Vraebus
◼ Wanneer die gemeente gevra word om ’n begrafnis te help reël, kan die volgende vrae ontstaan:
Wie moet die begrafnistoespraak hou? Dit is ’n besluit wat deur die familielede geneem moet word. Hulle kan enige gedoopte broer met ’n goeie reputasie kies. As die liggaam van ouer manne gevra word om ’n spreker te voorsien, sal hulle gewoonlik ’n bekwame ouer man kies om ’n toespraak te hou wat op die Genootskap se skets gebaseer is. Hoewel die oorledene nie opgehemel moet word nie, kan dit gepas wees om die aandag te vestig op voorbeeldige eienskappe wat hy of sy geopenbaar het.
Die begrafnistoespraak kan met ’n lied en gebed open en sluit. Hierdie toespraak is nie bedoel om valse godsdiensopvattings aan te val nie, maar om die bedroefde familielede te vertroos en Jehovah as ’n God van liefde en barmhartigheid te vereer. ’n Broer sal nie toelaat dat ’n wêreldse persoon aan die program deelneem nie, aangesien dit tot ’n interkerklike diens kan lei.
Mag die Koninkryksaal gebruik word? Dit kan gebruik word as die liggaam van ouer manne toestemming gegee het en as dit nie inbreuk maak op die gereelde vergaderingtye nie. Die saal kan gebruik word as die oorledene ’n goeie reputasie gehad het en ’n lid van die gemeente of ’n minderjarige kind van ’n gemeentelid was. As die individu deur onchristelike gedrag opspraak verwek het, of as daar ander faktore is wat die gemeente dalk in ’n slegte lig kan stel, sal die ouer manne dalk besluit dat die saal nie gebruik mag word nie.—Sien Ons bediening-boek, bladsye 62-3.
Gewoonlik word Koninkryksale nie vir die begrafnis van ongelowiges gebruik nie. ’n Uitsondering kan gemaak word as agterblywende familielede daadwerklik met die gemeente omgaan as gedoopte verkondigers, heelparty in die gemeente geweet het dat die oorledene ’n gunstige gesindheid teenoor die waarheid gehad het sowel as ’n goeie reputasie vir opregte gedrag in die gemeenskap en geen wêreldse gebruik by die program ingelyf word nie.
Wanneer die ouer manne toestemming gee om die Koninkryksaal te gebruik, sal hulle in ag neem of dit gebruiklik is om die doodskis by die begrafnis te hê. As dit wel gebruiklik is, kan hulle toelaat dat dit in die saal ingebring word.
Wat van begrafnisse vir wêreldse mense? As die oorledene ’n goeie reputasie in die gemeenskap gehad het, kan ’n broer ’n vertroostende Bybeltoespraak in die roukamer of by die graf hou. Die gemeente sal nie ’n begrafnis reël vir iemand wat bekend was vir onsedelike, onwettige gedrag of wie se lewenstyl heeltemal in stryd was met Bybelbeginsels nie. ’n Broer sou beslis nie saam met ’n geestelike ’n interkerklike diens hou of aan enige begrafnis deelneem wat in ’n kerk van Babilon die Grote gehou word nie.
Sê nou die oorledene was uitgesit? Die gemeente sal oor die algemeen nie betrokke wees nie. Die Koninkryksaal sal nie gebruik word nie. As die persoon bewys begin lewer het dat hy berou het en ’n begeerte geopenbaar het om herstel te word, sal ’n broer se gewete hom moontlik toelaat om ’n Bybeltoespraak in die roukamer of by die graf te hou, om vir ongelowiges te getuig en om die familielede te vertroos. Maar voordat ’n broer hierdie besluit neem, sou dit verstandig wees om die liggaam van ouer manne te raadpleeg en hulle moontlike aanbevelings in ag te neem. In situasies waar dit nie verstandig sou wees dat daardie broer betrokke raak nie, sal dit dalk gepas wees vir ’n broer wat ’n lid van die oorledene se familie is om ’n toespraak te hou om die familielede te troos.
Verdere riglyne kan gevind word in Die Wagtoring van 15 Oktober 1990, bladsye 30-1; 1 Desember 1981, bladsy 28; 1 Junie 1980, bladsye 5-7; 15 Augustus 1978, bladsye 19-22; 15 Augustus 1977, bladsye 377-8; 1 Junie 1970, bladsye 262-3, en Die Ontwaak! van 8 September 1990, bladsye 22-3 en 22 Junie 1977, bladsye 10-13. Sien ook Ons Koninkryksbediening vir April 1987, bladsy 4.