Help ander om hulleself te bevoordeel
1 Jehovah belowe om ons te leer wat ons moet weet. In Psalm 32:8 gee hy ons die versekering: “Ek sal jou insig skenk en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (NW). Hierdie versekering strek ons grootliks tot voordeel. Ons wil onselfsugtig aan ander toon hoe hulle hulleself kan bevoordeel deur gehoor te gee aan die wyse raad in die Bybel (Jes. 48:17, NW). Gedurende September kan ons dit doen deur die Paradys op aarde-boek aan te bied. Wanneer ons ons aanbiedings doen, is daar verskillende maniere waarop ons die praktiese waarde van die Bybel kan toon.
2 Aangesien huweliksprobleme vandag so algemeen is, besluit jy dalk om die aandag op hierdie gedagte in die “Paradys op aarde”-boek te vestig:
◼ “Die meeste mense met wie ek al gepraat het, is baie bekommerd oor die geweldige toename in ongelukkige huwelike en egskeidings. Wat dink jy van hierdie probleem? [Laat die huisbewoner antwoord.] Baie mense besef nie wat die onderliggende oorsake is nie. As egpare ’n opregte poging aanwend, kan hulle nie net hulle huwelik red nie, maar hulle kan ook ware geluk vind. Die sleutel tot sukses is die toepassing van raad wat in die Bybel gevind word.” Lees Efesiërs 5:28, 29, 33. Blaai na bladsy 243, bespreek paragrawe 16 en 17 en bied dan die boek aan.
3 Kinders het kwaliteitstyd en opleiding van hulle ouers nodig. Wanneer jy die “Paradys op aarde”-boek aanbied, kan jysê:
◼ “Ons almal is besorg oor die toekomstige welsyn van ons jongmense. Wat dink jy is die beste manier waarop ouers hulle kinders kan help om ’n veilige toekoms te vind? [Laat die huisbewoner antwoord.] Luister na hierdie raad in ’n Bybelspreuk wat sowat 3 000 jaar gelede geskryf is. [Lees Spreuke 22:6.] Hoewel ons kinders baie baat kan vind by die onderrigting wat hulle op skool ontvang, word hulle waardevolste opleiding tuis deur hulle ouers voorsien. Dit vereis tyd, aandag en liefde, maar dit is beslis die moeite werd.” Blaai na bladsy 245, bespreek paragrawe 20 en 21 en verduidelik dan hoe die boek as ’n Bybelstudiehulp vir ’n gesinstudie gebruik kan word.
4 Jy wil dalk die “Paradys op aarde”-boek aanbied deur te toon hoe die aarde ’n paradys gaan word:
◼ “Ek is seker jy is besorg oor hoe jou lewe in die toekoms gaan wees. In die Onse Vader het Jesus ons leer bid dat God se wil op die aarde moet geskied soos in die hemel. Hoe sal die aarde wees wanneer dit plaasvind? [Laat die huisbewoner antwoord.] Hier is ’n kunstenaarsvoorstelling van ’n paradyswêreld. [Verwys na die prent op bladsye 12 en 13. Lees dan Jesaja 11:6-9 wat in paragraaf 12 voorkom.] Sal dit nie wonderlik wees om in so ’n wêreld te lewe nie? Hierdie boek sal vir jou wys hoe jy en jou gesin in so ’n paradys kan lewe.”
5 Jy moet jou aanbieding vooraf voorberei, aangesien dit grootliks bepaal hoe suksesvol jy by die deur gaan wees. Voor jy klop, moet jy seker maak dat jy iets spesifieks het om oor ’n skriftuurlike gedagte te sê. Hou ook ’n kort opmerking in gedagte oor ’n interessante punt in die tydskrif of traktaat wat jy van plan is om aan te bied as die boek nie aanvaar word nie. Maak van elke geleentheid gebruik om die saadjies van Koninkrykswaarheid gedurende September te saai (Pred. 11:6). Jy sal ander help om ewige voordele te ontvang.