Bied die Goeie Nuus Aan—Met verskeidenheid in die huis-tot-huiswerk
1 Is Jehovah se skepping nie ryk aan verskeidenheid nie? Die psalmis het gesê: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” (Ps. 104:24). Die goeie nuus wat hy ons opgedra het om te verkondig, het ook talle fasette. Gebruik jy verskeidenheid in jou huis-tot-huisbediening sodat jy soveel mense moontlik kan bereik?
OPTYDSKRIFDAG
2 Die Genootskap moedig almal aan om elke Saterdag aan tydskrifverspreiding deel te neem. Pleks van die ‘Onderwerp vir gesprekke’ te gebruik, is dit gepas dat jy ’n aanbieding van 30 tot 60 sekondes doen deur slegs een artikel te beklemtoon en dan albei tydskrifte teen R1,00 aan te bied. As die huisbewoner vrae stel of buitengewone belangstelling toon, is dit nie nodig dat ons ons na die volgende deur moet haas nie.
3 Daar is geen gebrek aan verskeidenheid wanneer dit kom by Die Wagtoring en Ontwaak! nie. Die broer wat die eerste deel op die Diensvergadering behartig, sal dikwels gesprekspunte uit die jongste tydskrifte aanbied. Skenk aandag; maak aantekeninge van wenke wat jy kan gebruik. As die Diensvergadering ’n demonstrasie insluit, moet jy oplet hoe dit gedoen word, dit oefen en dan Saterdag in die velddiens gebruik. As jy vind dat die reaksie swak is, moet jy ’n ander artikel kies om aan te bied. Elke nommer bevat ’n paar onderwerpe wat daarop gemik is om byval te vind by mense met uiteenlopende belange. As jy vertroud is met die artikels in albei tydskrifte, sal dit maklik wees om jou aanbieding by die huisbewoner se belange aan te pas.
VERANDER JOU INLEIDING
4 Soms moet jy die ‘Onderwerp vir gesprekke’ saam met die jongste aanbod gebruik. Ons Koninkryksbediening doen van tyd tot tyd ’n ander ‘Onderwerp vir gesprekke’ aan die hand. Wanneer jy nuwelinge oplei, is dit die beste om die huidige ‘Onderwerp’ in ’n eenvoudige aanbieding te gebruik. Maar soms is dit dalk goed om jou benadering te verander. Het jy jou aanbieding probeer inlei deur een van die traktate of ’n strooibiljet aan te bied as ’n middel om ’n gesprek aan te knoop?
5 Daar is ongetwyfeld ’n paar inleidings in die Redenering-boek wat jy nog nie probeer het nie. Bladsye 10-11 stel byvoorbeeld inleidings voor wat op die jongste gebeure gebaseer is. Bly ingelig, en hou tekste in gedagte wat betrekking het op die jongste nuusberigte. Word jou gebied gereeld gedek? Indien wel, sal dit goed wees as jy jou inleidings afwissel deur die inleidings op bladsy 15 van die Redenering-boek te gebruik. Moet ook nie die uitstekende wenke in Die Wagtoring van 15 Julie 1988, bladsye 15-20, vergeet nie. Probeer sommige van die weldeurdagte vrae op bladsy 19, paragraaf 16, en maak seker dat jy die huisbewoner toelaat om sy mening uit te spreek.
6 Die mense in ons gebied kom van talle uiteenlopende agtergronde en omstandighede. Ons moet uit besorgdheid oor die welsyn van ander ons benadering afwissel sodat dit by almal wat sal luister byval sal vind (1 Kor. 9: 19-23). As ons verskeidenheid in ons huis-tot-huisbediening gebruik, sal dit ons help om ‘onsself sowel as die wat na ons luister te red’.—1 Tim. 4:16, NAV.