Hou aan praat oor die dinge wat jy gesien en gehoor het
1 Selfs toe die apostels met slae en tronkstraf gedreig is, het hulle vir hulle teenstanders gesê: “Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:20, NAV). Hulle het die waarde van Jesus se werke en onderrigting besef.
2 Die goeie nuus oor Jesus en sy Koninkryk is net so belangrik vir mense vandag as wat dit toe was. Ons moet derhalwe elke geleentheid aangryp om te praat oor wat ons uit God se Woord gesien en gehoor het. Gedurende ’n feesgety is mense gewoonlik in ’n beter gemoedstemming om oor geestelike dinge te gesels, en dit bied verdere geleenthede om ’n getuienis te gee.
3 Jongmense, praat gedurende die skoolvakansie: Talle jong Getuies benut die groter geleenthede om gedurende skoolvakansies te getuig. Dié van julle wat gedoop is, kan dalk gedurende Desember as hulppioniers dien. In baie gemeentes het die ouere manne bykomende velddiensvergaderinge gereël sodat die skoolgaande verkondigers daarby kan baat vind. Ons wil nie hê dat jongmense alleen moet uitgaan nie, maar hulle moet eerder saam met hulle ouers of ander volwasse verkondigers werk. Gedurende Desember is daar uitstekende geleenthede om aan die straatwerk deel te neem aangesien baie mense dan hulle Kersinkopies doen. Ons tydskrifte sal artikels bevat wat vir mense sal toon hoe Jesus as heersende Koning wêreldprobleme kan oplos. (Vergelyk Lukas 2:14.) Aangesien baie mense hierdie tyd van die jaar aan Jesus Christus en aan vrede dink, is dit ’n goeie tyd om die Grootste mens-boek vir soveel mense moontlik aan te bied.
4 As mense jou vra waarom jy nie aan die godsdienstige gebruike van Kersfees deelneem nie, kan jy sê:
◼ “Die rede waarom ek nie aan Kersfeesvierings deelneem nie, is dat sulke vierings nie aan Jesus eer bewys as ons enigste verlosser en die enigste een wat ’n einde aan oorlog en rasseprobleme sal maak nie. [Haal Handelinge 4:12 aan of lees dit.] Jesus is nie meer ’n baba nie, maar ’n heersende Koning. Hierdie boek, Die grootste mens wat nog geleef het, bespreek al Jesus se leringe en wonderwerke en toon hoe hy ’n einde aan menselyding gaan maak.” Wys dan vir hulle die prentjie in hoofstuk 133 en lees die derde paragraaf op die volgende bladsy. Lig ander punte uit waarin jy dink die persoon sal belangstel.
5 Praat met werkmaats: Een broer het 63 boeke versprei deur net ’n eksemplaar van die Grootste mens-boek op sy lessenaar te los. Die boek se mooi omslag en die titel self lok vrae uit. Jy kan ’n werkmaat eenvoudig vra: “Wie sou jy sê is die grootste mens wat nog geleef het?” Voeg dan by: “Hierdie boek dek Jesus se hele lewe breedvoerig, bespreek elke preek wat hy gehou het, beantwoord vrae wat baie mense oor sy wonderwerke vra en verskaf ander interessante besonderhede. Dit is ’n deeglike oorsig van wat die Bybel aangaande Jesus leer en bewys bo alle twyfel dat Jesus Christus die grootste mens is wat nog geleef het.” Vestig daarna die aandag op Napoleon se kommentaar oor Jesus wat in die derde paragraaf van die boek se inleiding aangehaal word.
6 Soortgelyke geleenthede kan hulle voordoen om vir bure en ongelowige familielede te getuig. Bid tot Jehovah om jou die vrymoedigheid en vermoë te gee sodat jy op die gepaste tyd van die geleentheid gebruik sal maak om te praat (Hand. 4:29, 31). Dit wat ons oor Jesus te sê het, sal die hart raak van denkende mense wat ’n regskape gesindheid toon. Daar kan nie ’n beter ondervinding wees as om ’n klasmaat, werkmaat, buurman of familielid te help om op die pad na die ewige lewe te kom nie!—Joh. 14:6.