Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 7/86 bl. 3-6
  • “Goddelike vrede”—Streekbyeenkoms vir 1986

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Goddelike vrede”—Streekbyeenkoms vir 1986
  • Ons Koninkryksbediening—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DOOPREËLINGS
  • WEES N GOEIE LUISTERAAR
  • DIE HOU VAN SITPLEKKE
  • KLEREDRAG, PERSOONSVERSORGING EN GEDRAG
  • VELDDIENSREËLINGS
  • VRYWILLIGERDIENS
  • VOEDSELBEHOEFTES
  • SLOT
  • “Handhawers van onkreukbaarheid” —Byeenkoms vir 1985
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Reël nou om die “Liefhebbers van Vryheid”- Streekbyeenkoms vir 1991 by te woon
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Jy word uitgenooi na die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms vir 1989!
    Ons Koninkryksbediening—1989
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1986
km 7/86 bl. 3-6

“Goddelike vrede”​—Streekbyeenkoms vir 1986

1 Jehovah se Getuies sien met afwagting uit na die “Goddelike vrede”​—Streekbyeenkoms wat vir 1986 beplan word. Almal sal reëlings wil tref om dit by te woon.

2 Van vervloë tye af het Jehovah se knegte by byeenkomste bymekaargekom. Toe die Israeliete in Egipte was, het Moses en Aäron byvoorbeeld die oudstes bymekaar laat kom sodat hulle spesiale onderrigting kon ontvang (Ex. 4:27-31). Daarna het die Israeliete aan die voet van die berg Sinai bymekaargekom soos God hulle beveel het. By daardie geleentheid het hulle die ontsagwekkende bewys van Jehovah se krag gesien en sy gebooie ontvang (Ex. 19:10-19). Later, toe die tempel gebou is, het Salomo die volk in Jerusalem bymekaar laat kom vir die inwyding van daardie gebou. Die byeenkoms het baie dae geduur, en toe die volk huis toe gegaan het, was hulle “verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel gedoen het” (2 Kron. 5:1-7:10). Die volk het gereeld bymekaargekom om die jaarlikse feeste te vier en het gevolglik talle seëninge ontvang.

3 Vroeë Christene het voortgegaan om hierdie vasgestelde patroon te volg. Groot skares het by talle geleenthede byeengekom om na Jesus te luister. Stel jou die seëninge voor wat diegene ontvang het wat bevoorreg was om na Jesus se Bergpredikasie te kon luister! (Matt. 5:1-7:29). Na Jesus se dood het sy volgelinge voortgegaan om bymekaar te kom, soos op die dag van Pinkster, 33 G.J., toe die heilige gees uitgestort is (Hand. 2:1-4). Die apostel Paulus het vermaan: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”​—Hebr. 10:24, 25.

4 In onlangse tye beklee byeenkomste ook ’n spesiale plek in ons teokratiese reëling. Hulle is nie bloot sosiale geleenthede nie, maar word gereël om Jehovah se knegte te onderrig en te verenig. Alle aanwesiges ontvang gelyktydig dieselfde onderrigting. Dit bevorder vrede en eenheid. Jehovah se Woord word gelees en bespreek, en duidelike leiding word voorsien. Sulke byeenkomste lewer talle ryk geestelike seëninge op en is uiters vreugdevolle geleenthede woon al die sessies by

5 Die byeenkomste wat vir vanjaar beplan word, sal die tema “Goddelike vrede” beklemtoon. Jehovah is die God van vrede, en hy het sy volk ook met vrede geseën (Ps. 29:11). ’n Ander aspek van hierdie tema sal elke dag benadruk word.

6 Doen jou uiterste bes om al vier dae aanwesig te wees. Die openingsessie sal op Donderdag om 1:30 nm. begin. Dit sal die meeste van die broers genoeg tyd gee om Donderdagoggend na die byeenkomsstad te reis. Die program vir die streekbyeenkoms in Port Elizabeth sal slegs drie dae duur omdat die fasiliteite nie gedurende die skoolvakansie of al vier dae beskikbaar is nie. Die program vir Port Elizabeth sal Vrydagoggend begin.

DOOPREËLINGS

7 Die doopplegtigheid is altyd een van die hoogtepunte van ’n streekbyeenkoms. Die toespraak vir doopkandidate sal Saterdagoggend gehou word. Diegene wat hulle wil laat doop, moet die vrae, ooreenkomstig die instruksies op bladsye 173-175 van die Ons bediening-boek, saam met die plaaslike ouere manne deurgegaan het. Elkeen wat gedoop gaan word, moet beskeie swemklere en ’n handdoek saambring.

8 Let asseblief daarop dat die Genootskap wil hê alle doopkandidate moet bly staan in die gedeelte wat vir hulle gereserveer is terwyl die eerste drie verse gesing word van die lied waarmee die sessie, wat die dooptoespraak insluit, afgesluit word. Die aangestelde saalwagters sal die kandidate help om uit te stap terwyl die vierde vers gesing word. Die gehoor moet bly om die hele lied te sing sodat die doopkandidate ongehinderd kan uitstap. Julle samewerking in hierdie verband sal hoog op prys gestel word.

WEES N GOEIE LUISTERAAR

9 Ons almal moet goeie luisteraars wees. Eertydse Israel is beveel: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders . . . , dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer” (Deut. 31: 12). Ons kom byeen om deur Jehovah geleer te word. Spreuke 1:5 sê: “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder.”

10 Die Wagtoring van 1 Februarie 1986 het op bladsy 30 uitstekende leiding verskaf oor die nodigheid om aandagtig te luister wanneer ons die byeenkoms bywoon. Dit het ten dele gesê: “Dit sal talle van ons baie tyd en geld kos om te kom. Laat ons dus sorg dat ons stiptelik en in ’n goeie fisiese toestand is. Dit sal beteken dat ons nie te veel moet eet of drink en te laat gaan slaap nie. Laat ons eerder matigheid voor oë hou en vroeg genoeg bed toe gaan sodat ons verkwik en in staat sal wees om al die geestelike voedsel wat voorsien word in te neem. Gedurende die program moet ons in ons sitplekke wees en luister, nie rondloop of gesels . . . nie. Ons kan voor of na die sessie met ons vriende gesels. Ja, laat ons kom met die voorneme om werklik geestelik opgebou te word.” Gaan ons probeer om hierdie goeie raad toe te pas?

11 Ons is bly dat die meeste byeenkomsgangers ’n doelgerigte poging aanwend om aandagtig na die program te luister. Gesinne sit saam, maak sinvolle aantekeninge en lees die Bybeltekste in hulle eie Bybels. ’n Koerantskrywer wat een van ons byeenkomste in Nairobi, Kenia, bygewoon het, het die volgende gesê: “Dit het gelyk of almal eer aan Jehovah betoon het. Almal, kinders inkluis, het geduldig na die verskillende sprekers geluister. Hulle het vanaf 1:30 tot 5:10 nm. gesit.” Ons broers en susters daar is vir ons ’n goeie voorbeeld om na te volg. ’n Koerant in Argentinië het gesê dat “orde, sindelikheid en merkbare stilte” onder die aanwesiges die streekbyeenkoms gekenmerk het wat onlangs in Buenos Aires gehou is. Ons broers in daardie land het veral die voorreg waardeer om bymekaar te kom, omdat ons werk daar baie jare lank verbode was.

12 Soos vroeër gemeld, wil ons nie ander se aandag aftrek deur gedurende die program te praat, rond te loop of die kleedkamers onnodig te besoek nie. Een ouere man in die Verenigde State wat verlede jaar ’n groot byeenkoms bygewoon het, het berig dat hy en sy vrou dit aan die begin van elke sessie moeilik gevind het om te hoor as gevolg van die gewoel, pratery en laatkommers se gesoek na sitplekke. Hy het ook gesê dat daar selfs gedurende die res van die program gedurig beweging en baie geselsery op die paviljoene en in die gange was.

13 Dit is die ouers se verantwoordelikheid om behoorlik oor hulle gesinne toesig te hou en te sorg dat hulle kinders luister en leer. Ons stel voor dat gesinshoofde die raad in hierdie byvoegsel met hulle gesinne deurgaan voor ’n byeenkoms bygewoon word. Daarna moet hulle almal die informasie persoonlik toepas. Dit sal ’n goeie voorbeeld vir ander stel, veral vir gesinne wat nog nie lank met Jehovah se Getuies omgaan nie. By een byeenkoms het ’n groep jong susters, in hulle vroeë tienderjare, bymekaar gesit, weg van hulle ouers af. Hulle het nie na die program geluister of selfs saamgebid of -gesing nie. Hulle het eerder dwarsdeur die sessie met mekaar gepraat en versnaperinge geniet en min belangstelling getoon in wat op die verhoog aangebied is. Hulle gedrag was uiters steurend vir die om hulle. Dit lig toe watter probleme kan ontstaan as ouers permissief is en nie by hulle kinders sit of hulle beheers nie.

DIE HOU VAN SITPLEKKE

14 ’n Paar aanpassings in verband met die hou van sitplekke is in Ons Koninkryksbediening vir November 1985 gemaak. Die byvoegsel het op bladsy 5 gesê: “SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN IEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTORGROEP RY.” Moet asseblief nooit artikels op ekstra sitplekke sit nie. Dit sal diegene wat na onbesette sitplekke soek, help om dit maklik te vind. Dit word waardeer dat baie probeer het om hierdie raad toe te pas. Ons moet vanjaar eweneens nie net oor ons eie belange besorg wees nie, maar ook oor die belange van ander.​—Gal. 6:10; 1 Kor. 13:5.

15 Dit spyt ons dat ons steeds negatiewe berigte van die veld ontvang. Volgens berig het individue by een byeenkomsterrein Sondag die ouditorium om ongeveer 4:30 vm. in hulle nagklere binnegegaan en handdoeke, lakens en elektriese verlengkoorde op honderde sitplekke gesit. Dit is gedoen ten spyte van die feit dat daar oorgenoeg sitplek was vir almal wat aanwesig sou wees, ’n Broer het berig dat party beyeenkomsgangers by ’n ander byeenkoms—een wat in ’n opelugstadion gehou is—op territoriale regte aansprake gemaak het deur sonkappe oor blokke sitplekke op te sit. Talle van hierdie sitplekke is nie gebruik nie. Party is gedurende die sessie vir piekniekmandjies en koeltasse gebruik. Intussen het talle bejaarde persone na sitplek gesoek en kon geen vind nie.

16 Maak sulke berigte ons nie baie hartseer nie? Hoe het ons en ons gesinslede ons in hierdie opsig gedra? Het ons die voortou geneem en nederigheid, medelye en ontferming teenoor ander getoon?​—Luk. 14:7-11; Filip. 2:3; 1 Pet. 3:8.

KLEREDRAG, PERSOONSVERSORGING EN GEDRAG

17 Watter fasiliteit ook al gebruik word, dit word ons “Koninkryksaal” gedurende die byeenkoms en ons moet dienooreenkomstig optree en aantrek. Ons broers en susters het baie goed gedoen in hierdie opsig, en ’n uitstekende getuienis is gevolglik gelewer. Let op hierdie positiewe ondervinding uit Kanada, ’n Suster het gewag om ’n familielid op pad na die byeenkoms te ontmoet. Sy het ’n ander vrou naby haar sien staan wat die byeenkomsgangers op pad na die Stadion noukeurig dopgehou het. Naderhand het hierdie vrou vir die suster gesê: “Hierdie mense is uitsonderlik in die manier waarop hulle aantrek om na ’n byeenkoms toe te gaan. Hulle is so mooi en netjies aangetrek. Die voorkoms van die jongmense is uiters verbasend. Daar is nie een klinknaelbroek te sien nie! Dit is verstommend vir jongmense.” Hierdie individu het ’n uitnodiging na die byeenkoms geredelik aanvaar. Sy is beïndruk deur wat sy gesien het.

18 Ons kleredrag moet nie net beskeie en in goeie smaak wees nie, maar ook prakties vir die geleentheid. Ter toeligting: Indien daar van ’n stadion gebruik gemaak word, sal dit goed wees om langmouklere, hoede, ensovoorts te dra wat beskerming teen die son en weer bied. Reënjasse en sambrele is nuttig indien dit sou reën. Beplanning is nodig.

19 Wat van ons persoonlike voorkoms wanneer ons by ons huisvesting is of na die byeenkomsstad reis? Volgens een reisende opsiener het party broers, sodra hulle by hul huisvesting gekom het, gou verklee in klere wat dit laat lyk het of hulle op ’n kampeervakansie of ’n piekniek is. Party se klere was selfs onbeskeie en volgens modegiere wat hulle beswaarlik na getuies van Jehovah laat lyk het. Ons moet verstandig wees sodat ons niemand laat struikel nie.​—2 Kor. 6:3.

20 Ons almal moet Christelike gedrag van ’n hoë standaard handhaaf wanneer ons by motelle en hotelle in die byeenkomsstad tuisgaan. Pleks van in ’n vakansieluim te wees, moet ons ’n geestelike gemoedstemming toon en ons soos bedienaars gedra.

VELDDIENSREËLINGS

21 Ons kan dikwels ’n getuienis lewer, nie net deur ons goeie gedrag nie, maar ook deur met mense te praat. Soek na geleenthede om informeel te getuig terwyl jy inkopies doen, na en van die byeenkomsterrein reis, ensovoorts.

22 Daarbenewens sal daar ook by elke byeenkoms reëlings getref word vir velddiens op Vrydag na afloop van die middagsessie om 3:00 nm. Dit sal ons almal die geleentheid gee om ’n uur of twee aan velddiens deel te neem. Bring asseblief ’n voorraad van die jongste tydskrifte saam vir hierdie werk. Ons wil ook voorstel dat jy, indien moontlik, voor die tyd gebied kry en motorgroepe reël. Sodoende sal jy jou waardering

vir die byeenkoms vergroot. (Daar sal Donderdagoggend en -middag velddiensreëlings wees by die streekbyeenkoms in Port Elizabeth. Ons moedig almal wat kan aan om saam met die broers in Port Elizabeth velddiens te doen. Diegene wat Donderdag na die byeenkoms reis, kan op pad daarheen getuig.)

VRYWILLIGERDIENS

23 Baie werk moet gedoen word sodat ’n byeenkoms kan funksioneer en daar na die behoeftes van die aanwesiges omgesien kan word. Talle vrywilligerwerkers is nodig. Jy kan jou dienste vrywillig aanbied. Kinders onder 16 jaar moet te alle tye onder die toesig van ’n ouer of ’n ander volwassene werk. Ons moedig ouers en hulle kinders aan om, indien moontlik, saam as vrywilligers te werk.

24 As jy wil help, moet jy asseblief na die Vrywilligerafdeling gaan wanneer jy by die byeenkoms aankom. Jou gewillige diens sal hoog op prys gestel word en daartoe bydra dat die byeenkoms vlot verloop.​—Ps. 110:3.

VOEDSELBEHOEFTES

25 Daar word weer eens spesiale reëlings getref om in ons fisiese behoeftes te voorsien. Voorsienings vir voedsel en drinkgoed sal soortgelyk wees aan die wat in onlangse jare by streekbyeenkomste beskikbaar was. Ons waardeer inderdaad die harde werk van die broers in die Voedselafdeling wat genoeg kos teen ’n redelike prys vir ons beskikbaar stel.

26 Byeenkomskaartjies sal in velle ter waarde van R2.00 beskikbaar wees. Koop genoeg kaartjies om in jou gesin se voedselbehoeftes vir die eerste twee of drie dae van die byeenkoms te voorsien.

SLOT

27 Laat ons en ons gesinne besluit om al die sessies van die “Goddelike vrede”-Streekbyeenkoms vir 1986 by te woon en op die program te konsentreer. Ons sal nie teleurgestel word nie. Daarbenewens moet ons bewus wees van ons broers en susters se behoeftes en alles in ons vermoë doen om bedagsaamheid en Christelike liefde te betoon (Gal. 6:10). Wat ’n groot voorreg het ons tog om die God van vrede in ’n wêreld vol tweedrag en geweld te aanbid en vreedsaam met ons broers en susters bymekaar te kom. Mag ons voortgaan om ‘die eenheid van die gees te bewaar deur die verenigende band van vrede’.​—Ef. 4: 3, NW.

[Box on page 6]

Inligting in verband met die Streekbyeenkoms

HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reel en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.

DOOP: Die toespraak vir doopkandidate sal Saterdagoggend gehou word. Diegene wat hulle toewyding deur waterdoop wil simboliseer, moet voor die byeenkoms die vrae saam met ouere manne in hulle gemeente deurgaan. Elkeen wat gedoop wil word, moet beskeie swemklere en ’n handdoek saambring.

PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplekke is wanneer die program begin. Dit sal Donderdag om 1:30 nm., Vrydag om 9:10 vm. en Saterdag en Sondag om 9:30 vm. wees (Die program in Port Elizabeth sal Vrydag om 9:10 vm. begin.) Dieselfde goeie eienskappe word weerspieël as ons beplan om nie voor die einde van die sessie te loop nie. Die slotlied en -gebed sal Donderdag om 5:10 nm. wees. Vrydagmiddag sal opsy gesit word vir spesiale deelname aan velddiens na die slotlied en -gebed om 3:00 nm. Die slotlied en -gebed sal Saterdag om 5:00 nm. en Sondag om 4:00 nm. wees. (Die program in Port Elizabeth sal Sondag om 4:00 nm. afsluit.)

BETHEL- EN GILEADVERGADERINGE: Daar sal Vrydag ’n vergadering gehou word vir pioniers tussen die ouderdom van 20 en 40 wat daarin belangstel om Gileadskool by te woon vir opleiding in die sendingdiens. Daar sal Saterdag ’n vergadering wees vir toegewyde verkondigers tussen die ouderdom van 19 en 35 wat Suid-Afrikaanse burgers is en wat graag in Bethel wil dien. Raadpleeg die program in die byeenkomsstad vir die presiese tye en plekke van hierdie vergaderinge.

PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, sowel as reisende opsieners, moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tyde van die streekbyeenkoms reeds ses maande aangestelde pioniers is, is daarop geregtig om byeenkomskaartjies slegs by daardie een byeenkoms te ontvang wanneer hulle hul identifikasiekaart toon. Pas die kaart op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasies of ander lektuur teen pioniertarief sal by die lektuurafdeling beskikbaar wees vir pioniers wat hulle identifikasiekaart toon.

LAPELKAARTE: Hierdie kaarte word voorsien as ’n middel om die byeenkoms te adverteer en om ons broers en susters wat teenwoordig is te identifiseer. Daarom spoor ons julle aan om julle spesiale lapelkaarte by die byeenkoms asook terwyl julle na en van die byeenkoms reis te dra. Die kaart is nie net ’n goeie identifikasiemiddel nie, maar lei dikwels daartoe dat ’n goeie getuienis gelewer kan word terwyl ons na die byeenkoms op pad is. Julle moet die kaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 3c elk en die plastiekhouers 15c elk. (Die Genootskap het reeds lapelkaarte aan elke gemeente gestuur, maar die plastiekhouers moet deur die gemeente bestel word.)

’N WOORDJIE VAN WAARSKUWING: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in ’n motor laat nie, ongeag waar jy jou motor parkeer. Sluit jou goed in die bagasiebak toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel