Wees heelhartig in die veldbediening
Deel 1—Die waarde van waardering vir Jehovah
1 Heelhartigheid in die bediening spruit voort uit diep waardering vir Jehovah en alles wat hy vir ons gedoen het (2 Sam. 22:2, 3). As ons empatie het vir die benarde toestand van die hele mensdom wat van God vervreemd is, moet dit ons beweeg om ons in die velddiens in te span (Matt. 9:36; 2 Kor. 5:14, 15). Hoe groter ons toegewydheid aan Jehovah en ons besorgdheid oor die mense, hoe meer sal ons beweeg word om entoesiasties aan die velddiens deel te neem (Matt. 22:37-39). Ons bediening word dan ’n skat wat hoog op prys gestel moet word (2 Kor. 4:7). Maar hoe kan sulke waardering vir die bediening aangekweek word?
HOE OM WAARDERING OP TE BOU
2 Persoonlike en gemeentelike Bybelstudie tesame met biddende bepeinsing help ons om ’n persoonlike verhouding met Jehovah op te bou. Ons leer om die sieraad van sy eienskappe en persoonlikheid te onderskei. Volg jy ’n weeklikse Bybelleesprogram? Sit jy gereeld tyd opsy om die Genootskap se publikasies te bestudeer? Berei jy vir alle gemeentelike vergaderinge voor, woon jy dit by en neem jy daaraan deel? (Hebr. 10:24, 25). Sinvolle bepeinsing gedurende en ná elke persoonlike studietyd sal hartgrondige waardering opbou vir die lieflikheid van ons goedhartige God en sy reëlings vir ware aanbidding.—Ps. 27:4.
3 Nog ’n manier waarop ons ons waardering kan vergroot, is om noukeurig te let op die voorbeeld van ander heelhartige dienaars van God. Die profeet Jeremia was verteer met ywer vir die werk wat aan hom toevertrou is (Jer. 20:9). Jesus het ’n voorbeeld van waardering en ywer nagelaat (Joh. 4:34). Deur sy arbeid in die bediening het die apostel Paulus sy dankbaarheid getoon vir die goddelike barmhartigheid wat aan hom bewys is (1 Tim. 1:12, 13, 17). Wanneer ons oor sulke voorbeelde, asook voorbeelde in hedendaagse tye nadink, kan ons waardering opbou wat ons heelhartig in die bediening sal maak.
4 Wanneer ons van die glorieryke prag van Jehovah se waardigheid leer en belangstelling in sy wonderlike werke toon, word ons beweeg om sy grootheid te verkondig en vreugdevol tot sy lof te jubel (Ps. 145:5-7, NW). Ons toon dat ons geleenthede om van die goddelike naam te getuig vir ons kosbaar is deur daadwerklik na maniere te soek om die Koninkryksboodskap te verkondig.—Luk. 6:45.
5 Maar is daar ander dinge wat ons sal beweeg om heelhartig aan die bediening deel te neem? Indien wel, wat is dit? Hoe kan ouere manne, bedieningsknegte, pioniers en ander ervare Koninkryksverkondigers help? Watter rol speel doelwitte om entoesiasme lewendig te hou? Watter voordele kan ons verwag? Hierdie vrae en ander sal beantwoord word in hierdie vyfdelige reeks, wat in toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening voortgesit sal word.