Moenie die huis van onse God verwaarloos nie
1 “Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, . . . om nader te kom en te hoor” (Pred. 4:17). Ja, Jehovah se plek van aanbidding is vir ons iets besonders, en die manier waarop ons na die Koninkryksaal omsien sowel as ons gedrag terwyl ons daar is, moet toon dat ons dit erken as ’n plek waar ons “deur die Here geleer” word (Jes. 54:13). Het jy sulke waardering vir julle Koninkryksaal?
2 Terwyl Koninkryksuitbreiding voortduur, het talle waardering getoon deur ten behoewe van bouprojekte soos Roodekrans en Koninkryksale by te dra. Jehovah seen sulke bedagsame milddadigheid teenoor en toewyding aan ware aanbidding. Maar wat doen ons om te help om ons plek van aanbidding in ’n goeie toestand te hou?
GEDRAG BELANGRIK
3 Wanneer ons ander nooi om vergaderinge by te woon, moet ons verseker wees dat wat hulle daar gaan sien Jehovah se naam en Koninkryk goed sal verteenwoordig. As die waaragtige God, is sy ‘waardigheid bo aarde en hemel verhewe’, en wanneer ons by die Koninkryksaal is, moet ons gedrag hierdie waardigheid hoog hou (Ps. 148:13, NW). Ons wil nooit hê dat ons kleredrag, persoonsversorging of gedrag ons broers of susters moet ontstel of ’n besoeker moet laat struikel nie.
4 Elkeen van ons moet naasteliefde betoon en oppas om nie steurnis te veroorsaak nie. As ons fluister, eet, kougom kou, lekkergoedpapiertjies laat kraak, onnodig toilet toe gaan en alewig laat is, sal dit ander se aandag af trek en afbreuk doen aan die waardigheid wat Jehovah se plek van aanbidding toekom. “Die liefde... handel nie onwelvoeglik nie”, en sulke swak maniere hoort nie in die Koninkryksaal nie (1 Kor. 13:4, 5; Gal. 6:10). Wêreldse vergaderplekke is dikwels onooglik en word selfs beskadig omdat mense kougom, lekkers en kos onverskillig weggooi. Ons almal, en veral ouers met jong kinders, moet noulettend vermy om Jehovah se gebou op hierdie manier te bederf.—Vergelyk Deuteronomium 23:14.
SKOONMAAK REËLINGS
5 Die liggaam van ouere manne (en die Koninkryksaal-Bedryfskomitee indien meer as een gemeente die saal gebruik) stel ’n rooster op vir die gereelde skoonmaak en instandhouding van die gebou. Die boekstudiegroepe maak dit gewoonlik op ’n weeklikse basis skoon, en volg ’n lys van dinge wat gedoen moet word. Almal moet die rooster wat voorsien word getrou volg sodat daar “welvoeglik en ordelik” na die saal omgesien kan word (1 Kor. 14:40). Daarbenewens kan daar af en toe ’n spesiale dag vir deeglike skoonmaakwerk gereël word.
6 Wanneer die Koninkryksaal deur meer as een gemeente gebruik word, is dit veral belangrik om bewus te wees van ons verantwoordelikheid om die saal in stand te hou. In sulke gevalle word die gebou aan groter verwering onderwerp, maar ons kry nie so baie skoonmaaktoewysings nie. Ons moet skoonmaaktoewysings op ons kalenders aanstip om ons daaraan te herinner. Boekstudiehouers en hulle assistente moet wakker wees om hulle groep lank voor die tyd aan die toewysing te herinner.—Kyk Ons bediening, bladsy 61, paragraaf 2.
DOEN JOU DEEL
7 Ons almal moet ons groep ondersteun wanneer hulle die Koninkryksaal moet skoonmaak. Dit verseker dat nie net ’n paar die las dra nie, en ons vind baat by die gesonde werk en goeie omgang. Maar ons hoef nie te wag totdat dit ons beurt is om skoon te maak nie. As individue en gesinne kan ons help om die saal na vergaderinge op te ruim. As ons papiere op die vloer sien lê, kan ons dit optel; as die stoele skeef staan, kan ons hulle in ’n reguit ry stoot. Hoe bevredigend is dit om Jehovah se plek van aanbidding danksy ons pogings te sien skitter!
8 Nehemia het besef dat dit belangrik is om ‘nie die huis van onse God te laat verwaarloos nie’ (Neh. 10:39; 13: 11). Ons besef dat ons Koninkryksaal die sentrum vir ware aanbidding in ons gebied is en aldus ons liefdevolle aandag en sorg verdien. Laat ons die waardigheid van Jehovah se plek van aanbidding hoog hou deur ons gedrag en ondersteuning van skoonmaakreëlings.