Gaan terug na alle belangstellendes om ander te bevoordeel
1 Ons moet wakker wees om terug te gaan na alle belangstellendes wat ons in die veld vind. Party meen dat dit slegs die moeite werd is om ’n herbesoek te doen as die persoon lektuur geneem het. Maar dit is beslis nie so nie. Elke keer wanneer iemand selfs net ’n bietjie belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, wil ons alles in ons vermoë doen om daardie persoon te bevoordeel. Ons doen dus herbesoeke met die doel om die persoon se belangstelling te kweek en ’n tuisbybelstudie te begin. Dit is ons doel selfs wanneer ons nie lektuur by iemand laat nie. Hoe kan dit gedoen word?
2 As jou vorige gesprek gehandel het oor hoe algemeen huweliksprobleme vandag is en jy die “Paradys op aarde”-boek by die persoon gelaat het, kan jy jou gesprek so begin:
◼ “Tydens my vorige besoek het ons gepraat oor die huwelik en praktiese Bybelraad wat ons kan help om groter geluk te vind. Is dit nie waar dat probleme van tyd tot tyd selfs in die gelukkigste gesinne ontstaan nie? [Laat die huisbewoner antwoord.] Die Bybel gee ons uitstekende raad wat ons kan help om gesinsprobleme op te los. Dit kan vir ’n gesin seëninge meebring as hulle die Bybel saam bestudeer.” Blaai na bladsy 246 en bespreek paragraaf 23. Lees Johannes 17:3 en bied aan om die gesin te help om die Bybel tuis te begin bestudeer.
3 As jy oor kinders en hulle behoefte aan opleiding gepraat het, kan jy die bespreking op hierdie manier voortsit:
◼ “Ons het voorheen gepraat oor die geestelike opleiding wat kinders nodig het en hoe ouers hulle kan help. Die meeste ouers met wie ek al gepraat het, is verontrus oor die slegte gedrag van soveel jongmense van vandag. Wat dink jy van ...? [Noem ’n voorbeeld van slegte gedrag onder jongmense wat dikwels in julle gemeenskap waargeneem word. Laat die huisbewoner antwoord.] Laat ek jou van die praktiese raad wys wat in die Bybel gegee word.” Blaai na paragraaf 22 op bladsy 246 in die Paradys op aarde-boek, bespreek die hoofpunt en lees Efesiërs 6:4. Wys daarop dat die meeste kinders in werklikheid dissipline en leiding wil hê. Wanneer ouers dit getrou voorsien, is die kinders gelukkiger en eerbiediger. Verduidelik hoe ons die Bybel met ons kinders studeer.
4 As jou gesprek oor die Paradysaarde gehandel het, kan jy die volgende sê om die belangstelling weer aan te wakker:
◼ “Ons het na ’n paar prente in hierdie boek gekyk wat vir ons gewys het hoe die aarde gaan wees wanneer God dit ’n paradys maak. Dit sal nie vir ons veel beteken as ons dit nie saam met ons geliefdes kan geniet nie. Stem jy nie saam nie?” Laat die huisbewoner antwoord. Blaai dan na bladsy 162 in die Paradys op aarde-boek. Lees Openbaring 21:3,4 en verduidelik hoe ons geliefdes altyd saam met ons kan wees. As die huisbewoner gunstig reageer, kan jy Johannes 5:28,29 lees om te toon dat die dooies weer sal lewe. Vestig die aandag op die buiteblad van die boek en sê: “Dit is werklik so—ons kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe!” Reël vir nog ’n besoek om te bespreek waarom ons weet dat dit nabyis.
5 Die hoofdoel van ’n herbesoek is om belangstellendes te help om by die Koninkryksboodskap baat te vind. Die meeste mense moet gestimuleer word om hulle belangstelling in geestelike dinge te wek. Vestig hulle aandag op spesifieke punte in die lektuur wat praktiese waarde het en beklemtoon hoe dit hulle kan help om die Bybel beter te verstaan. Herbesoeke wat hierdie doelwitte bereik, sal ander help om hulleself op die beste manier moontlik te bevoordeel.