Vervul ons Koninkryksbediening in die veld
1 Liefde vir Jehovah en vir ons naaste beweeg ons om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. As ons die waarheid op kundige wyse gebruik, kan ons “redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word”, omverwerp (2 Kor. 10:5, NAV). Die Watch Tower Publications Index is daarop gemik om ons in hierdie opsig te help.
2 Die hoofopskrif vir verwysings na ons predikingsaktiwiteit in die veld is “Field Ministry”. Dit dek alle aspekte, onder andere ons persoonlike gesindheid, inleidings, hoe ons besware kan oorkom, aanbiedings vir verskillende publikasies, herbesoeke en Bybelstudies. Sal jy graag ’n gedagte met ’n paar goeie ondervindinge wil toelig? Jy sal moontlik net wat jy nodig het onder die gesentreerde opskrif “Experiences” vind.
3 Het iemand al gesê dat die Bybel homself weerspreek en miskien spesifieke verse aangehaal wat skynbaar teenstrydig is met mekaar? Onder “Bible Authenticity” gee die onderhofies “contradictions” en “harmony” verwysings na algemene besprekings van hierdie onderwerp. Onder die onderhofie “scriptures harmonized” sal jy ’n omvattende lys individuele verse vind wat oënskynlike weersprekings is en verwysings wat hulle bo enige twyfel uit die weg ruim.
4 In sekere gebiede moet ons redenasies oor valse grondleerstellings van die Christendom omverwerp, soos die Drie-eenheid, die helse vuur en die onsterflikheid van die siel. Daar is hoofopskrifte vir elkeen van hierdie leerstellings. Onder “Trinity” en “Immortality of the Soul” sal jy die onderhofie “scriptures misapplied to support” vind. Dit sal jou verwys na besprekings wat individuele tekste verduidelik. Iets soortgelyks word onder “Hell” gevind, met sy onderhofie “scriptures misinterpreted”.
5 Wil jy graag ’n Bybelstudie begin? Of het jy ’n Bybelstudent wat lyk of hy nie vordering maak nie? Onder die opskrif “Bible Studies” is die onderhofies “starting”, “assisting—” en “teaching”, elk met verwysings wat jou help om progressiewe Bybelstudies te begin en te hou. Om jou te help om vas te stel wanneer dit die beste sal wees om ’n studie te beëindig, kan jy onder die onderhofies “terminating unfruitful” en “discontinuing” kyk.
6 Wil jy graag groter voorregte in die veldbediening hê? Die opskrifte “Full-Time Ministry”, “Auxiliary Pioneers”, “Pioneers”, “Missionaries” en “Serving Where Need Is Greater” verwys jou na praktiese materiaal oor hoe om sulke doelwitte te bereik en na wonderlike ondervindinge wat diegene geniet wat dit reeds gedoen het.
7 Die vervulling van ons Koninkryksbediening in die veld bring groot bevrediging mee (Joh. 4:34). Die Watch Tower Publications Index kan jou help terwyl jy aan hierdie vreugdevolle werk deelneem.