’n Praktiese benadering van velddiensvoorbereiding
1 Huiwer jy soms om aan die een of ander aspek van die velddiens deel te neem omdat jy nie weet wat om te sê nie? As dit die geval is, is ons seker dat jy die benadering sal waardeer wat ons nou in Ons Koninkryksbediening volg.
2 Van hierdie nommer af gaan Ons Koninkryksbediening ’n selfs groter verskeidenheid wenke bevat wat ons in ons aanbieding van die Koninkryksboodskap kan gebruik, of dit nou van huis tot huis, tydens herbesoeke of by ’n Bybelstudie is. Dit sal jou help om na te dink oor wat jy graag in die bediening wil sê. Kies ’n aanbieding wat geskik is vir jou gebied wanneer jy vir die bediening voorberei. Besluit vervolgens of jy die bewoording wat in die artikel voorgestel is, gaan gebruik en of jy die bewoording gaan aanpas om by plaaslike omstandighede of jou eie persoonlikheid te pas. Jou aanbieding sal gemoedeliker wees as jy dit heel natuurlik in jou eie woorde stel. Wil jy graag jou bediening op die een of ander manier uitbrei deur moontlik vir die eerste keer aan die een of ander aspek van die bediening deel te neem? Die breedvoerige wenke wat gegee word, is dalk net wat jy nodig het om dit te doen.
3 As jy die leiding by een van die gemeente se velddiensvergaderinge neem, moet jy goed vertroud wees met die materiaal wat in Ons Koninkryksbediening verskyn. Bestudeer dit goed, en vestig die aandag op dié wenke wat heel waarskynlik die doeltreffendste in julle plaaslike gebied sal wees.
4 Ons geniet almal die dinge wat ons goed doen. Ons hoop dat hierdie praktiese benadering die nuwer sowel as die meer ervare verkondigers sal help om hulle Koninkryksbediening op ’n doeltreffende wyse en vreugdevol uit te voer.