Die Gedenkmaal—’n Baie belangrike gebeurtenis!
1 Op Sondag, 23 Maart, sal ons ná sononder die herdenking van Christus se dood vier (Luk. 22:19). Dit is waarlik ’n baie belangrike gebeurtenis! Deur sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah tot die dood te handhaaf, het Jesus bewys dat dit vir ’n mens moontlik is om selfs onder swaar druk volmaakte godvrugtige toegewydheid te handhaaf en sodoende die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit te ondersteun (Heb. 5:8). Daarbenewens het Christus se dood die volmaakte menseofferande voorsien wat nodig was om die mensdom vry te koop en dit vir diegene wat geloof beoefen moontlik te maak om vir ewig te lewe (Joh. 3:16). As ons by die Gedenkmaal teenwoordig is, kan ons ons innige waardering toon vir Jehovah se liefde sowel as vir Jesus se offerande vir ons.
2 Almal word aangespoor om die Bybelleesprogram te volg wat vir 18-23 Maart geskeduleer is, soos aangedui op Jehovah se Getuies se kalender vir 1997. ’n Gesinsbespreking van hoofstukke 112-16 van die boek Die grootste mens wat nog geleef het sal ons ook help om ons aandag toe te spits op die belangrikste week in die mensegeskiedenis.
3 Kan jy gedurende die Gedenkmaalseisoen meer tyd in die veldbediening deurbring? Baie verkondigers gaan die vyf naweke in Maart ten volle benut deur as hulppioniers te dien. Kan ons ook onder hulle wees? Ons kan almal ’n volle deelname daaraan hê om by ander tuis te bring hoe belangrik dit is om die Gedenkmaal by te woon. Aangesien dit op ’n Sondag val, sal dit vir baie makliker wees om dit by te woon. Kom ons maak seker dat ons alle Bybelstudente en ander belangstellendes nooi om by ons aan te sluit. Bespreek met hulle wat die Kennis-boek op bladsy 127, paragraaf 18, sê aangaande die een dag van die jaar wat spesiaal gevier moet word.
4 Nader hierdie grootste gebeurtenis van 1997 met innige waardering vir alles wat Jesus se dood vir ons beteken. Wees teenwoordig die aand van 23 Maart wanneer ware Christene die Gedenkmaal oral getrou vier.