Gemeentelike boekstudiereëling
Deel 2—Belangrikheid van voorbereiding en deelname
1 Jehovah se Woord sê dat die persoon wat wysheid vind en onderskeidingsvermoë verkry gelukkig is, want die beloning is groot (Spr. 3:13, 14, 16-18, vgl. NW). Geestelike wysheid is kosbaar en lei tot redding. Dit stel ’n Christen in staat om die kennis wat hy uit God se Woord opdoen goed te gebruik in sy aktiewe aanbidding, om daaglikse probleme op te los en om besluite te neem wat sy doelwitte in die lewe betref.
2 Die Gemeentelike Boekstudie is daarop gemik om ons te help om God se Woord te bestudeer en toe te pas en só ons wysheid en geestelike begrip te vergroot. Gereelde bywoning van die Gemeentelike Boekstudie moet dus ’n integrerende deel vorm van ons persoonlike program om wysheid te verwerf.—Spr. 4:7-9.
BEREI DEEGLIK VOOR
3 Party van dié wat met die eerste-eeuse gemeente omgegaan het, het hulle nie kragtig ingespan om die waarheid te leer en op die hoogte te bly van progressiewe lig nie. Hulle het kinders gebly in Christus en was dus onervare in die woord van geregtigheid (Hebr. 5:11-13). Die apostel Paulus het die gemeente aangespoor om ‘tot rypheid voort te gaan’ (Hebr. 6:1, NW). Dit verg natuurlik meer as om net terloops te luister wanneer ander oor die waarheid praat. Dit vereis nadenke en navorsing om ons “helder denke” op te wek, en ons moet ons kragtig inspan.—2 Pet. 3:1, 2, NW; Luk. 13:24, NW.
4 Deeglike voorbereiding vir die Gemeentelike Boekstudie verbeter ons begrip en bou waardering op vir die materiaal. Maar doeltreffende voorbereiding verg meer as om die paragrawe te lees en die basiese antwoorde op die vrae vinnig te onderstreep. Ons het tyd nodig om die materiaal ons eie te maak deur na te dink oor wat dit beteken en watter waarde dit vir ons persoonlik het. Slaan die teksverwysings na en dink na oor hoe hulle verband hou met die gedagtes in die paragrawe. Slaan woorde na wat jy nie ten volle verstaan nie.
5 Persoonlike studie is vir sommige van ons moontlik harde werk, en dit neem tyd; maar, o, hoe nuttig is dit tog! Paulus het die aandag gevestig op die resultate van sulke intensiewe studie en gesê: “Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebr. 5:14). Sulke persoonlike studie help ons om tot rypheid te groei sodat ons kan vasstel wat die regte weg is wanneer ons voor besluite te staan kom.
DEELNAME
6 Ons moet daarna strewe om aan elke vergadering deel te neem. Waarom? Ons goed voorbereide kommentare is nie net ’n betuiging van ons geloof nie, maar hulle is ook bemoedigend en opbouend vir ons broers (Rom. 10:10; Hebr. 10:23-25). Aktiewe deelname aan die Gemeentelike Boekstudie speel ook ’n belangrike rol in ons geestelike ontwikkeling. As diegene met ervaring, kinders en belangstellendes almal geredelik kommentaar lewer, geniet die groep ’n ryk verskeidenheid van kommentare. Dit is vir almal leersaam en opbouend.—kmAF 3/86 bl. 3.
7 As ons goed voorberei vir die Gemeentelike Boekstudie, dit gereeld bywoon en geredelik daaraan deelneem, sal ons welslae behaal in ons soeke na wysheid en sal ons “die kennis van God vind”.—Spr. 2:4, 5.