Ouers—Leer julle kinders om die predikingswerk te doen
1 Ons gemeentes is geseën met baie kinders wat ’n opregte begeerte het om God te dien (Pred. 12:1). Hulle tel onder diegene wat deur Jehovah genooi word om hom te loof (Ps. 148:12-14). In die daaglikse opleiding wat kinders dus van hulle ouers ontvang, moet hulle ook geleer word hoe om hulle geloof aan ander uit te dra in die Koninkrykspredikingswerk.—Deut. 6:6, 7.
2 Leer kinders progressief: Kinders verdien om op ’n baie vroeë ouderdom geleer te word om hulle ouers in die bediening te vergesel. Voordat julle in die velddiens uitgaan, moet julle julle kinders voorberei sodat hulle op betekenisvolle wyse daaraan kan deelneem. Verduidelik voor die tyd wat julle van hulle verwag om by die deur te doen. Kinders wat nog baie jonk is, kan traktate en strooibiljette aanbied en mense na die Koninkryksaal toe nooi. Kinders wat goed kan lees, kan gevra word om ’n teks by die deur te lees. Hulle kan deur middel van ’n kort aanbieding die tydskrifte aanbied. Namate hulle ervaring opdoen, kan julle hulle leer om die Bybel in hulle aanbieding te gebruik. Talle jong verkondigers het hulle eie tydskrifroete begin en doen gereeld herbesoeke. Dit is beter vir ’n kind om saam met ’n volwassene te werk as saam met ’n ander kind. Die volwassene kan vir die huisbewoner verduidelik dat die kind in die bediening opgelei word.
3 ’n Dogtertjie het die ouer manne gevra om haar te help sodat sy as ’n Koninkryksverkondiger kon kwalifiseer. Hoewel sy toe maar net vyf jaar oud was en nie kon lees nie, kon sy die Koninkryksboodskap op doeltreffende wyse by die deure verkondig. Sy het geleer waar om die tekste te vind, daarheen geblaai, die huisbewoner gevra om dit te lees en dan die verduideliking gegee.
4 Kinders moet ook deur hulle ouers se voorbeeld geleer word hoe belangrik dit is om ’n goeie rooster te hê om aan die bediening deel te neem. Ouers moet ’n vaste weeklikse roetine vir velddiens hê en daarby bly, sodat die kinders weet watter deel van die week altyd vir die predikingswerk opsy gesit word.
5 Wanneer kinders van jongs af geleer word om lief te wees vir die bediening en dit te geniet, sal hulle gemotiveerd wees om in die toekoms na groter voorregte te streef, dalk ook die pionierdiens (1 Kor. 15:58). Ons almal moet die kinders in ons midde aanmoedig om as lowers van Jehovah goeie vordering te maak.