Wees heelhartig in jou diens
1 As Jesus se dissipels het ons die opdrag ontvang om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels van Jesus Christus te maak (Matt. 24:14; 28:19). Daar is nie nog ’n werk op hierdie aarde wat so dringend of so belangrik is nie. Die lewens van miljoene mense is daarby betrokke. Ons behoort dit heelhartig te ondersteun. Paulus se vermaning is heel gepas: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here” (Kol. 3:23). Om “heelhartig” te wees, word gedefinieer as “vurige entoesiasme of doelgerigte toegewydheid”. Is jy heelhartig in jou diens?
2 Wat vereis dit van ons om heelhartig te wees? Jehovah het na aanvaarbare diens verwys as ’n tiende (Mal. 3:10). In plaas van ’n spesifieke bedrag vas te stel, verteenwoordig die tiende deel die tyd en inspanning wat ons aan Jehovah se diens wy as ’n betuiging van ons liefde vir hom en ter erkenning van ons toewyding aan hom (wAF92 12/1 bl. 15). Ons bedrywighede moet die diepte van ons toewyding en ons liefde vir Jehovah weerspieël. ’n Heelhartige persoon word aangespoor om Jehovah so volkome moontlik te dien in die mate wat sy gesondheid en omstandighede hom toelaat.
3 Paulus het Christene wat hulle op grond van die hoop ‘inspan en stry’ hoog aangeskryf (1 Tim. 4:10, NAV). Hulle word met Jehovah se seëninge beloon, wat ‘hulle ryk maak’ (Spr. 10:22). Daarenteen ervaar diegene wat spaarsaam of teësinnig gee nie die vreugde wat daarmee gepaardgaan om te gee nie (Hand. 20:35). As ons versuim om ons beste te gee, steel ons in werklikheid van Jehovah “die tiendes” wat hom toekom.—Mal. 3:8.
4 Hoe om ons beste te gee: Is die rapport akkuraat wanneer ons aan velddiens deelneem en ons dit ingee? Ons bediening-boek, bladsy 104, sê: “Jy reken jou velddienstyd van die tyd dat jy met jou getuieniswerk begin totdat jy jou laaste besoek in elke predikingsessie voltooi. Die tyd wat tydens ’n velddienssessie vir verversings of maaltye gebruik word, moet nie gerapporteer word nie.” Goeie beplanning en inspanning is nodig sodat ons die meeste kan verrig gedurende die tyd wat ons aan velddiens bestee.
5 Om ons beste te gee, beteken dat ons soveel moontlik doen wanneer ons aan die diens deelneem. Iemand wat heelhartig is, sal nie sy predikingswerk opsetlik tot pogings beperk om nou en dan informele getuieniswerk te doen pleks van aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem nie. ’n Heelhartige, jong, ongedoopte verkondiger sal nie slegs wanneer sy ouers daarop aandring aan die predikingswerk deelneem en min belangstelling toon om na die huise te gaan of ’n bydrae tot die aanbieding te maak nie.
6 Paulus spoor ons aan om ywerig te bly sodat ons nie traag word nie (Hebr. 6:11, 12). Wat ’n vreugde is dit tog as ons ons persoonlike diens hersien en geen rede het om ons te skaam nie—omdat ons heelhartig was! (2 Tim. 2:15). Ons grootste vreugde sal verwesenlik word wanneer ons daardie mense wat ons persoonlik gehelp het onder die oorlewendes van die groot verdrukking sien. Jehovah beloon ongetwyfeld diegene ryklik wat hom heelhartig dien.