Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 3/1 bl. 18-21
  • “Tot die dood ons skei”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Tot die dood ons skei”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om die verlies te verwerk
  • Hoe party die mas opgekom het
  • ’n Betekenisvolle lewe ná die verlies
  • Weduwees en wewenaars—Wat het hulle nodig? Hoe kan jy help?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoe om die dood van jou huweliksmaat te verwerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hoe kan ek my smart verwerk?
    Wanneer ’n geliefde sterf
  • Hulp vir dié wat treur
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 3/1 bl. 18-21

“Tot die dood ons skei”

HOEVEEL egpare het nie al hierdie woorde met vreugde op hulle troudag gesê nie—dalk sonder om te dink aan wat dit uiteindelik kan beteken? Die ouderdom, siekte of ongelukke is algemene dinge wat die lewe van ’n geliefde tragies kan beëindig en die oorlewende huweliksmaat met eensaamheid en hartseer kan agterlaat.—Prediker 9:11; Romeine 5:12.

Statistiek toon dat bykans die helfte van vroue wat 65 of ouer is, weduwees is. Trouens, omdat die moontlikheid drie keer groter is dat vroue ’n huweliksmaat aan die dood sal afstaan as mans, is die verlies van ’n huweliksmaat al ’n “vroulike verskynsel” genoem. Dit wil nie sê dat mans nie ook ly nie. Die feit is dat miljoene mense al hierdie stresvolle situasie deurgemaak het. Is jy dalk een van hulle?

Hetsy man of vrou, wat kan jy doen as jy in hierdie situasie is? Kan die Bybel enigsins help om hierdie droefheid te oorkom? Hoe het party weduwees en wewenaars die mas opgekom? Hoewel daar geen enkele formule is wat op elke geval van toepassing is nie, is daar beginsels en wenke wat kan help.

Hoe om die verlies te verwerk

Hoewel party dink dat dit ’n teken van swakheid is om te huil, of selfs dat dit skadelik is, sê die sielkundige dr. Joyce Brothers, wat self ’n weduwee is, dat trane soos emosionele noodhulp is. Om te huil, is ’n normale deel van die treurproses en help om die pyn te verlig. Moenie skaam wees om te huil nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan kan in die Bybel gevind word. Abraham was ’n man van uitsonderlike geloof, en hy het die voorreg gehad om God se vriend genoem te word. Maar toe sy geliefde vrou sterf, het hy “ingekom om oor Sara te weeklaag en te huil”.—Genesis 23:2.

Hoewel dit normaal is om soms alleen te wil wees, moet jy jou nie afsonder nie. Spreuke 18:1 waarsku ons: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek.” Dit is beter om die ondersteuning te probeer kry van familielede en vriende wat simpatiek is. In dié verband is die Christengemeente ’n wonderlike voorsiening, waar geestelike ryp manne ondersteuning en raad kan gee wanneer nodig.—Jesaja 32:1, 2.

Party het dit nuttig gevind om simpatiekaartjies en -briewe te beantwoord. Dit kan jou die geleentheid gee om die goeie dinge wat jy omtrent jou huweliksmaat onthou en die oomblikke wat julle saam geniet het, neer te skryf. As jy ’n album maak van herinneringe met foto’s, briewe en notas, kan dit ook die wonde help heel.

Dit is normaal vir ’n persoon wat onlangs iemand aan die dood afgestaan het, om verward en verlore te voel, maar dit sal help om by jou gewone rooster en bedrywighede te bly. Byvoorbeeld, as jy gewoonlik op ’n spesifieke tyd gaan slaap, opstaan, eet of sekere take verrig, moet jy daarby probeer bly. Beplan wat jy gaan doen oor naweke en op spesiale dae, soos jou huweliksherdenking, wanneer die verlies oorweldigend kan raak. Dit is veral belangrik om by jou geestelike roetine te bly.—1 Korintiërs 15:58.

Dit is dalk moeilik om goeie oordeel aan die dag te lê wanneer ’n mens onder groot emosionele spanning verkeer. Mense met slegte beweegredes sal moontlik selfs jou situasie probeer uitbuit. Daarom moet jy nie oorhaastig besluite neem in verband met sake soos om jou huis te verkoop, ’n groot belegging te maak, te verhuis of weer te trou nie. ’n Wyse spreuk sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spreuke 21:5). Sulke groot veranderinge in jou lewe moet eerder uitgestel word totdat jou emosies meer onder beheer is.

Dit kan emosioneel baie moeilik wees om jou huweliksmaat se persoonlike besittings uit te sorteer, veral as julle baie jare lank getroud was, maar dit is deel van die treurproses. As jy dit uitstel, kan dit die smart onnodig verleng (Psalm 6:6). Party verkies om dit alleen te doen; ander vind dit nuttig om dit saam met ’n goeie vriend of vriendin te doen met wie hulle die herinneringe wat dit oproep, kan deel. Jy wil dalk ook die hulp van ’n vriend of familielid vra om na enige papierwerk om te sien, soos om doodsertifikate te kry; regeringsinstansies, banke en kredietkaartmaatskappye in kennis te stel; eiendomsregte te verander; sterftevoordele te verkry en mediese rekeninge te betaal.

Onthou dat ons in ’n onsedelike wêreld lewe. Noudat jy alleen is, sal jou pogings om kuis te bly, dalk op die proef gestel word. Die woorde van die apostel Paulus is vandag beslis so tydig as ooit: “Elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagsdrif soos ook dié nasies het wat God nie ken nie” (1 Tessalonisense 4:4, 5). Daarom is dit verstandig om romantiese of seksgeoriënteerde rolprente, boeke en musiek te vermy.

Bowenal moet jy verstaan dat dit tyd neem om te herstel. Volgens USA Today toon studies wat deur die Universiteit van Michigan se Instituut vir Sosiale Navorsing gedoen is, dat ’n bedroefde huweliksmaat ten minste 18 maande nodig het om fisies en sielkundig te begin herstel. Bid tot God vir volharding, wat deur die vrug van sy gees versterk word (Galasiërs 5:22, 23). Hoewel jy dalk nie nou so dink nie, sal elke dag met die verloop van tyd beter word.

Hoe party die mas opgekom het

Anna, wat 40 jaar lank gelukkig getroud was, was verpletter ná haar man se onlangse dood. “My ma is dood toe ek 13 jaar oud was, en daarna het my pa en twee broers sowel as my suster gesterf. Maar ek kan eerlikwaar sê dat nie een van hierdie verliese my so diep geraak het soos die dood van my man nie. Dit was asof ek in twee gesny is. Die pyn was oorweldigend.” Wat het haar gehelp om hierdie pyn te verwerk? “Ek het ’n groot boek saamgestel met e-posse en kaartjies wat vol wonderlike uitdrukkings van liefde en waardering vir al Darryl se goeie eienskappe is. Elkeen meld iets spesifieks oor hom. Ek is seker dat Jehovah hom ook onthou en dat hy hom in die opstanding sal terugbring.”

Die 88-jarige Esther vertel wat haar onderskraag het: “Ná 46 jaar van getroude lewe is eensaamheid die moeilikste beproewing. Maar ek het opgemerk dat dit baie help om besig te bly met geestelike sake. Ek het nie opgehou met my roetine om Christelike vergaderinge by te woon, die Bybel se boodskap aan ander te verkondig en dit self te lees nie. Wat ook gehelp het, was dat ek my nie afgesonder het nie. Ek soek die geselskap van vriende wat na my luister. Hulle het nie altyd iets vertroostends om te sê nie, maar ek waardeer dit werklik dat hulle tyd aan my afstaan en na my luister.”

Robert, wie se vrou aan kanker gesterf het nadat hulle 48 jaar getroud was, sê: “Dit is baie moeilik om die verlies te verduur van ’n huweliksmaat met wie jy kon praat, besluite neem, saam kon reis en vakansie hou en vir wie jy die dag se ondervindinge kon vertel. Dit was moeilik, maar ek is vasbeslote om nie moed op te gee nie en met my lewe voort te gaan. Wat my gehelp het, is om fisies en verstandelik aktief te bly. Gebed was ook ’n bron van groot vertroosting.”

’n Betekenisvolle lewe ná die verlies

Hoewel die verlies van ’n geliefde huweliksmaat een van die traumatiesste ondervindinge is wat ’n persoon kan deurmaak, is jou lewe nie verby nie. Aan die positiewe kant sien jy dalk nou die geleentheid om dinge te doen waarvoor jy voorheen min tyd gehad het, soos stokperdjies of om te reis. Hierdie bedrywighede kan help om die leemte te vul. Party het dalk nou die geleentheid om ’n groter aandeel aan die Christelike bediening te hê. Die vreugde en bevrediging wat dit meebring om ander op dié manier te help, is gewaarborg, want Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Moenie dink dat jy nooit weer gelukkig kan wees nie. Wees verseker dat Jehovah God vir jou sal sorg as jy jou tot hom wend. Die psalmis Dawid het gesê: ‘Jehovah ondersteun die weduwee’ (Psalm 146:9). Dit is bemoedigend om te weet dat die Bybel Jehovah nie net beskryf as “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” nie, maar dat dit ook van Jehovah sê: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (2 Korintiërs 1:3; Psalm 145:16). Ja, die liefdevolle God, Jehovah, is in staat, bereidwillig en gereed om diegene te help wat hom ernstig om hulp nader. Mag jy dieselfde voel as die eertydse Israeliete, wat gesing het: “Ek sal my oë na die berge opslaan. Waarvandaan sal my hulp kom? My hulp is van Jehovah, die Maker van hemel en aarde.”—Psalm 121:1, 2.

[Lokteks op bladsy 19]

Miljoene het al die droefheid en eensaamheid ervaar wat ’n huweliksmaat se dood meebring. Is jy een van hulle?

[Venster op bladsy 21]

Wat van weer trou?

Die Bybel toon dat die dood ’n einde aan die huweliksband maak en sodoende die oorlewende maat die geleentheid gee om weer te trou (1 Korintiërs 7:39). Dit is nietemin geheel en al ’n persoonlike besluit. Maar dit is belangrik dat die kinders bewus moet wees van die ouer se besluit en hom of haar ondersteun waar moontlik (Filippense 2:4). Andrés was byvoorbeeld aan die begin daarteen gekant dat sy pa weer trou. Hy was baie lief vir sy ma en het gevoel dat niemand haar plek moet inneem nie. “Maar ek het gou besef dat my pa ’n goeie besluit geneem het”, sê hy. “Die getroude lewe het hom weer gelukkig gemaak. Hy het dinge begin doen wat hy ’n tyd lank nie gedoen het nie, soos om te reis. En ek is natuurlik dankbaar teenoor sy nuwe vrou omdat sy fisies en emosioneel so goed na hom omsien.”

[Prente op bladsy 20, 21]

As jy besig bly en tot God bid vir volharding, sal dit help met die herstelproses

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel