Word bekwamer bedienaars
1 Omdat Koninkryksbelange die eerste plek in ons lewe beklee, behoort dit ons begeerte te wees om uit te blink in die bediening as ons gekose loopbaan (Mark. 13:10). Ongeag hoe lank ons al preek, ons moet ons voortdurend daarop toelê om bekwamer bedienaars te word. Hoe kan ons dit doen?
2 Baie mense wat in beroepsvelde suksesvol is, streef voortdurend daarna om tred te hou met die jongste kennis en vaardighede. Hulle lewensbestaan hang dalk daarvan af. As pligsgetroue bedienaars behoort ons ook ywerig te wees om ons vermoë te verbeter om dissipels te maak deur ander van God se Koninkryk te leer. Ons moet nuwe en vars benaderings soek wat by alle soorte mense byval sal vind.—Matt. 28:19.
BIED DIE UITDAGING DIE HOOF
3 Noudat Jehovah die insameling van skaapgeaarde mense bespoedig, besoek baie van ons ons bure meer dikwels. Intensiewer predikingswerk deur soveel meer verkondigers en pioniers het ’n kragtige uitwerking op die wêreldveld. Omdat ons meer doen, vind aanbiedings wat vroeër doeltreffend was dalk nie meer byval by die mense wat ons teëkom nie. Die gehalte van ons bediening moet dalk verbeter word.
4 Om waarlik bekwaam in ons werk te wees, moet ons positief bly wanneer ons met mense praat. As ons die praktiese wenke in Die Wagtoring van 15 Julie 1988 goed gebruik, kan dit ons hiermee help. Bladsy 16, paragraaf 6, bespreek byvoorbeeld hoe jy jou op ’n aangename en positiewe manier kan voorstel in gebied waar jy elke week besoek aflê en mense jou goed ken. Bladsy 16, paragraaf 5, bevat inligting oor hoe om iemand te nader wat die vorige week vir jou gesê het: “Ek is bedrywig in my eie kerk, en dit sien om na al my geestelike behoeftes.”
5 Het jy al in jou gebied gewerk en uit die staanspoor ’n gratis tuisbybelstudie aangebied? Werk jy jou gemeente se sakegebied? Is dit moontlik om op gepaste en produktiewe tye straatwerk te doen? Hersien gerus die puik wenke in Die Wagtoring van 15 Julie 1988. Die toepassing van sulke wenke kan ons help om bekwamer bedienaars te word.
6 Bekwaamheid behels ook deeglikheid (Ef. 6:13). Let op waar meer as een gesin in ’n huis woon. Sommige mense woon in kelderverdiepings, bo-op motorhuise of in ander plekke wat nie direk van die voordeur af bereik kan word nie. Probeer verskillende gesinslede bereik—’n ouer persoon wat dalk nie gewoonlik die deur oopmaak nie of iemand wat dalk by die werk is wanneer daar gewoonlik by daardie huis besoek afgelê word. Jy sal moontlik ander gesinslede ontmoet as jy op ’n ander tyd besoek aflê. Aandgetuieniswerk bied dikwels sulke geleenthede.
MAAK DIT ONS DOELWIT
7 Dit is ’n verdienstelike doelwit om bekwamer in die bediening te word, en die meeste van ons kan dit bereik. Dit verg hartgrondige gebed en voorbereiding. Namate ons bekwamer word in die velddiens kan ons iemand anders help om soortgelyke vordering te maak.—Gal. 6:6, NAV.
8 Onthou, ons onderrigtingswerk sal nie met die “groot verdrukking” ophou nie (Matt. 24:21). Ons verwag dat dit jare sal neem om verresenes te help om Jehovah se weë te leer ken. Gedurende die Millennium sal ons vreugde waarlik groot wees wanneer ons sien hoe dié wat onderrigting ontvang het hulle lojaal aan Christus se heerskappy onderwerp. As ons bekwamer word in die predikings- en onderrigtingswerk kan ons meer in ons bediening verrig—tot eer en lof van Jehovah.