Die hele Skrif is nuttig om te onderrig
1 Daar bestaan talle uiteenlopende menings oor die Bybel se waarde. Maar ons is oortuig daarvan dat die bladsye van die Bybel die antwoorde op die mensdom se ingewikkelde probleme sowel as betroubare leiding vir ons persoonlike lewenswandel bevat (Spr. 3:5, 6). Die wysheid van die raad daarin is ongeëwenaard. Die sedelike standaarde wat dit voorstaan, is onoortreflik. Die boodskap daarvan is kragtig en “kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Hoe kan ons ander die nodigheid daarvan laat sien om hierdie boek van die rak af te haal en dit noukeurig te ondersoek? Jy sal dalk van die volgende wenke wil probeer wanneer jy gedurende November die boek Die mensdom se soeke na God met die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte aanbied.
2 Aangesien baie mense wat ons teëkom moontlik godsdienstig is en nie daarin belangstel om hulle godsdiens te verander nie, sal hierdie benadering dalk hulle belangstelling wek:
◼ “In gesprekke met ons bure vind ons dat baie mense tevrede is met hulle godsdiens en nie wil verander nie. Maar dink jy dat dit tot beter verstandhoudings en minder haat in die wêreld kan lei as mense die tyd neem om ander se opvattings te ondersoek? [Laat die huisbewoner antwoord.] Let op wat die Bybel sê oor diegene wat liefde vir God het en hoe hulle oor ander moet voel.” Nadat jy Handelinge 17:26, 27 gelees het, kan jy die aandag vestig op paragrawe 15 en 16 op bladsy 10 van die boek Die mensdom se soeke na God. Bied die boek teen ’n bydrae van R5,30 aan.
3 Hier is nog ’n wenk wat jy kan gebruik:
◼ “Elke keer as ons die koerant lees of na die nuus luister, hoor ons van nog ’n sorgwekkende probleem wat ons angstig laat voel. [Meld ’n ontstellende gebeurtenis wat onlangs in die nuus was.] Hoe kan ons sulke probleme die hoof bied? [Laat die huisbewoner antwoord.] In 1983 het die destydse president van die Verenigde State [Ronald Reagan] gesê dat die Bybel die beste boodskap bevat wat nog geskryf is en dat ‘die bladsye daarvan al die antwoorde op al die probleme bevat wat die mens al geteister het’. Wat hy gesê het laat ons dink aan wat die Bybel self sê. [Lees 2 Timoteus 3:16, 17.] Laat ek jou wys waarom ons vertroue in die Bybel kan hê.” Vestig die aandag op ’n paar gedagtes in die traktaat Waarom jy die Bybel kan vertrou. “Om mense se vertroue in die Bybel te help opbou, bied ons hierdie moderne vertaling, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte en die Bybelstudiehulp met die titel Die mensdom se soeke na God vir ons bure aan. Ons sal graag na jou toe terugkom en jou wys hoe jy die grootste voordeel uit jou studie van die Bybel kan trek.” Bied die twee publikasies teen R10,90 aan.
4 As daar baie mense in julle gebied is wat nie godsdienstig is nie, kan jy hierdie benadering probeer:
◼ “Baie mense in hierdie gebied beskou sekere heilige boeke as teenstrydig en niks anders as mites nie. Hulle het al soveel slegte dinge gesien wat in die naam van godsdiens gedoen is dat hulle nie eers die Bybel vertrou nie. Trouens, al hoe meer mense wonder of die Bybel God se Woord of die mens s’n is. Wat dink jy?” Laat die huisbewoner antwoord. Na gelang van die huisbewoner se reaksie kan jy na ’n deel in die boek Die mensdom se soeke na God blaai wat oor sy beswaar of beskouing handel en een of twee punte bespreek. Byvoorbeeld, jy kry dalk ’n geleentheid om die venster op bladsye 340 en 341 te gebruik.
5 Ons Grootse Onderrigter het verseker dat kennis van sy wil toeganklik is vir almal wat wil leer. Een van die beste dinge wat ons kan doen om ander te help, is om hulle die werklike waarde van die Bybel te help besef; dit kan hulle lewe red.—Spr. 1:32, 33.