Telefoon-getuieniswerk—’n Manier om baie mense te bereik
1 Daar is oorvloedige getuienis dat ons nou in “die laaste dae” lewe (2 Tim. 3:1). Daar is ongetwyfeld min tyd oor om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak. Daarom moet ons almal dringend optree om ander te help om goedgekeurde aanbidders van Jehovah God te word.
2 Die apostel Paulus was bewus van die verantwoordelikheid wat hy gehad het om sy geloof in die openbaar bekend te maak (Rom. 10:10). Hy het geweet God “wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:4). Op grond van sy kennis van die waarheid het Paulus homself as almal se skuldenaar beskou. Dit het sy gevoel van dringendheid om die goeie nuus te verkondig, vergroot. Hy het gesê: “[Daar is ’n] verlange van my kant om . . . die evangelie te verkondig. Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.”—Rom. 1:14-17.
3 Voel ons persoonlik hierdie selfde verpligting en openbaar ons ’n soortgelyke gretigheid om almal in ons gebied te bereik? Ons verkies om die goeie nuus van aangesig tot aangesig te verkondig, soos in die huis-tot-huis-bediening en in straatwerk, maar sal ons ons bedrywighede daartoe beperk? Dit is moontlik dat baie mense in ons gemeente se gebied nog nooit met een van Jehovah se Getuies gepraat het nie. Hoe is dit moontlik?
4 Ongewerkte gebied: Is daar in julle gebied hoë woonstelblokke wat deur deurwagte bewaak word? Dalk is daar woonstelkomplekse met hoë sekuriteit waar deur-tot-deur-besoeke nie toegelaat word nie. Is die gemeente toestemming geweier om die goeie nuus in ’n militêre basis of ’n private woondeel in die gebied te verkondig? Party individue wat in sulke plekke woon, het heel waarskynlik nog nooit van die seëninge van God se Koninkryk gehoor nie. Is daar mense wat julle nooit by die huis kry nie?
5 Ons hoef nie, omdat dit moeilik is om met hierdie mense in aanraking te kom, moed te verloor dat ons hulle ooit sal bereik nie. Hoe beskou Jehovah die situasie? Die apostel Petrus skryf: “Die Here . . . wil [nie] hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” (2 Pet. 3:9, 15, NAV). Lewens is op die spel en Jehovah stel in elkeen belang (Matt. 18:14). Hoe kan ons die soort medelye en barmhartigheid toon wat Jehovah teenoor hierdie mense openbaar? Deur toe te sien dat elkeen in ons gebied ’n getuienis ontvang.—Hand. 20:20, 21; Openb. 14:6, 7.
6 Georganiseer vir deeglike werk: In die verlede het die Genootskap diegene wat tot hulle huis beperk is, hetsy dit tydelik of permanent weens siekte of fisiese ongeskiktheid, aangemoedig om die telefoon goed te gebruik. Diegene wat hulle in so ’n situasie bevind, moet met hierdie goeie werk voortgaan. Daar is ook berig dat ’n aantal broers en susters, onder andere gewone en hulppioniers, hulle gewone huis-tot-huis-bediening aanvul deur telefoon-getuieniswerk te doen.
7 Party gemeentes het ’n doelbewuste poging aangewend om reëlings vir telefoon-getuieniswerk te tref. Wanneer ouere manne die leiding neem om gebied te organiseer en persoonlik of deur middel van ander verkondigers hulp verleen, word groter welslae behaal. Die diensopsiener het die verantwoordelik om oor hierdie bedrywigheid toesig te hou. Enige bekwame ouere man of verantwoordelike bedieningskneg kan egter deur die liggaam van ouere manne gekies word om in noue samewerking met die diensopsiener die werk te organiseer.
8 Verkondigers wat hulle aanvanklike huiwerigheid oorkom het en ervaring in telefoon-getuieniswerk opgedoen het, het gevind dat dit ’n produktiewe veld is. Aanvanklik sal daar miskien net ’n paar verkondigers en pioniers wees wat hierdie oproepe maak. Nadat hulle bekend en vertroud met hierdie soort getuieniswerk geraak het, sal hulle entoesiasme en bemoedigende ondervindinge ander beweeg om te leer hoe om aan hierdie interessante aspek van die predikingswerk deel te neem.
9 Waar om te begin: Dit is dalk moontlik om in die voorportaal van ’n woonstelblok ’n lys met die inwoners se name te kry. Dan kan die telefoonnommers in die telefoongids nageslaan word. Die plaaslike biblioteek het dalk ’n telefoongids met die name van die inwoners van elke huis of woonstel in die gemeenskap. In sommige gemeenskappe is daar ’n spesiale boek met telefoonnommers volgens straatname beskikbaar. Fotokopieë van bladsye uit die nuutste uitgawe kan as velddiensgebied dien. Hierdie gebied moet relatief klein gehou word.
10 Met alle vorme van getuieniswerk is dit baie nuttig om akkurate aantekeninge te maak. Dit is ook die geval met telefoon-getuieniswerk. Maak op ’n huis-tot-huis-verslag noukeurige aantekeninge van nuttige inligting, soos die onderwerp wat bespreek is, die huisbewoner se belangstellings en die onderwerp wat die volgende keer bespreek sal word. Dui aan of daar later nog ’n oproep gemaak moet word en of reëlings vir ’n persoonlike besoek getref is.
11 ’n Persoonlike rooster is nodig: ’n Gereelde roetine sal jou selfvertroue opbou en vrees afweer. Dit is beter om te skakel wanneer dit waarskynliker is dat mense by die huis sal wees, soos in die aand en oor naweke. Sit ’n gereelde tyd elke week opsy om hierdie oproepe te doen. Party het gevind dat die uur voor die Gemeentelike Boekstudie ’n produktiewe tyd is. Vind uit wat die beste in jou gebied werk.
12 Hoe om voor te berei: Praat met ander wat hierdie diensvoorreg geniet en kry idees. Wees altyd positief. Steun op Jehovah as jou bron van krag en sterkte, en vra sy leiding deur gebed (Ps. 27:14; Filip. 4:13). Beplan om hierdie werk heelhartig te doen, net soos ander vorme van die getuieniswerk.—Vergelyk Markus 12:33.
13 Ondervinding het getoon dat dit nuttig is om by ’n lessenaar of tafel te sit. Om op ’n regop stoel te sit, bevorder helder denke en konsentrasie. Hou al die materiaal byderhand wat jy dalk tydens jou getuieniswerk gaan gebruik—traktate, die lektuur wat op die oomblik aangebied word, die jongste tydskrifte of ’n paar interessante ouer nommers, die Bybel, die Redenering-boek, ’n uitnodiging na die vergaderinge met spesifieke vergaderingtye en die adres van die Koninkryksaal daarop, ’n pen of ’n potlood en huis-tot-huis-verslae. Hou jou lektuur byderhand, maak dit miskien selfs by ’n spesifieke artikel oop. Oefen jou aanbieding deeglik. Hou in gedagte dat die doel van jou oproep is om ’n getuienis te gee en so gou as moontlik ’n afspraak met die individu te reël.
14 Die oproep self: Ontspan. Wees jouself. ’n Hartlike, aangename stem is nodig om doeltreffende telefoon-getuieniswerk te doen. Die glimlag op jou gesig sal in jou stemtoon weerspieël word. Praat stadig, duidelik en hard genoeg. Wees beleefd, geduldig en vriendelik. Moenie bang wees vir teenkanting nie. Aanvaar die feit dat mense dalk nie in jou boodskap sal belangstel nie. Beskou dit soos jy dit in jou gewone huis-tot-huis-bediening beskou.
15 Gee jou volle naam in jou inleiding. Dit is beter om nie te sê dat jy al die mense in ’n spesifieke gebou of kompleks bel nie, omdat dit teenkanting tot gevolg kan hê.
16 Baie inleidings uit die Redenering-boek kan woord vir woord in ’n geselstrant gelees word. Jy kan jou byvoorbeeld soos volg voorstel: “Hallo, my naam is ________. Ek skakel u omdat ek u nie persoonlik kan kom besoek nie.” Sê dan sonder ’n verposing: “Ek stel belang in u mening of die gehalte van die lewe ooit sal verbeter. Die meeste van ons is bly dat ons lewe, maar baie wonder: ‘Is ’n waarlik gelukkige lewe moontlik?’ Hoe voel u daaromtrent? [Laat die huisbewoner antwoord.] Wat meen u is een van die grootste dinge wat vandag geluk bederf?” Of, nadat jy jouself soos hierbo voorgestel het, kan jy sê: “Ek is betrokke by ’n internasionale vrywilligerswerk, en ek sal graag u mening oor die betekenis van die lewe wil hoor. Namate ons ouer word, besef ons dat die lewe baie kort is. Is dit al waaruit die lewe veronderstel is om te bestaan? Hoe voel u oor die saak?” (Sien Redenering-boek, bladsy 12, onderhofie “Lewe/Geluk”.)
17 Gebruik die Bybel vroeg in die bespreking. Noem op die een of ander stadium in die gesprek, wanneer dit gepas lyk, dat jy een van Jehovah se Getuies is. Laat die huisbewoner toe om aan die gesprek deel te neem. Moenie huiwer om te luister as die persoon sy mening wil lug nie. Bedank hom vir sy kommentare. Wees gereed om hom te prys. As die persoon egter die gesprek begin oorneem of begin stry, moet jy die oproep taktvol beëindig. Laat God se gees jou pogings rig en jou help om na diegene te soek wie se hart tot hom gerig is.
18 Dit is beter dat jy die gesprek beëindig as om te wag dat die huisbewoner dit doen. Jy kan afsluit deur die persoon eenvoudig na die openbare toespraak by die Koninkryksaal te nooi en vir hom die adres en vergaderingtye te gee. Jy kan hom ook vra of jy hom tuis kan besoek om verder met hom oor die onderwerp onder bespreking te gesels. Dit is dalk selfs moontlik om lektuur doeltreffend oor die telefoon aan te bied. Tydskrifte kan aangebied word met die doel om ’n tydskrifroete te begin.
19 Ervaar die vreugde van telefoon-getuieniswerk: Sal al die oproepe tot Bybelstudies lei? Nee, maar party sal. Een suster het byvoorbeeld in een maand meer as 300 telefoonoproepe gedoen. Nadat sy haar voorgestel het, het sy verduidelik waarom sy skakel in plaas van elke huisbewoner te besoek. Dan het sy ’n kort aanbieding gedoen. Dit het 12 goeie oproepe tot gevolg gehad. Sy skakel steeds drie van die belangstellendes, en vier ander het ingestem dat sy hulle tuis kan kom besoek. Een persoon het die Paradys op aarde-boek geneem en word nou gereeld besoek.
20 Jesus Christus het sy dissipels beveel om die getuieniswerk uit te brei tot “aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Om hierdie bevel uit te voer, beteken dat ons in sommige gebiede telefoon-getuieniswerk moet doen. Nadat jy die voorafgaande materiaal hersien het, kan jy jou gerus afvra: ‘Kan ek meer in my gemeente se gebied doen om die goeie nuus aan “alle mense” te verkondig, onder andere aan diegene wat in gebiede woon wat nog nooit vantevore bereik is nie?’ Broers wat hierdie wenke toegepas het, is baie bemoedig deur die resultate. Hulle het gevind dat telefoon-getuieniswerk ’n uitsonderlike manier is om ‘hulle bediening te verheerlik’ (Rom. 11:13). Mag jy dieselfde vreugde uit telefoon-getuieniswerk put.