Gedra julle op ’n wyse wat die goeie nuus waardigis
1 As Jehovah se Getuies wil ons graag Jehovah se naam tot eer strek. Ons weet dat ons gedrag, spraak, persoonsversorging en kleredrag ander se beskouing van ware aanbidding kan beïnvloed. Dit is veral die geval wanneer ons by ons vergaderinge is. Ons wil sorg dat alles wat by die vergaderinge gesê en gedoen word die goeie nuus waardig is en Jehovah tot eer strek.—Fil. 2:4.
2 Baie van die wêreld se standaarde vir kleredrag en persoonsversorging is onaanvaarbaar vir Christene. Dit is ’n saak waaraan bedienaars van die goeie nuus noukeurig moet aandag skenk. Die Wagtoring van 1 Junie 1989, bladsy 20, het gesê: “Ons klere hoef nie duur te wees nie, maar dit moet skoon, smaakvol en beskeie wees. Ons skoene moet ook heel wees en goed lyk. By alle vergaderinge, met inbegrip van die Gemeentelike Boekstudie, moet ons liggame insgelyks skoon wees en moet ons netjies en gepas geklee wees.”
3 Stiptelikheid is ’n teken van liefdevolle bedagsaamheid. Af en toe verhinder onvermydelike omstandighede ons dalk om betyds vir ’n vergadering op te daag. Maar as ons gereeld laat kom, openbaar dit moontlik ’n gebrek aan eerbied vir die heilige doel van die vergaderinge, asook ’n versuim om te besef dat ons ’n verantwoordelikheid het om ander nie te steur nie. Laatkommers trek dikwels ander se aandag af en verhinder hulle om ten volle by die program baat te vind. Stiptelikheid toon respek vir die gevoelens en belange van al die aanwesiges.
4 Liefde vir ons naaste moet ons daarop laat let om nie ander se aandag gedurende die vergaderinge af te trek nie. Wanneer ons fluister, eet, kougom kou, papiere frommel en onnodig toilet toe gaan, kan ons ander se konsentrasie verbreek en afbreuk doen aan die waardigheid wat Jehovah se plek van aanbidding toekom. Dit is nie gepas vir enigeen om na gemeentelike sake om te sien of om met ander te gesels nie tensy daar die een of ander noodgeval is wat vereis dat die broers uit hulle sitplekke moet wees. Almal moet andersins in hulle sitplekke wees en na die program luister sodat hulle hulleself en hulle gesin kan bevoordeel. Slegte maniere is onvanpas by die Koninkryksaal omdat ‘die liefde hom nie onwelvoeglik gedra nie’.—1 Kor. 13:4,5; Gal. 6:10.
5 Die goeie gedrag van ons kinders by vergaderinge strek ook Jehovah se naam tot lof en eer. Dit is belangrik dat ouers goed toesig hou oor hulle kinders. Kinders moet aangemoedig word om te luister en aan die vergaderinge deel te neem. Baie ouers met klein kindertjies verkies om in plekke te sit waar hulle maklik kan uitgaan en na die behoeftes van hulle kinders kan omsien sonder om ander onnodig te steur.
6 Paulus het gemaan: ‘Gedra julle op ’n wyse wat die goeie nuus waardig is’ (Fil. 1:27). Laat ons dus probeer om goed gemanierd en bedagsaam teenoor ander te wees wanneer ons vergaderinge bywoon. As almal hulle samewerking gee, sal dit verseker dat daar ‘’n uitwisseling van aanmoediging sal wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof’.—Rom. 1:12.