Die waarde van die Bybel in vandag se wêreld
1 Baie beskou die Bybel vandag as verouderd en onrealisties. Hoewel dit die boek is wat in die ganse geskiedenis nog die wydste verspreiding geniet het en die meeste vertaal is, lees betreklik min dit, en nog minder volg die leiding daarvan.
2 In teenstelling hiermee waardeer ons die Bybel as die Woord van God. Die feite toon dat dit geskiedkundig waar is. Bowendien is die Bybel se merkwaardige harmonie, sy profesieë en sy wysheid, asook die feit dat dit mense se lewe ten goede beïnvloed, alles bewyse dat dit “deur God geïnspireer” is (2 Tim. 3:16, NW). Ons persoonlike ondervinding en ons waardering vir hierdie wonderlike gawe moet ons beweeg om ander aan te spoor om die werklike waarde daarvan te ondersoek.
3 Een benadering kan wees:
◼ “Met die oog op die ernstige probleme wat die mens in die gesig staar, vind baie dit moeilik om in God te glo of twyfel hulle aan God se vermoë om die probleme waarmee ons te kampe het, op te los. Hoe voel jy daaroor? [Laat huisbewoner antwoord.] Kyk na die titel van hierdie traktaat: Waarom jy die Bybel kan vertrou.” Vestig die aandag op die prent op die voorblad, en lees dan die eerste twee paragrawe op bladsy 2. As die huisbewoner belangstelling toon, kan jy die teksverwysings in die tweede paragraaf lees en bespreek. Tref reëlings om terug te gaan en die traktaat verder te bespreek—moontlik deur een van die tussenhofies in die vorm van ’n vraag te gebruik om belangstelling aan te wakker.
4 ’n Ander benadering kan iets wees soos:
◼ “Stem jy nie saam dat mense leiding nodig het om lewensprobleme die hoof te bied nie? [Laat huisbewoner antwoord.] In die verlede het mense hulle dikwels tot die Bybel gewend vir leiding, maar tye het verander. Dink jy die Bybel het vandag praktiese waarde? [Laat huisbewoner antwoord.] Let op wat 2 Timotheüs 3:16 sê. [Lees.] God se geskrewe Woord help ons nie net om verstandige besluite te neem nie, maar dit voorsien ook ’n betroubare hoop vir die toekoms.” Lees Johannes 17:3. Meld een of twee spesifieke punte wat jy vooraf uit die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? gekies het om die praktiese waarde van die Bybel toe te lig.
5 Jy sal dit moontlik nuttig vind om party van die inleidings te gebruik op bladsye 10-11 van die Redenering-boek onder die tussenhofie “Bybel/God”. Bykomende inligting op bladsye 74-84 kan nuttig wees om huisbewoners se vrae te beantwoord of hulle besware die hoof te bied.
6 Bied die New World Translation aan: Baie mense stel daarin belang om ’n moderne vertaling van die Engelse Bybel te bekom. Bied gerus vir hulle ’n eksemplaar van die New World Translation aan. As jy jou persoonlike eksemplaar byderhand het, kan jy die aandag op party van die nuttige kenmerke van die New World Translation vestig. Jy kan een of twee van die punte op bladsye 304-8 van die Redenering-boek meld. Sê vir die huisbewoner dat jy graag die New World Translation saam met die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? by hom wil laat teen ’n bydrae van R15,00. Jy sal moontlik ook hoërskoolleerlinge teëkom wat graag ’n eksemplaar van die New World Translation wil hê.
7 Wees wakker vir geleenthede om mense aan te spoor om die Bybel te lees. Help belangstellendes om respek en liefde vir die geskrewe Woord van God aan te kweek. As hulle die beginsels daarin in hulle persoonlike lewe toepas en ’n kennis van die waarheid opdoen, sal hulle nou sowel as in die toekoms baie voordele geniet.—Ps. 119:105.