Raak vertroud met nuwe byeenkomsvrystellings
1 Twee nuwe vrystellings, ’n boek en ’n brosjure, is by ons goeie voorraad geestelike voedsel gevoeg. Hierdie nuwe publikasies wat by ons “Suiwer Taal”-Streekbyeenkomste vrygestel is, sal beslis ’n kragtige uitwerking op ons veldbediening hê, buiten die feit dat dit ons almal sal help om die suiwer taal duideliker te praat.—Sef. 3:9, NW.
2 Toe die spreker die nuwe brosjure by die byeenkoms vrygestel het, het hy gesê: “Ons word dikwels in die veldbediening—van huis tot huis, tydens herbesoeke en gedurende Bybelstudies—gevra waarom ons nie bloed neem nie. Om jou te help om daardie vraag te beantwoord, is dit vir ons ’n genoeë om ’n nuwe publikasie vry te stel. Dit is hierdie tydskrifgrootte brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?” Het jy die lewensbelangrike informasie in hierdie brosjure jou eie gemaak deur dit noukeurig te lees? Dit is belangrik dat jy dit doen sodat jy jóú geloof kan versterk en voorbereid kan wees om ander te help om die Christelike beskouing van bloed te verstaan.—Hand. 15:28, 29.
3 Die goed gedokumenteerde informasie in die brosjure sal jou verder toerus om jou standpunt en wense aan enige dokter te verduidelik. Maar hierdie nuwe brosjure is nie hoofsaaklik vir dokters en regsgeleerdes nie. Dit is spesifiek vir die publiek geskryf. Jy kan verstaan hoe sy tweeledige doel dit ’n baie kosbare instrument maak wat ons vandag kan gebruik. Ons stel voor dat jy een of twee brosjures saam met jou in die veld dra. Maak ten volle gebruik van hierdie informasie sodat dit jou persoonlik tot voordeel kan strek en jy ander kan help om behoorlike eerbied vir bloed te toon.
’N NUWE BOEK
4 Stel jou net voor hoe waardevol die nuwe boek Die mensdom se soeke na God sal wees om ons in ons bediening te help. As ons dit studeer, sal dit ons ’n duideliker begrip van ander godsdienste en hulle historiese agtergrond gee. Dit sal ons help om beter toegerus te word om vir mense van die Christendom sowel as vir dié wat ander godsdienste aanhang te preek. Weens die feit dat groot bevolkingsverskuiwings in hierdie 20ste eeu plaasgevind het, kan ons mense van baie verskillende tale en godsdienste teëkom wanneer ons van huis tot huis preek. Dit bied ’n ware uitdaging as ons nie met die opvattings en gebruike van hierdie mense vertroud is nie. Met behulp van hierdie nuwe boek kan ons gereed wees wanneer ons mense van verskillende godsdiensagtergronde in ons gebied teëkom.
5 Die informasie in hierdie nuwe boek is nagevors en hersien deur persone wat deeglik vertroud is met die onderwerpe wat bespreek word. Gevolglik kan ons met gesag praat wanneer ons verklarings gebruik wat in die boek voorkom. Dit is gewis nog ’n blyk van Jehovah se groot liefde vir mense van alle nasies dat sulke informasie vandag voorsien word. Laat ons ’n doelbewuste poging aanwend om goed met hierdie nuwe publikasie vertroud te raak en dit dan met welslae te gebruik om opregte mense van verskillende nasionale en godsdiensagtergronde te help. Ja, as ons hierdie nuwe publikasie goed gebruik, sal dit ons genoeë verskaf om te weet dat ons die goeie nuus aan alle soorte mense bekend maak wanneer ons hulle in ons gebied vind.—Matt. 28:19; Tit. 2:11, NW.