Maak goeie gebruik van tydskrifte
1 Wanneer ’n mens by ’n koerantstalletjie kom, sien jy ’n verstommende verskeidenheid tydskrifte wat alles aanbied van strokiesverhale tot wetenskaplike tegnologie. ’n Mens sal hulle nooit almal kan lees nie. Hoewel sommige tydskrifte nuttige inligting bevat, is die waarde van die meeste twyfelagtig. Baie is verdorwe en moet vermy word.
2 Wat ’n teenstelling vorm dit tog nie met Die Wagtoring en die Ontwaak! nie. Hierdie tydskrifte word daaraan gewy om die waarheid na te speur en dit te verkondig sodat almal wat op God se liefde reageer daardeur gered kan word.
3 Die Ontwaak! is baie doeltreffend om allerhande mense te bereik vanweë sy wye verskeidenheid artikels. Soos op bladsy 4 van elke nommer verduidelik word, is dit “vir die voorligting van die hele gesin”. Dit bevat artikels oor ’n verskeidenheid onderwerpe, onder andere mense, godsdiens en die wetenskap. Dit delf dieper as die oppervlak en wys op die ware betekenis van aktuele gebeure. Dit “bou bowenal vertroue op in die Skepper se belofte van ’n vreedsame en veilige nuwe wêreld”.
4 Die Ontwaak! van 8 Oktober bespreek die onderwerp “Jy kan negatiewe emosies te bowe kom”. Tallose lewens is al deur sulke emosies verwoes. Dit kan dalk die regte snaar aanroer as ons hierdie tydskrif aanbied deur die aandag op die Bybel se kalmerende raad te vestig. Wat die nommer van 22 Oktober betref, behoort ons iemand te kry wat sal luister as ons die aandag vestig op die vertroostende gedagtes in die reeks “’n Nuwe wêreld wat almal tevrede stel”.
5 Die Wagtoring het wêreldwyd bekend geword as ’n verkondiger van die goeie nuus oor God se Koninkryk en die Paradysseëninge wat dit sal bring. Die nommer van 1 Oktober sal die ernstige vraag “Het die mensdom werklik ’n messias nodig?” beantwoord. Dit sal ons ’n goeie geleentheid bied om oor ons Koninkrykshoop te praat. Die inligting oor “Die gesinslewe vandag—Die uitdaging wat dit bied” wat in die nommer van 15 Oktober verskyn, sal ons help om gesprekke met lede van gesinne aan te knoop wat na verligting van die lewe se baie probleme hunker.
6 Ons wil hê dat diegene wat opregte belangstelling toon hierdie waardevolle tydskrifte gereeld ontvang. Wanneer ons die talle voordele van die tydskrifte bespreek, moet ons probeer om die huisbewoner se belangstelling in die tydskrifte aan te wakker. Wees positief deur die intekening vir almal aan te bied. Wanneer die intekening van die hand gewys word, kan jy twee tydskrifte aanbied en sê dat jy oor twee weke sal terugkom met die jongste tydskrifte. Só kan jy ’n gereelde tydskrifroete begin. Waar mense nie ’n jaarintekening kan bekostig nie, kan jy gerus ’n halfjaarlikse intekening aanbied.
7 Ons kan ons tydskrifte by almal aanbeveel, aangesien ons weet hoe waardevol hulle is. Ons het iets goeds, en dit is Christelik om dit met ander te deel.—Spr. 3:27; Hebr. 13:16.