Maak vooruitgang in jou bediening
1 Groei en vooruitgang is wenslike eienskappe om te sien en te ondervind. ’n Boer hou gretig dop hoe saailinge tot vrugdraende plante groei. Dit verskaf ouers vreugde om te sien hoe hulle kinders tot verantwoordelike volwassenes ontwikkel. Net so stel Jehovah opreg daarin belang om te sien hoe ons geestelike vooruitgang in ons bediening maak. Sy Woord spoor ons aan om ons vooruitgang duidelik te toon, dit wil sê, dit moet waarneembaar wees. Ons moet dus voortdurend op ons bediening let en ons uitstrek na wat voor is.—1 Tim. 4:15,16; Filip. 3:13,14,16.
2 Paulus se brief aan die Hebreërs toon dat party nagelaat het om vooruitgang in hulle bediening te maak. Hy het hulle met kinders vergelyk; voordat hulle as leraars van God se Woord vooruitgang kon maak, moes iemand hulle die eerste beginsels leer (Hebr. 5:12-14). Toon hulle ondervinding en die raad wat hulle ontvang het nie dat ons vooruitgang op ons Christenweg behoort te sien nie? Hoe kan
ons die gehalte van ons veldbediening verbeter?
VERBETER ONS AANBIEDINGE
3 Toe jy die eerste keer velddiens gedoen het, het jy moontlik senuagtig en onbekwaam gevoel. Jy het dalk ’n aanbieding gememoriseer en dit oor en oor gebruik totdat jy meer op jou gemak by die deure gevoel het. Namate ons kennis toeneem, moet ons aanbiedinge egter buigsamer word en ons in staat stel om met meer vertroue en entoesiasme oor ’n verskeidenheid Bybelonderwerpe te praat. Hoe vorder jy in hierdie opsig? Praat jy nog by die deure soos toe jy begin velddiens doen het? Of het jy vooruitgang gemaak in jou aanbiedinge van huis tot huis?
4 Talle getuies van Jehovah wat op ’n vroeë ouderdom begin velddiens doen het, is deur hulle ouers geleer om ’n kort tydskrifaanbieding te doen. Met verloop van tyd het hulle gevorder totdat hulle die jongste ‘Onderwerp vir gesprekke’ saam met die gewone lektuuraanbod kon gebruik. Ouers, ons spoor julle aan om julle kinders te help om hulle aanbiedinge te verbeter namate hulle liggaamlik en geestelik groei.
5 Die opleiding by gemeentelike vergaderinge is van die grootste belang as ons in die bediening vooruitgang wil maak. Skenk ons noukeurig aandag by die Diensvergadering? Daar ontvang ons die jongste onderrigting wat ons kan help om die uitdagings van ons bediening bekwaam die hoof te bied. Benut ons hierdie puik voorsiening? Ons aanbiedinge sal baie verbeter as ons, as progressiewe bedienaars, al hierdie waardevolle opleiding ter harte neem en dit toepas.
GEBRUIK DIE PARADYS OP AARDE-BOEK
6 Die Paradys op aarde-boek is ’n merkwaardige leermiddel, ’n tydige voorsiening van Jehovah se progressiewe organisasie. Gedurende Junie en Julie kan ons ’n volle aandeel hê in die verspreiding van hierdie uitstekende publikasie. As progressiewe bedienaars wil ons egter meer doen as bloot boeke versprei. Ons moet noukeurig verslag hou van alle persone wat lektuur neem. Hoekom? Omdat ons die huisbewoner van ’n belangrike leermiddel vir Bybelstudie voorsien wanneer ons die Paradys op aarde-boek by hom laat. Ons einddoel is om dissipels te maak, en daarom moet ons ’n doelbewuste poging aanwend om, indien moontlik, binne ’n week terug te keer om die belangstelling selfs verder aan te wakker.
7 Progressiewe bedienaars leer om elke geleentheid aan te gryp om ’n Bybelstudie aan te bied. Party verkondigers kan studies tydens die eerste besoek begin. Gebruik paragrawe wat jy voor die tyd gekies het wanneer jy die huisbewoner se aandag op die boek vestig. Dit moet direk verband hou met die onderwerp onder bespreking en vrae bevat wat waarskynlik belangstelling sal wek. Verkondigers wat sorgvuldig voorberei om dit te doen, begin makliker studies as die wat blindweg vir die huisbewoner dele in die boek wys.
8 Ons het deel geword van Jehovah se progressiewe organisasie, en Jehovah help ons liefdevol om daarmee tred te hou. Laat ons almal op daardie hulp reageer deur in ons bediening vooruitgang te maak. ‘Laat ons deur liefde opgroei in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus’, deur die oorvloedige leiding en opleiding te benut wat Jehovah voorsien.—Ef. 4:15, NW.