Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
1 Ons is verheug om die groot werk te sien wat Jehovah in hierdie laaste dae verrig. Psalm 110:3 toon dat ’n voortreflike eienskap van God se volk tydens hierdie tyd hulle gewilligheid sal wees om in die Koninkryksdiens bedrywig te wees. Oor die hele aarde span Jehovah se volk hulle in om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Die Verkondigers-boek sê op bladsy 295: “Sommige dien as lede van die wêreldwye Bethelgesin. Dit is ’n groep voltydse bedienaars wat hulle vrywillig aangebied het om enige taak te verrig wat hulle gegee word om Bybellektuur voor te berei en uit te gee, die nodige kantoorwerk te doen en die nodige steundienste vir hierdie werksaamhede te voorsien. Dit is nie werk waardeur hulle prestige of materiële besittings verwerf nie. Dit is hulle begeerte om Jehovah te eer, en hulle is tevrede met die voorsieninge wat vir hulle gemaak word ten opsigte van voedsel, verblyf en ’n klein terugbetaling van persoonlike uitgawes.” As jy Bethel al besoek het, is jy in ’n sekere mate vertroud met die werk wat daar gedoen word. Ons wil egter bykomende inligting voorsien om jou waardering vir hierdie unieke diensvoorreg te vergroot en om jou ook van die Genootskap se behoeftes bewus te maak.
2 Om die betekenis van Betheldiens en sy ryk erfenis in perspektief te sien, kan ons ’n bietjie van die ou en hedendaagse geskiedenis van Jehovah se organisasie hersien. Vir ongeveer 19 jaar was die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in ’n baksteengebou met vier verdiepings te 56-60 Archstraat, Allegheny, Pennsilvanië. Dit is die Bible House genoem. Maar teen 1908 het die Bible House-gesin, of die personeel van die Genootskap se hoofkwartier, tot meer as 30 lede toegeneem. Dit was tyd om uit te brei. Nadat hulle Goddelike leiding gevra het, het die broers besluit dat Brooklyn die geskikste sentrum vir die werk sou wees. ’n Gebou te Hicksstraat 13-17 in Brooklyn is dus gekoop waar die Genootskap se kantoorgebou en ’n ouditorium opgerig kon word. Hierdie kantoorgebou is op 31 Januarie 1909 geopen, maar daar was geen woongeriewe in hierdie gebou in Hicksstraat nie. Daar is eers gemeen dat huisvesting gehuur kon word. Maar geen verblyf was in die omgewing van Brooklyn Heights te huur nie. Maar tot hulle verbasing en vreugde het sake so uitgewerk dat die broers “teen ’n winskopie” ’n vier verdieping hoë bruinsteengebou te Columbia Heights 124 kon koop, wat Henry Ward Beecher se vorige tuiste was. Later was Columbia Heights 126 ook beskikbaar. The Watch Tower van 1 Maart 1909 het met vreugde aangekondig: “Ons sal die nuwe woning ‘Bethel’ noem”, wat die Pittsburgh-term “Bible House” vervang het. In April 1909 is Bethel se deure dus geopen en het die gesin in hulle nuwe tuiste ingetrek. Die Brooklynse Bethel is al 85 jaar op daardie selfde plek.
3 Was Bethel ’n gepaste naam vir die Genootskap se hoofkwartier? Beskou die Bybelse oorsprong van die naam en sy verband. Genesis hoofstuk 28 vertel die verhaal van die 77-jarige, ongetroude Jakob, wat hom meer as 3 700 jaar gelede afgespeel het. Jakob het ’n waardering vir geestelike dinge gehad, maar is deur sy tweelingbroer, Esau, gehaat. Isak, Jakob se vader, het hom aangeraai om uit Berseba te vlug en om noord na die land van Abraham se familie te gaan, onder wie Jakob van plan was om ’n vrou te vind. Ná hy ongeveer 100 kilometer ver gereis het, het Jakob by ’n plek genaamd Lus in die Judese heuwels vertoef om daar te oornag. Ons lees in Genesis 28:10-19 die fassinerende besonderhede van hoe Jehovah Jakob sy volle versekering van Goddelike ondersteuning gegee het. In ’n droom het Jakob ’n leer van die aarde tot aan die hemel sien strek. Engele het besig teen die leer op en af geklim en Jehovah het boaan gestaan. Jehovah het toe gespreek en die belofte aan Abraham bevestig aangaande ’n saad wat aan Jakob oorgedra sou word en dat Jehovah hom nie sou verlaat nie. Wat ’n vreesinboesemende ondervinding moes dit tog vir die geestelikgesinde Jakob gewees het! Is dit enigsins verbasend dat dit ’n baie spesiale plek in sy oë geword het? Vir hom was hierdie plek die “huis van God”, of, in Hebreeus, Behth-ʼElʹ, met Behth wat “huis” en ʼEl wat “God” beteken.—Gen. 28:19, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
4 Die naam Bethel het ’n ryk geskiedkundige agtergrond en is dus gepas vir die wêreldhoofkwartier van Jehovah se volk. Vandag het God se knegte nie Goddelik geïnspireerde drome nie. Engele word nie gesien waar hulle teen ’n leer op en af van Bethel tot die hemel klim nie. Broers ontvang nie gesigte of hoor nie direk God se stem nie. Maar as jy alles in ag neem wat die afgelope 85 jaar by Bethel plaasgevind het, van die tyd van broer Russell af tot nou toe, bestaan daar geen twyfel dat Jehovah se hand op sy gesalfde knegte by Bethel, ’n deel van die geestelike saad van Abraham, rus nie. Soveel uitsonderlike gebeure in die geskiedenis van Jehovah se hedendaagse Getuies hou direk verband met Bethel! Beskou ’n paar hoogtepunte:
◼ Op 2 Oktober 1914 het broer Russell, toe hy by die eetsaal van die Brooklynse Bethel ingestap het, tereg aangekondig: “Die Heidense Tye het geëindig; hulle konings se dae is verby.”
◼ In die vroeë twintigerjare, tydens oggendaanbidding, het ’n lid van die Genootskap se redaksie die uitdrukking “God se organisasie” gebruik. Dit het hulle denke so gestimuleer dat die broers teen 1925 besef het dat daar twee afsonderlike organisasies is wat mekaar teëstaan, Jehovah s’n en Satan s’n.—w85-AF 3/15 bl.10.
◼ Vroeg een oggend in 1931, kort voor die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, het die president van die Genootskap, broer Rutherford, tot die besef gekom dat die naam Jehovah se Getuies waarlik God se volk beskryf en die werk wat hulle toe reeds gedoen het, en dat hulle as Sy getuies geïdentifiseer moet word.—yb75 bl. 151.
◼ Vroeg in 1935 is vrae geopper oor wie die “groot skare”, of “groot menigte”, is (Op. 7:9; KJ). Party wat destyds hulle mening uitgespreek het, het bespiegel dat dit ’n aardse klas is. Op 31 Mei 1935, by die streekbyeenkoms in Washington,DC, is ’n bevredigende verduideliking gegee.—jv-AF bl.166.
5 Hierdie paar voorbeelde toon hoe Jehovah, deur sy heilige gees, leiding en ondersteuning aan sy getroue gesalfde knegte by Bethel gegee het. En wat van die engele? As jy al die bittere teenkanting van ons vyande in ag neem, sowel as die moeilike jare toe geld skaars was, bestaan daar geen twyfel dat Bethel deur al hierdie jare heen nie sonder die beskerming en bystand van die engele so merkwaardig sou kon funksioneer nie.
6 Buiten die hoofkwartierpersoneel in die Verenigde State is daar Bethelgesinne in 100 takke wat regoor die hele wêreld versprei is. Georganiseer om ons bediening te vervul sê op bladsy 116: “Die naam Bethel ... is beslis ’n gepaste naam vir hierdie sentrums van teokratiese bedrywigheid.” Watter soort werk kry Bethelvrywilligers om te doen?
7 ’n Verskeidenheid werk: Lede van die Bethelgesin kry verskillende werktoewysings. In die Suid-Afrikaanse takkantoor werk party broers in die fabriek met drukperse wat tydskrifte, brosjures en traktate vir verspreiding in Suidelike Afrika druk. Die werk van ander behels dat hierdie publikasies na meer as 1 400 gemeentes gestuur word. ’n Paar het die werk om die toerusting en die geboue in stand te hou. In die Bethelhuis is daar baie werk betrokke by die versorging van die gesin. Ontbyt word byvoorbeeld binne 20 minute aan ongeveer 760 mense in twee eetsale bedien. In die wassery werk broers en susters elke week met 3 200 kilogram klere, en dit sluit 2 300 hemde in. Verder handhaaf skoonmakers ’n hoë standaard van reinheid in die agt woongeboue, en hulle sien na baie ander noodsaaklike werkies om.
8 Kwalifikasies en vereistes: Weens die fisiese uithouvermoë en krag wat baie van hierdie werk vereis, bestaan daar tans ’n behoefte aan gesonde, ongetroude jong manne. Om vir Betheldiens aansoek te doen, moet ’n jong man ten minste ’n jaar toegewy en gedoop wees. Hy moet ’n toegewyde, geestelike persoon wees. Hy moet ook gewillig wees om harde werk te verrig. In vandag se wêreld beskou baie mense harde werk as iets wat vermy moet word. Die jong man wat dus vir Betheldiens aansoek doen, moet hom tot so ’n mate met die nuwe persoonlikheid beklee dat hy harde werk wil doen, deur met sy hande werk te doen wat goed is. (Vergelyk Efesiërs 4:28.) Dit beteken dat hy nie iemand moet wees wat net aan die najaging van persoonlike plesier, ontspanning of vermaak dink nie. Wanneer hy Betheldiens oorweeg, moes hy reeds van sulke jeugdige eienskappe ontslae geraak het. Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:11 is heel gepas: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê.”
9 Is jy tussen die ouderdom van 19 en 35? Geniet jy goeie gesondheid, fisies en emosioneel? Kan jy lees, skryf en Engels goed praat? Is jy ’n geestelike persoon wat ’n innige liefde vir Jehovah en sy organisasie het? As jy Bethel toe genooi word, sal jy vir ten minste een jaar getrou in daardie diens bly en enige werk doen wat aan jou gegee word? As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, sal dit goed wees as jy die unieke voorreg van Betheldiens oorweeg. Die seëninge is oorvloedig.
10 Seëninge van Betheldiens: Die artikel “Beskou die ‘Huis van God’ met waardering”, in Die Wagtoring van 15 Junie 1994, het gesê: “Ondervind jy, wanneer jy ’n byeenkoms bywoon, ’n diep innerlike tevredenheid omdat jy tussen gelukkige aanbidders van Jehovah is? Dink net, ’n Bethelwerker het die voorreg om Jehovah elke dag tussen ander broers te dien! (Psalm 26:12). Watter uitstekende geleenthede bied dit tog vir geestelike groei! Een broer het gesê dat hy in een jaar by Bethel meer geleer het wat hom gehelp het om sy persoonlikheid te verander as wat hy in drie jaar elders geleer het. Waarom? Want hy het nêrens anders die geleentheid gehad om die geloof van soveel ryp Christene waar te neem en na te volg nie” (Spr. 13:20). Dit is beslis een van die unieke seëninge van Betheldiens.
11 By die Brooklynse Bethel geniet vrywilligers noue omgang met lede van die Bestuursliggaam en ander gesalfdes, asook met broers van die ander skape wat al jare getrou dien. Ongeag watter werktoewysing jy het, dit is ’n seën om in eenheid met soveel getroue, lojale metgeselle te werk. Hier is ’n paar kommentare van lede van die Brooklynse Bethelgesin wat die gevoelens van ander weerspieël wat ’n aandeel aan hierdie kosbare diensvoorreg het:
◼ ’n Broer wat al 62 jaar in Bethel dien en wat deur die jare heen ’n verskeidenheid werktoewysings gehad het, het oor die gees by Bethel gesê: “Ons is almal een gesin; ons is almal broers. Ons werk saam. Ons het almal ons toewysings. Dit is wonderlik om die broers hard te sien werk; jy kan sien hoe hulle hulle inspan. Daar is broers wat die vloere vee. As jy die plek skoon hou, hou jy die gesin gesond. As jy die gesin gesond hou, is die gesin produktief. Dit is noodsaaklik. Dit is belangrik om mense in die kantoor te hê. Saam bring ons die resultaat voort—die wêreldwye Koninkryksverkondigingswerk. Dit is die beste plek ter wêreld om ’n loopbaan in Jehovah se diens te volg. As jy in die voltydse diens wil wees, kan jy dit die beste hier doen. Alles is tot jou beskikking. Ons geniet ekstra voorregte hier. Jy kan die organisasie sien omdat jy hoor wat in die uithoeke van die aarde gebeur.”
◼ Een 75-jarige gesalfde broer, wie se eerste werktoewysing ongeveer 48 jaar gelede in die boekbindery was, het gesê: “Dit is ’n wonderlike ondervinding om tussen toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah te woon. As ek ’n jong man na Bethel sien kom, loop my hart oor van dank aan Jehovah omdat ek weet dat hierdie man ’n gelukkige lewe hier by Bethel gaan hê.” Hy het oor die dinge by Bethel wat vir hom kosbaar is, gesê: “Ek is lief vir sy mense. Ek dink hulle is pragtig. Daar is iets omtrent die broers wat al baie jare by Bethel is wat jy nêrens anders op aarde sal vind nie. Daar is die hartlikheid, begrip en eenheid wat die verstand te bowe gaan.”
◼ ’n Ander broer wat al meer as 62 jaar by Bethel dien, het kommentaar gelewer oor verdere voordele wat hy geniet het: “As jy Bethel toe kom, stel dit jou in staat om gespesialiseerde opleiding op die gebied van uitgewery op te doen ... en bowenal rus die Bybelonderrig hier jou toe om ’n bevoegde verteenwoordiger van Jehovah God te wees waarheen jy ook al in die wêreld gestuur word.”
◼ ’n Lid van die Bestuursliggaam, wat nou 92 is, dien al 58 jaar by Bethel. Wat dink hy van Betheldiens? “Die Bethelgesin hier en oor die hele wêreld is ’n wonderlike reëling van toegewyde mense.”
◼ ’n Paar maande voor ’n lid van die Bestuursliggaam op 98-jarige leeftyd getrou in sy toewysing gesterf het, het hy hom as volg uitgedruk: “Ek geniet my Betheldiens. Dit is die beste plek op aarde.”
◼ Hoe beskou ’n jong man Betheldiens? Een jong broer het onlangs geskryf: “Aangesien, soos Jesus gesê het, ‘gewers die grootste vreugde sal kry’, is Bethel die gelukkigste plek waar ek nog ooit was.” Die Bethelgesindheid behels inderdaad dat jy van jouself gee.
◼ ’n Broer wat al 51 jaar in die voltydse diens is, het dinge mooi opgesom toe hy gesê het: “Betheldiens is werklik uniek. Dit vorm ’n lewensbelangrike deel in die uitvoering van Jehovah se voorneme hier op aarde. Enigeen wat dus die voorreg het om by Bethel te dien, moet groot waarde daaraan heg. Bethel stel ons werklik in staat om ’n lewe van godvrugtige toegewydheid ten volle uit te leef.”
12 Die daaglikse roetine: Die daaglikse roetine van ’n Bethelgesinslid draai geheel en al om ’n lewe van Koninkryksbedrywigheid. Van Maandag tot Saterdag, teen 7:00vm., begin oggendaanbidding in ons eetsale. Gesinslede lewer kommentaar oor die dagteks en ’n lid van die Takkomitee of ’n ander broer wat al baie jare in die voltydse diens is, maak dan ’n opsomming, wat deur die oggendgebed gevolg word. Hierdie program versterk die gesin geestelik vir die dag se bedrywighede. Lede van die Bethelgesin sal vir jou sê dat dit ’n hoogtepunt van die dag is. Ná ’n stewige ontbyt is die Bethelgesinslede ywerig om met hulle onderskeie werktoewysings te begin. Van Maandag tot Vrydag is die werksdag van 8:00vm. tot 5:00nm., met een uur wat vir middagete opsygesit word. Saterdae word daar ook van 8:00vm. tot 12:00 die middag gewerk. Saans, Saterdaemiddae en Sondae gaan Betheliete na hulle gemeentelike vergaderinge, neem aan die huis-tot-huis-werk deel, hou Bybelstudies of sien om na persoonlike verantwoordelikhede. Hulle kan van Bethel se biblioteekfasiliteite gebruik maak vir persoonlike studie of om vir vergaderinge voor te berei. O ja, daar is tyd vir die nodige rus en ontspanning (Mark. 6:31, 34). Uit hierdie kort beskrywing kan ons gou sien dat Betheldiens ’n mens in staat stel om ’n groot gedeelte van jou tyd elke dag aan heilige diens te wy, vry van die afleidings van hierdie ou stelsel van dinge.
13 Gemeentelike bedrywighede: Lede van die Suid-Afrikaanse Bethelgesin word na meer as 60 gemeentes in die Johannesburg-omgewing gestuur. Hulle waardeer die rol wat die plaaslike gemeente speel om hulle geestelikheid te handhaaf. Hulle is dus bedrywig in hulle gemeente, woon die vyf vergaderinge by en het ’n gereelde deelname aan die veldbediening saam met hulle broers. Buiten gemeentelike vergaderinge het die Bethelgesin hulle eie Wagtoring-studie op ’n Maandagaand; ouer manne en bedieningsknegte ontvang die toewysing om kommentaar te lewer tot almal se voordeel. Aangesien die Bethelrooster geestelike dinge beklemtoon, het dit ’n vreugdevolle, gelukkige lewe in die diens van Jehovah tot gevolg.—1 Kor. 15:58.
14 Voorbereiding vir Betheldiens: Jong manne vra dikwels wat hulle kan doen om vir Betheldiens voor te berei. ’n Lid van die Bestuursliggaam wat op die Personeelkomitee dien, het gesê: “Wanneer jy na Bethel toe kom, moet jy kom om te dien, nie om bedien te word nie. Hoe meer jy leer om te dien, hoe groter sal jou vreugde wees. Leer om te gee en nie om te neem nie. Wees beskeie, wees nederig. Die vrugte van die gees—dit is wat ware Christelikheid behels.” Ja, die sleutels tot sukses by Bethel is om jou geestelikheid te ontwikkel en ’n hegte verhouding met Jehovah te hê. Dit is waarom pioniers dikwels aanvaar word wanneer nuwe Bethelvrywilligers gekies word. As iemand hom gedissiplineer het om oor ’n tydperk 90 uur per maand aan die predikings- en onderrigtingswerk te wy en om aan ander te gee, sowel as om tyd in te ruim vir die werk wat nodig is om homself te onderhou, het hy ’n goeie geestelike grondslag vir Betheldiens en die ordelike lewenswyse daar gelê. Maar onthou asseblief dat Betheldiens nie beperk is tot diegene wat in die pionierdiens is nie. Enigeen wat aan die basiese vereistes voldoen, kan aansoek doen.
15 Daarbenewens is dit goed vir jong manne om te leer hoe om met hulle hande te werk. Daar word in hierdie ou stelsel van dinge op handearbeid neergesien. Eieliefde motiveer baie mense om werk te kry wat min inspanning vereis of wat ’n uiterlike skyn van aansien gee. Tog is dit baie prakties en nuttig om te weet hoe om verskillende soorte gereedskap en toestelle te gebruik (Spr. 22:29). Jong manne kan dikwels vaardighede by hulle ouers leer of deur ervare ouer manne te help om aan verskeie projekte by die Koninkryksaal te werk of deur bejaardes met die nodige instandhouding van hulle huise te help.
16 Soms vra jongmense: “Moet ek bykomende sekulêre opleiding ontvang om vir Betheldiens te kwalifiseer?” Sekulêre opleiding op sigself kwalifiseer niemand vir Betheldiens nie. Geestelike eienskappe is van die grootste belang en word van almal vereis wat genooi word. Ons moedig ouers en hulle kinders van skoolgaande ouderdom aan om sorgvuldig die gebalanseerde beskouing van sekulêre opleiding te hersien wat in Die Wagtoring van 1 November 1992, bladsye 15 tot 21, uiteengesit word. ’n Besluit oor sekulêre opleiding is ’n persoonlike saak. Wat ’n persoon ook al besluit, hy moet seker maak dat hy sy geestelike vooruitgang kan handhaaf deur hom voortdurend op die belangrikste werk van Jehovah se volk toe te spits, naamlik om van die waarheid te getuig.
17 Ongeag watter tipe sekulêre opleiding ’n mens ontvang, dit is baie nuttig om te leer dink. Die Bybel prys denkvermoë en praktiese wysheid (Spr. 1:4; 3:21, NW). As jy leer hoe om te dink en inligting te onthou, stel dit jou in staat om kennis en vaardighede op te doen wat vir jou en Jehovah se wêreldwye organisasie nuttig sal wees. Ten slotte, ongeag watter vaardighede iemand dalk het, dit is baie belangrik om goed met ander oor die weg te kan kom. Bethelvrywilligers moet hulle noue samewerking aan ’n span gee om ’n taak te verrig. ’n Onafhanklike of ’n wedywerende gees moet dus deur ’n gesindheid van samewerking en liefde vervang word, asook ’n bereidwilligheid om jou aan teokratiese leiding te onderwerp.—Vergelyk Efesiërs 4:16.
18 Jongmense in Jehovah se organisasie het ’n wonderlike geleentheid om daaraan te werk om die eienskappe wat hierbo genoem is aan te kweek. As hulle dan genooi word om by Bethel te dien, sal hulle in ’n goeie posisie wees om deur Jehovah se organisasie vir verdere verantwoordelikhede opgelei te word. Ons spoor julle as Christenouers en ouer manne aan om hierdie saak voortdurend onder jongmense se aandag te bring. Baie ouers bring hulle kinders gereeld om Bethel te besigtig, en sodoende raak hulle vertroud met wat hier gedoen word. Dit het talle beweeg om Bethel toe te kom ná hulle hulle opleiding voltooi het.
19 Ervare persone: Soms is ’n broer of suster nodig wat ’n bietjie ouer as 35 is en wat die opleiding en vaardighede het wat Bethel wil hê. Baie van die werk waarmee die Genootskap tans besig is, vereis ervare persone om saam met sterk, bekwame jong manne te werk wat opgelei kan word, “die meester saam met die leerling”.—1 Kron. 25:8.
20 ’n Toenemende hoeveelheid van vandag se werk vereis mense met ondervinding in die elektronika of met rekenaarprogrammering. Die Genootskap het talle fotokopieerders, laserdrukkers en persoonlike rekenaars wat almal instandhouding nodig het. Daar bestaan ook ’n behoefte in die wetlike en mediese veld: prokureurs, dokters, fisioterapeute, sowel as geregistreerde en gelisensieerde praktiese verpleegsters. Diegene wat in die verskillende tipes bouwerk gekwalifiseerd is, soos die ingenieurswese, loodgieterswerk, elektriese werk en HVAC (verhitting, ventilasie en lugversorging), kan gebruik word. Ervare broers met ’n deeglike agtergrond in rekeningkunde, veral diegene wat dalk geoktrooieerd is, kan ook van hulp wees. Om onkoste te verminder, het die Genootskap sy eie vloot voertuie wat vir die vervoer van lektuur gebruik word. Dus is ervare bestuurders en werktuigkundiges nodig.
21 Ons grootste behoefte is aan toegewyde, ongetroude broers en diegene met spesiale vaardighede, al is party van hulle dalk getroud. Jy kan ’n Bethelaansoekvorm by jou kringopsiener kry of by ’n streekbyeenkoms tydens die spesiale vergadering wat gehou word vir diegene wat in Betheldiens belangstel, of jy kan skryf aan die Wagtoringgenootskap, Aandag: Bethelkantoor, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740. As jy getroud is, moet jy in gedagte hou dat jou huweliksmaat ook geestelik, emosioneel en fisies vir Betheldiens moet kwalifiseer. As jy in een van die voormelde velde opleiding en ondervinding het, moet jy asseblief ’n volledige résumé uitskryf en dit aan jou Bethelaansoekvorm heg.
22 Kan jy gehoor gee aan ’n dringende oproep? Daar bestaan ’n dringende behoefte aan Bethelwerkers. As jy aan die vereistes vir Betheldiens voldoen, spoor ons jou ten sterkste aan om ’n Bethelaansoekvorm in te gee in antwoord op hierdie dringende oproep. Moenie mismoedig wees as jy nie dadelik genooi word nie. Jy kan jou aansoek jaarliks hernieu. Dit voorsien ons van die jongste inligting oor jou beskikbaarheid.
23 Ten aanhore van die profeet Jesaja het Jehovah gevra: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Jesaja het sonder aarseling geantwoord: “Hier is ek, stuur my.” Jesaja het gevolglik ’n buitengewone loopbaan as God se profeet begin. Kan jy sê: “Hier is ek, stuur my”? Baie seëninge wag op jou as jy genooi word om in die “huis van God”, Bethel, te dien.—Jes. 6:8.