleier, wat daarin belanggestel het om die Hindoe-, Moslem- en Christelike gelowe bymekaar te bring, gesê: “Die ware koninkryk van God sal nie verwesenlik word tensy die ooste en die weste saamgesnoer word nie.” En die rektor van ’n Islamitiese kollege in Strathfield, Australië, het onlangs aan ’n koerant geskryf: “Soos alle Moslems glo ek [dat] Jesus sal terugkeer en die ware Koninkryk van God sal oprig.”

Daar is ongetwyfeld miljarde mense wat nou op God se Koninkryk hoop en daarvoor vra. Maar let op ’n interessante feit.

Jy weet waarskynlik dat ons, Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif uitgee, in jou omgewing van huis tot huis gaan om met mense oor die Bybel te praat. Op die oomblik doen ons hierdie werk regoor die wêreld in 236 lande en in meer as 400 tale. Die hooftema van ons predikingsboodskap is die Koninkryk van God. Trouens, let daarop dat die volle naam van hierdie tydskrif Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan is. Ons vra mense dikwels of hulle vir hierdie Koninkryk bid. Baie van hulle antwoord ja. Maar wanneer hulle gevra word wat hierdie Koninkryk is, antwoord die meeste mense in werklikheid: “Ek weet nie”, of hulle antwoord is vaag en onseker.

Waarom vra so baie mense vir iets wat hulle nie kan verduidelik nie? Is dit omdat die Koninkryk van God ’n komplekse, vae begrip is? Nee. Die Koninkryk word breedvoerig en duidelik in die Bybel beskryf. Wat meer is, die Bybel se boodskap oor die Koninkryk kan jou ware hoop in hierdie donker tye gee. In die volgende artikel sal ons sien hoe die Bybel hierdie hoop verduidelik. Daarna sal ons sien wanneer Jesus se gebed dat die Koninkryk moet kom, verhoor sal word.

[Voetnoot]

a Soos die modelgebed wat Jesus gegee het, vra die rouklaer se Kaddisj ook dat God se naam geheilig moet word. Hoewel daar verskillende menings is oor die vraag of die Kaddisj uit die tyd van Christus of selfs vroeër dateer, moet ons nie verbaas wees oor enige ooreenkomste nie. Jesus se gebed was nie bedoel om nuut of revolusionêr te wees nie. Elke versoek was stewig gegrond op die Geskrifte wat destyds vir alle Jode beskikbaar was. Jesus het sy mede-Jode aangemoedig om te bid vir dinge waarvoor hulle nog altyd moes bid.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel