Kan jy gedurende April groter lof aan Jehovah bring?
1 Die psalmis Dawid het ’n hartgrondige begeerte gehad om Jehovah op ’n aanneemlike wyse te loof, en daarom het hy gesê: “Ek sal die HERE hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys” (Ps. 109:30). April is ’n goeie tyd om ‘al sy lof te vermeerder’ deur ’n groter deelname aan die veldbediening te hê (Ps. 71:14). Is jy van plan om een van die baie te wees wat dit doen deur by die geledere van die hulppioniers aan te sluit?
2 Beplan nou: “Die planne van die vlytige is net tot voordeel”, word ons in Spreuke 21:5 herinner. Dit vereis dat jy die saak in gebed na Jehovah neem en hom eerste stel wanneer jy jou planne maak (Spr. 3:5,6). Gaan dan jou huidige rooster noukeurig na om te bepaal waar jy aanpassings kan maak sodat jy gemiddeld twee uur per dag aan die bediening kan bestee. As jy tyd van ander bedrywighede ‘uitkoop’, sal jy meer tyd aan die predikingswerk kan wy.—Ef. 5:16.
3 Kommunikasie en samewerking: Die apostel Paulus het van sekeres gepraat wat vir hom “’n versterkende hulp” in die vervulling van sy bediening was (Kol. 4:11, NW). Bespreek jou planne met ander wat in April hulppionierdiens wil doen. Hulle ondersteuning en kameraadskap kan wedersydse geestelike voordele meebring. Die diensopsiener kan jou help as jy vrae oor diensreëlings het of oor gebied om in te werk. Kan ons ons dit weer ten doel stel om in April ’n hoogtepunt in hulppioniers te hê?
4 Samewerking en ondersteuning binne die gesin kan individuele gesinslede help om hulppionierdiens te doen. Huishoudelike takies moet dalk tydelik herverdeel word. Die rooster waarvolgens daar na hierdie verpligtinge omgesien word, moet dalk ook aangepas word. ’n Gesinsbespreking van hierdie behoeftes kan jou help om jou doelwit te bereik. Goeie kommunikasie en samewerking is die sleutel tot sukses.
5 Behou ’n positiewe beskouing: Moenie die moontlikheid van hulppionierdiens oorhaastig uitskakel omdat jou omstandighede ongunstig is nie. Jongmense op skool, afgetredenes, huisvrouens met kinders en gesinshoofde wat voltyds werk, kon almal al die opoffering maak om—met vreugde—in April aan die hulppionierdiens deel te neem. Hulle stem saam met die psalmis dat ‘’n loflied die opregtes betaam’, en dit was nie te veel gevra om die ekstra poging aan te wend om 60 uur aan die bediening te bestee nie (Ps. 33:1). As jy nie as ’n hulppionier kandien nie, kan jy gerus in die vreugdedeel deur jou bedrywighede as ’n gemeentelike verkondiger te vermeerder.
6 Die hulppionierdiens in April was al vir baie ’n trapklip om die gewone pionierdiens te betree. Omdat hulle hulle bedrywighede vermeerder het, het hulle gevind dat dit baie makliker was om na gewone pionierdiens oor te skakel. Bybelstudente wat aan die vereistes op bladsye 98 en 99 van Ons bediening-boek voldoen en graag aan die openbare bediening wil deelneem, moet gehelp word om ongedoopte verkondigers te word. As ons almal gedurende April gereeld aan die bediening deelneem, nuwelinge help om by ons aan te sluit en ons velddiensbedrywighede stiptelik aan die einde van April rapporteer, kan ons geen rede sien waarom ons nie gedurende April ’n groot verkondigershoogtepunt kan hê nie.
7 Ja, April is ’n ideale tyd vir groter teokratiese bedrywighede. Talle jong verkondigers het dan hulle skoolvakansie. Daar is ook ’n paar openbare vakansiedae. Ons spesiale Tydskrifdag is op 9 April, wat sal beteken dat die meeste van ons ’n volle dag aan tydskrifverspreiding van huis tot huis asook in straatgetuieniswerk kan bestee. Ons wil alles in ons vermoë doen om ons God, Jehovah, te loof. Om in April hulppionierdiens te doen, is ’n uitstekende manier om ons waardering te toon vir sy talle blyke van onverdiende goedheid teenoor ons.