Bied die goeie nuus aan—Met traktate en strooibiljette
1 “Ek het by ’n vrou verbygestap wat vir my ’n Bybeltraktaat gegee het”, het ’n man aan die Genootskap geskryf. “Die titel was: ‘Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld.’ Ek was terneergedruk voor ek dit gelees het, maar daarna was ek so opgewek en tevrede.” Die man wou meer informasie hê en het daarvoor geskryf. Hy het verduidelik: “Ek wag gretig daarop dat julle die boek ‘Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe’ vir my stuur.”
2 Trouens, baie wat Jehovah nou loof se geestelike aptyt is gewek deur traktate en die Bybelboodskap wat agter op ons strooibiljette gedruk is. Gebruik jy traktate en strooibiljette in jou bediening? Baie doen dit. In Suid-Afrika is meer as 1,7 miljoen Vreedsame nuwe wêreld-traktate gedruk, sowel as ongeveer 3,5 miljoen kopieë van die ander drie traktate Waarom jy die Bybel kan vertrou, Wat glo Jehovah se Getuies? en Watter hoop vir afgestorwe dierbares? Meer as 250 000 strooibiljette word ook elke jaar aan gemeentes in Suid-Afrika gestuur.
3 Ons moet nooit die krag van God se Woord onderskat soos dit in hierdie kort boodskappe verduidelik word nie. (Hebr. 4:12; vergelyk Sagaria 4:10; Jakobus 3:4, 5.) Een Getuie het geskryf: “Ek het baie traktate van die Wagtoringgenootskap gelees, en ek het uiteindelik die waarheid geleer.” Hy het verduidelik: “In hierdie gejaagde wêreld wil mense dikwels nie baie tyd afsonder om te lees nie, maar die traktate is net lank genoeg om ’n belangrike boodskap te bevat maar nie so lank dat mense moed opgee voordat hulle eers daarna gekyk het nie.”
4 Weens ’n verskeidenheid redes huiwer mense dikwels om lektuur by ons te neem. Maar baie is geneë om net ’n traktaat te neem. Een kringopsiener verduidelik dat hy ’n plastiekhouertjie het en die traktate vir die huisbewoner wys sodat hy die een kan kies waarvan hy hou. “Die meeste mense”, skryf hy, “kies die traktaat Wat glo Jehovah se Getuies?”
MET DIE EERSTE BESOEK
5 Party verkondigers vind dat dit ’n doeltreffende manier is om ’n gesprek te begin as hulle ’n traktaat of strooibiljet gee. As een aangebied word, kan ’n huisbewoner wat aarsel om die deur oop te maak oorreed word om dit te doen. As ons na die vergaderingrooster verwys wat op die strooibiljet verskyn, kan ons die weg baan vir ’n bespreking van ons werk en die doel daarvan. Gebruik jy die strooibiljette? Ouere manne moet sorg dat daar ’n goeie voorraad is wat die gemeente kan gebruik.
6 As ’n huisbewoner ooglopend besig of ontsteld is, is ’n traktaat dalk net wat hy nodig het. Een vrou is só vertroos deur die traktaat oor die hoop vir die afgestorwenes dat sy aan die Genootskap geskryf het vir meer informasie. Wanneer niemand tuis is nie, kan ’n traktaat vir die huisbewoner gelaat word waar verbygangers dit nie kan sien nie.
BY HERBESOEKE
7 As ’n mens teruggaan na waar iemand vantevore ’n mate van belangstelling getoon het, kan jy sê: “Hallo, [meld naam]. Ek is werklik bly om jou tuis te vind. Toe ons mekaar ontmoet het, was ek beïndruk dat jy tyd afgestaan het om oor die Bybel te gesels. Ek het verdere informasie wat ek dink jy interessant sal vind. Dit is in hierdie traktaat, Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld. Jy sal onthou dat ons vantevore oor die Bybel se belofte van ware en ewige vrede vir die mensdom gesels het. Maar aangesien baie net aan die hemel dink wanneer hulle hierdie beloftes lees, let daarop dat Psalm 37:29 vir ons toon dat hierdie seëninge hier op die aarde sal plaasvind. [Lees die teks, en toon die huisbewoner waar dit in die traktaat is.] Klink dit nie interessant nie? [Bespreek ’n paar paragrawe.] Daar is nog aanmoedigende tekste in hierdie traktaat, en jy sal hulle net so interessant vind. As ek volgende keer kom, kan ons miskien party van hulle saam lees net soos ons vandag gedoen het.”
8 Ons traktate en strooibiljette is waarlik gawes van Jehovah. Mag ons hierdie kosbare hulpmiddele vaardig gebruik terwyl ons ons bediening met welslae uitvoer tot sy eer en ons ewige seën.—Spr. 22:29.