Die lewe en tye van eerste-eeuse Christene
“Die timmerman”
“Is hy nie die timmerman se seun nie?”—MATTEUS 13:55.
JESUS het nie net as “die timmerman se seun” bekend gestaan nie, maar ook as “die timmerman” (Markus 6:3). Hy het hierdie ambag waarskynlik by sy pleegvader, Josef, geleer.
Watter vaardighede en gereedskap moes Jesus bemeester toe hy as ’n timmerman gewerk het? Watter produkte en dienste het hy moontlik aan die inwoners van Nasaret gelewer? En hoe het sy vroeë opleiding as ’n ambagsman wat met hout werk, dalk later in sy lewe ’n invloed op hom gehad?
’n Familie-onderneming Die prentjie hieronder toon ’n pa wat sy oudste seun leer hoe om ’n boogboor op doeltreffende en veilige wyse te gebruik. ’n Jonger seun luister aandagtig en kyk met belangstelling toe.
Seuns het hulle amptelike vakleerlingskap dikwels so tussen 12 en 15 jaar begin. Hulle het die ambag gewoonlik by hulle pa geleer. Opleiding het jare lank geduur, en die seuns moes hulle kragtig inspan as hulle die nodige vaardighede wou ontwikkel om ’n meestertimmerman te word. Stel jou voor hoeveel aangename ure Josef waarskynlik met Jesus deurgebring het—deur saam met hom te werk en met hom te gesels en so sy kundigheid aan hom oor te dra. Hoe trots moes dit Josef tog gemaak het om te sien hoe Jesus die ambag bemeester!
Kennis, krag en vaardigheid was nodig ’n Timmerman moes die eienskappe ken van die hout waarmee hy gewerk het. Hy kon kies uit hout wat plaaslik gegroei het, soos sipres-, eike-, seder-, wildevy- en olyfhout. Maar ’n eerste-eeuse timmerman kon nie ’n houtwerf of ’n winkel wat boumateriaal verkoop, besoek om timmerhout te kry wat volgens sy spesifikasies gesny is nie. Hy moes eerder na die woud gaan, die regte bome kies, hulle afkap en die swaar stompe dan na sy werkswinkel toe sleep.
Wat het ’n timmerman gemaak met die hout wat hy bymekaargemaak het? Hy het moontlik ure lank buite deurgebring om huise te help bou. Hy het dakbalke gesaag, ’n trap gebou vir die binnekant en deure, vensters en rame gemaak vir die mure.
’n Timmerman het ook meubels gemaak. Die bygaande prente toon van hierdie produkte—kaste met laaie, rakke of deure (1); bankies (2), stoele (3) en tafels (4) van verskeie groottes en style; en wiegies waarin baba’s in die dag neergelê is. Om sekere meubelstukke te versier, kon hy mooi hout wat in ingewikkelde patrone gesny is, daarin inlê. Hy het die items beskerm en mooier laat lyk deur dit moontlik met byewas, vernis of olie te bedek.
’n Timmerman het ook produkte vir plaaslike boere gemaak—jukke (5) wat uit swaar hout gemaak is, asook vurke, harke en grawe (6). Die ploeë (7) wat hy gemaak het, moes stewig wees, want hulle ysterpunte sou vore deur klipperige grond moes grawe. Hy het houtkarre (8) en -waens gemaak, asook die soliede of gespeekte wiele wat hierdie voertuie gehad het. As deel van sy werk moes hy dalk ook die meubels, gereedskap en voertuie wat hy gemaak het, regmaak en in stand hou.
Kan jy jou voorstel watter uitwerking Jesus se werk as ’n timmerman op sy voorkoms gehad het? Dink aan Jesus se vel, bruingebrand deur die Midde-Oosterse son, sy spiere, versterk deur jare se fisiese werk, en sy hande, wat hard was omdat hy growwe hout moes vashou en byle, hamers en sae moes gebruik.
’n Bron van illustrasies Jesus het eenvoudige, bekende dinge op meesterlike wyse gebruik om diep geestelike waarhede aan ander te leer. Het hy sy agtergrond as ’n timmerman vir party van sy illustrasies gebruik? Kyk na ’n paar moontlikhede. “Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie?” het hy vir een skare gesê. ’n Timmerman sou geweet het hoe groot ’n balk is (Matteus 7:3). Later het Jesus vir ’n ander groep gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie.” Hy het waarskynlik ook heelwat ploeë gemaak (Lukas 9:62). In een van Jesus se hartlikste uitnodigings het hy ’n stuk gereedskap gemeld wat deur ’n timmerman gemaak is. “Neem my juk op julle en leer by my”, het Jesus gesê. “My juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:29, 30). Jesus het ongetwyfeld geweet hoe om ’n juk te maak wat nie skaaf nie, maar wat “sag” is, of goed pas.
Jesus se teenstanders het dalk neerhalend na hom as “die timmerman se seun” verwys. Maar soos in die eerste eeu, beskou hedendaagse Christene dit nogtans as ’n eer om hierdie nederige, voormalige timmerman na te volg.
[Venster/Prente op bladsy 26]
Die timmerman se gereedskapskis
’n Eerste-eeuse timmerman, soos Jesus, sou moes weet hoe om te werk met die gereedskap wat hier uitgebeeld word. Sy saag (1) het bestaan uit ’n houtraam waarin daar ’n ysterlem was met tande wat so ontwerp is dat dit sny wanneer die saag getrek word. Hy het ’n winkelhaak (2) gebruik om sy werk uit te lê en ’n skietlood (3) om seker te maak dat vertikale oppervlakke loodreg is. In sy gereedskapskis was daar ’n waterpas (4), asook ’n meetstok (5), ’n skaaf met ’n skerp, verstelbare ysterlem om growwe timmerhout mee glad te skaaf (6) en ’n byl (7) om bome mee af te kap.
Die timmerman se boogdraaibank (8) en gutsbeitel (9) is gebruik om spoele te sny en te vorm. Op die gereedskapskis se deksel kan jy ’n houthamer (10) sien wat gebruik is om penne in lasse in te kap of om ’n beitel mee te slaan. ’n Klein handsaag (11), ’n trekmes (12) om die hout mee te vorm en ’n paar spykers (13) kan ook gesien word. Voor die gereedskapskis is daar ’n ysterhamer (14) en ’n dissel (15) om die aanvanklike snywerk in die hout te doen. Op die deksel is daar ’n mes (16) sowel as beitels (17) van verskeie wydtes. ’n Boogboor (18) leun teen die gereedskapskis.