Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wp17 nr. 4 bl. 14-15
  • Paradys op aarde—’n Droom of ’n werklikheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Paradys op aarde—’n Droom of ’n werklikheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE IDEE VAN ’N PARADYS
  • DIE SOEKE NA DIE PARADYS
  • DIE DROOM VERANDER
  • DIE WERKLIKHEID VAN ’N AARDWYE PARADYS
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Waar is die Bybelse Paradys?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Die Paradys
    Ontwaak!—2013
  • Sal jy die lewe in ’n paradys aanvaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
wp17 nr. 4 bl. 14-15
Praslin, Seychelle

Praslin, Seychelle, waar generaal Gordon sy Eden in 1881 gevind het

Paradys op aarde​—’n Droom of ’n werklikheid?

Paradys! Kleurvolle reisbrosjures laat dit lekker lyk om op ’n vliegtuig te spring en weg te breek na die een of ander “paradys”. Daar kan jy ontspan en wegkom van alles wat jou pla. Maar soos ons al te goed weet, wag die werklikheid van die lewe weer vir jou wanneer jy teruggaan huis toe.

Tog word mense deur die idee van ’n paradys gefassineer. Ons wonder dalk: ‘Is die idee van ’n “paradys” maar net ’n droom? Hoekom droom ons daaroor? En sal dit ooit ’n werklikheid word?’

DIE IDEE VAN ’N PARADYS

Mense word al honderde jare lank deur die idee van ’n paradys betower. Baie mense het hierin begin belangstel toe hulle in die Bybel gelees het van ’n ‘tuin in Eden, na die ooste’. Wat het hierdie tuin so spesiaal gemaak? Die verslag sê vir ons: “Jehovah God [het] allerhande bome, begeerlik om te sien en goed vir voedsel, uit die grond laat groei.” Daardie tuin was ’n aangename en goeie plek. Wat dit veral spesiaal gemaak het, was “die boom van die lewe in die middel van die tuin”.—Genesis 2:8, 9.

Die verslag in Genesis sê dat vier riviere uit die tuin gevloei het. Twee van hierdie riviere bestaan vandag nog en is bekend as die Tigrisrivier (of Hiddekel) en die Eufraatrivier (Genesis 2:10-14). Hierdie twee riviere vloei deur Irak, wat deel was van eertydse Persië, en mond uit in die Persiese Golf.

Dit is te verstane dat ’n paradys op aarde ’n groot deel van Persië se kultuur en geskiedenis is. ’n Persiese tapyt uit die 16de eeu in die kunsmuseum van Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, beeld ’n ommuurde tuin met bome en blomme uit. Die Persiese woord vir “ommuurde tuin” beteken ook “paradys”. Die toneel op die tapyt lyk net soos die beskrywing in die Bybel van die pragtige tuin van Eden.

Stories van ’n paradys bestaan in verskillende tale en kulture regoor die wêreld. Toe mense na ander dele van die aarde getrek het, het hulle verskeie weergawes van die oorspronklike verhaal saam met hulle gevat. Oor die jare het dit deel geword van legendes en gelowe wat op verskillende plekke ontwikkel het. Selfs vandag nog beskryf mense ’n mooi plek as ’n paradys.

DIE SOEKE NA DIE PARADYS

Party ontdekkingsreisigers het beweer dat hulle die verlore Paradys gevind het. Byvoorbeeld, toe Charles Gordon, ’n Britse generaal, die Seychelle in 1881 besoek het, was hy so beïndruk deur die prag van die Vallée de Mai—nou ’n Wêrelderfenisgebied—dat hy dit die tuin van Eden genoem het. In die 15de eeu het die Italiaanse seevaarder Christophorus Columbus gewonder of hy op die punt was om die tuin van Eden te ontdek, toe hy op die eiland Hispaniola, nou die Dominikaanse Republiek en Haïti, aangekom het.

’n Moderne geskiedenisboek met die naam Mapping Paradise bevat besonderhede van meer as 190 ou kaarte. Baie van hierdie kaarte beeld Adam en Eva in die tuin van Eden uit. Een van hierdie kaarte is ’n kopie uit die 13de eeu van die buitengewone manuskrip deur Beatus van Liébana. Bo aan hierdie manuskrip is ’n klein reghoek met die Paradys in die middel. Daaruit vloei vier riviere met die name “Tigris”, “Eufraat”, “Pison” en “Gihon”. Elkeen vloei na een van die vier hoeke van die kaart en stel die verspreiding van die Christelike godsdiens na die vier hoeke van die aarde voor. Al het niemand meer geweet presies waar die oorspronklike Paradys was nie, wys tekeninge soos hierdie dat die Paradys van die verlede mense nog steeds gefassineer het.

John Milton, ’n Engelse digter uit die 17de eeu, is bekend vir sy gedig Paradise Lost wat gebaseer is op die verslag in Genesis oor hoe Adam gesondig het en uit Eden uitgedryf is. Hierdie gedig beklemtoon die belofte dat mense weer vir ewig op die aarde sal lewe. Dit sê: “Want dan sal die hele aarde ’n paradys wees.” Daarna het Milton nog ’n gedig geskryf met die naam Paradise Regained.

DIE DROOM VERANDER

Dit is duidelik dat die idee van ’n verlore paradys op aarde nog altyd iets was waarna mense verlang het. Maar waarom verlang mense nie meer hierna nie? Mapping Paradise verduidelik: “Teoloë het die vraag oor waar die Paradys is, opsetlik geïgnoreer.”

Die meeste kerke leer mense dat hulle uiteindelik hemel toe sal gaan en nie dat hulle in ’n paradys op die aarde sal lewe nie. Tog sê die Bybel in Psalm 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” Ons wêreld is vandag beslis nie ’n paradys nie. Watter hoop het ons dan dat hierdie belofte waar sal word?a

DIE WERKLIKHEID VAN ’N AARDWYE PARADYS

Jehovah God, die Skepper van die oorspronklike Paradys, het belowe om dit te herstel. Hoe? Jesus het ons geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Daardie Koninkryk is ’n wêreldregering in die hande van Jesus Christus, en dit sal alle menseregerings vervang (Daniël 2:44). Deur middel van hierdie Koninkryk sal God se wil dat daar ’n paradys op aarde moet wees, plaasvind.

Die profeet Jesaja was geïnspireer om die toestande in die beloofde Paradys te beskryf, waar al die probleme wat mense vandag ervaar, iets van die verlede sal wees (Jesaja 11:6-9; 35:5-7; 65:21-23). Ons spoor jou aan om ’n paar minute te neem om die tekste hierbo in jou eie Bybel te lees. Dit sal jou verseker van wat God in die toekoms vir gehoorsame mense sal doen. Hulle sal alles wat Adam verloor het, ’n paradys sowel as God se goedkeuring, geniet.—Openbaring 21:3.

Waarom kan ons daarvan seker wees dat die hoop op die aardse Paradys nie net ’n droom is nie, maar ’n werklikheid? Want die Bybel sê vir ons: “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.” Die hoop op die aardse Paradys is iets wat “God, wat nie kan lieg nie, lank gelede beloof het” (Psalm 115:16; Titus 1:2). Wat ’n wonderlike vooruitsig bied die Bybel ons—Paradys op aarde vir ewig!

a Dit is ook interessant dat die Koran in soera 21 vers 105, Al-Anbiya’ [Die Profete], sê: “Die regverdiges onder My dienaars sal die aarde beërwe.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel