’n Brief uit Haïti
“Ek voel baie bevoorreg”
NÁ DIE aardbewing in Haïti op 12 Januarie 2010 was dit vir my moeilik om selfs net na die verwoesting op die nuus te kyk. Toe, op die 20ste, het my dierbare vriendin Carmen my gebel en voorgestel dat ons as vrywilligers in Haïti gaan werk. Ek het Carmen ’n paar jaar tevore ontmoet toe ons as vrywilligerverpleegsters op ’n Koninkryksaalbouprojek gewerk het. Ons het sedertdien op ander projekte as vrywilligers gedien en hegte vriende geword.
Ek het vir Carmen gesê dat ek moontlik nie fisies of emosioneel opgewasse sal wees vir Haïti nie. Sy het my daaraan herinner dat ons as ’n span goed saamwerk en mekaar kan ondersteun. Haar woorde het my aangemoedig, en ek het die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gebel en met die persoon gepraat wat die noodlenigingswerk vanuit die Verenigde State organiseer. Ek het vir hom my naam gegee om op die lys van vrywilligers te sit. Ek het Carmen gemeld en gesê dat ons graag saam sal wil werk. Hy het vir my gesê dat daar geen sekerheid is dat ek of sy genooi sal word of dat ons saam sal werk nie.
Ek het dus met my daaglikse roetine voortgegaan onder die indruk dat ek nie genooi sal word om te gaan nie. Vier dae later, op Maandag die 25ste, het ek ’n oproep van Brooklyn ontvang waarin ek gevra is om Haïti toe te gaan—sommer die volgende dag indien moontlik! Ek kon my ore nie glo nie! Ek het gesê dat ek my bes sal doen. Eers het ek by die werk verlof gevra. Toe het ek Carmen gebel, maar ek het uitgevind dat sy nie genooi is nie omdat sy nie Frans praat nie. Ek was terselfdertyd opgewonde en bang. Toe het ek op 28 Januarie, nadat ek daarin geslaag het om ’n kaartjie te kry, gevlieg van New York na Santo Domingo in die Dominikaanse Republiek, wat aan Haïti grens.
’n Jong Getuie het my by die lughawe ontmoet en per motor na die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek geneem. Nog twee verpleegsters van die Verenigde State het ook daardie dag daar aangekom, en ons het daardie nag ’n kamer gedeel. Die volgende oggend is ons per motor na die Haïtiaanse takkantoor in Port-au-Prince, ’n rit van sewe en ’n half uur.
Nadat ons die Haïtiaanse grens oorgesteek het, het ons die verwoesting gesien. ’n Mens kon byna nie glo wat ’n aardbewing van 35 sekondes aan hierdie pragtige land gedoen het nie. Dit was moeilik genoeg om na die verwoesting op die TV te kyk; ek kan nie beskryf hoe dit gevoel het om dit self te sien nie. Talle huise, insluitende die presidentspaleis, is beskadig, terwyl ander net ’n hoop puin was. Baie van hierdie huise het ’n leeftyd van harde werk verteenwoordig—en dit is alles binne sekondes verloor. Ek kon nie anders as om na te dink oor die feit dat die dinge wat werklik belangrik is in die lewe, nie materieel is nie.
Met ons aankoms by die takkantoor het die ontvangsdame, toe sy ons sien inloop, opgespring om ons by die deur met ’n stywe omhelsing en hartlike glimlag te kom verwelkom. Sy het ons bedank dat ons ons persoonlike sake uitgestel het om daarheen te kom. Ná die middagete is ons na die nabygeleë Byeenkomssaal, wat in ’n hospitaal omskep is. Daar het ek ander Getuies ontmoet wat aangebied het om te kom help, insluitende ’n egpaar uit Duitsland wat albei dokters is, hulle assistent en ’n vroedvrou uit Switserland.
Ek het daardie eerste nag begin werk. Daar was 18 pasiënte, Getuies sowel as mense wat nie Getuies was nie, wat op die vloer van die Byeenkomssaal op matrasse gelê het. Elke pasiënt het dieselfde aandag en gratis mediese sorg ontvang van die mediese personeel, wat Getuies was.
Daardie nag het een pasiënt, ’n 80-jarige man, gesterf. Sy vrou was by hom, asook ek en my kamermaat. Later het ’n jong vrou met die naam Ketly begin skreeu van die pyn. Haar regterarm is afgesit weens beserings wat sy in die aardbewing opgedoen het. By haar was die Getuie wat Ketly se Bybelonderrigter was. Sy het feitlik elke nag langs Ketly in die Byeenkomssaal geslaap.
Ek het na Ketly toe gegaan omdat ek baie graag haar pyn wou verlig, maar dit was meer as net fisiese pyn. Sy het vir my vertel dat sy by ’n vriendin gekuier het toe die aardbewing plaasgevind het. Hulle was nie seker wat gebeur nie. Hulle het arm in arm na die balkon gehardloop toe ’n muur op hulle geval en hulle onder die puin vasgepen het. Sy het haar vriendin geroep, maar geen antwoord gekry nie. Sy het gesê dat sy dadelik geweet het dat haar vriendin dood is. Die vriendin se liggaam het gedeeltelik op Ketly gelê toe die reddingswerkers vier uur later opdaag. Ketly se regterarm is by die skouergewrig afgesit.
Gedurende my eerste nag daar het Ketly elke keer dat sy probeer slaap het, die ondervinding herlewe. Sy het snikkend vir my gesê: “Ek weet wat die Skrif oor die laaste dae en aardbewings sê. Ek weet dat ons ’n vreugdevolle hoop vir die toekoms het. Ek weet dat ek dankbaar moet wees dat ek lewe. Maar stel jou net vir ’n oomblik in my plek. Die een oomblik gaan alles goed, en dan, voordat jy dit weet, is jy in hierdie toestand.” Met ’n gevoel van absolute hulpeloosheid het ek haar maar net vasgehou en toe self begin huil. Ons het saam gehuil totdat sy aan die slaap geraak het.
Een dokter en twee verpleegsters is elke dag uitgestuur om dié te help wat mediese sorg nodig het. Ek is na Petit Goave gestuur, ’n rit van ongeveer twee uur van Port-au-Prince af. Ek het saam met twee ander vrywilligers gegaan—’n verpleegster van Florida en ’n dokter van Frankryk. Ons het halftien die oggend daar aangekom, ons voorraad afgelaai en dit in die plaaslike Koninkryksaal ingedra. Daar is vir die mense gesê dat ons kom, en gevolglik het hulle vir ons gesit en wag.
Ons het dadelik aan die werk gespring. Dit was warm, en die toue van dié wat behandeling nodig gehad het, het net langer en langer geword. Eers omstreeks drieuur het ons ’n blaaskans gekry. Ons drie het daardie dag 114 inentings gegee en 105 mense behandel. Ek was uitgeput maar gelukkig dat ons hulp kon verleen aan mense wat dit nodig gehad het,.
Ek het altesaam net meer as twee weke met die noodleniging in Haïti gehelp. Byna elke nag het ek ’n skof van 12 uur by die Byeenkomssaal gewerk. Dit was ’n groot verantwoordelikheid, een wat ek nooit tevore gehad het nie. Maar ek het dit as ’n voorreg en seën beskou om daar te wees. Ek is baie bly dat ek ’n mate van vertroosting en verligting kon bring aan die mense van Haïti, wat so vreeslik gely het.
Ons kan werklik baie by hulle leer. Byvoorbeeld, een van die pasiënte wat ek versorg het, Eliser, ’n 15-jarige seun, se been moes afgesit word. Ek het opgemerk dat hy sy kos gehou het sodat hy dit kon deel met, Jimmy, wat elke nag langs hom kom slaap het. Hy het aan my verduidelik dat Jimmy nie altyd iets eet voordat hy saans na hom toe kom nie. Eliser se voorbeeld het dit by my tuisgebring dat ons nie ryk—of selfs gesond—hoef te wees om wat ons het, met ander te deel nie.
Hierdie gees was ook duidelik te sien onder die vrywilligers in my span. Een vrywilliger was self nie gesond nie; ’n ander het aan rugpyn gely. Maar hulle almal het die pasiënte se behoeftes bo hulle persoonlike gerief gestel. Dit het my die nodige aanmoediging gegee om voort te gaan. Ons het almal van tyd tot tyd emosioneel, verstandelik en fisies uitgeput gevoel, maar ons het mekaar ondersteun en aan die gang gebly. Wat ’n onvergeetlike ondervinding was dit tog! Ek is dankbaar dat ek deel is van ’n organisasie van voortreflike Christene wat goedhartig, liefdevol en selfopofferend is.
Voordat ek Haïti verlaat het, het twee van die pasiënte wie se regterarms afgesit is, daarin geslaag om vir my dankiesêbriefies te skryf wat hulle wou hê ek eers op die vliegtuig moes lees. Dit is wat ek gedoen het. Die briefies het my hart geraak, en ek kon nie ophou huil nie.
Sedert ek teruggekom het huis toe, het ek kontak behou met party van die nuwe vriende wat ek in Haïti gemaak het. In tye van ontbering en krisis word sterk vriendskappe gesmee en op die proef gestel. Ek glo dat ons vriendskapsbande die toets van enige toekomstige ontbering sal deurstaan. Ek voel baie bevoorreg.