Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 6/98 bl. 3-6
  • Hoe daar na die Heer se besittings omgesien word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe daar na die Heer se besittings omgesien word
  • Ons Koninkryksbediening—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christenbestuurderskap
  • “Die getroue bestuurder, die verstandige”
  • Die klem verskuif
  • Verskillende organisatoriese behoeftes
  • Faktore om op te weeg
  • Hoe daar na die besittings omgesien word
  • Die vervaardiging van Bybellektuur vir gebruik in die bediening
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Bybellektuur word gedruk tydens ’n verbod op ons werk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Jy is ’n vertroude bestuurder!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1998
km 6/98 bl. 3-6

Hoe daar na die Heer se besittings omgesien word

1 In Bybeltye het ’n bestuurder ’n posisie van groot vertroue beklee. Abraham het sy bestuurder die taak opgelê om ’n vrou vir sy seun, Isak, te vind (Gen. 24:1-4). Dit was in werklikheid die bestuurder se verantwoordelikheid om te verseker dat Abraham se geslagslyn voortgesit word. Wat ’n verantwoordelikheid! Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus gesê het: “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind moet word”!—1 Kor. 4:2.

Christenbestuurderskap

2 Sommige aspekte van die Christelike bediening word in die Bybel as ’n bestuurderskap beskryf. Die apostel Paulus het byvoorbeeld met die Efesiërs gepraat oor “die bestuurderskap van die onverdiende goedhartigheid van God wat met die oog op julle aan my gegee is” (Ef. 3:2; Kol. 1:25). Hy het sy opdrag om die goeie nuus aan die nasies te verkondig as ’n bestuurderskap beskou wat hy getrou moes behartig (Hand. 9:15; 22:21). Die apostel Petrus het aan sy gesalfde broers geskryf: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te mor. Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as voortreflike bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid wat op verskillende maniere tot uiting gebring word” (1 Pet. 4:9, 10; Heb. 13:16). Watter materiële dinge daardie eerste-eeuse Christene ook al besit het, dit was aan Jehovah se onverdiende goedhartigheid te danke. Hulle was dus bestuurders van daardie dinge en moes dit op ’n Christelike manier gebruik.

3 Vandag het Jehovah se Getuies ’n soortgelyke beskouing oor sake. Hulle het hulle aan Jehovah God toegewy en beskou alles wat hulle het—hulle lewe, hulle fisiese krag, hulle materiële besittings—as vrugte van “God se onverdiende goedhartigheid wat op verskillende maniere tot uiting gebring word”. As voortreflike bestuurders voel hulle aanspreeklik teenoor Jehovah God vir die manier waarop hulle hierdie dinge gebruik. Daarbenewens is daar vir hulle ’n kennis van die goeie nuus gegee. Ook dít is ’n pand wat hulle graag op die beste moontlike manier wil gebruik: om Jehovah se naam te verheerlik en ander te help om tot ’n kennis van die waarheid te kom.—Matt. 28:19, 20; 1 Tim. 2:3, 4; 2 Tim. 1:13, 14.

4 Hoe kom Jehovah se Getuies hulle verantwoordelikhede as bestuurders na? Die jaarverslag toon dat hulle verlede jaar alleen meer as eenmiljard ure wêreldwyd aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk” bestee het en meer as 4 500 000 tuisbybelstudies met belangstellendes gehou het (Matt. 24:14). Hulle getrouheid as Jehovah se bestuurders is ook getoon deur hulle ruimhartige bydraes tot die wêreldwye werk en ter ondersteuning van plaaslike Koninkryksale, hulle gasvryheid teenoor reisende opsieners en ander, asook hulle uitsonderlike goedhartigheid teenoor diegene wat in groot nood verkeer—soos slagoffers van gewapende konflikte. As ’n groep sien ware Christene goed om na die Heer se besittings.

“Die getroue bestuurder, die verstandige”

5 Bestuurderskap bestaan nie net op ’n individuele vlak nie, maar ook op ’n organisatoriese vlak. Jesus het die gesalfde Christengemeente op aarde “die getroue bestuurder, die verstandige” genoem (Luk. 12:42). Dit is die verantwoordelikheid van hierdie “getroue bestuurder” om ‘voedselrantsoene’ te voorsien en om die leiding te neem in die internasionale verkondiging van die goeie nuus (Op. 12:17). Iets wat hiermee verband hou, is die feit dat die “getroue bestuurder”-klas, wat deur die Bestuursliggaam verteenwoordig word, ’n godgegewe verantwoordelikheid het om hulle materiële en geestelike “talente” behoorlik te bestuur (Matt. 25:15). In ooreenstemming met “die getroue bestuurder” se voorbeeld, doen individuele akkantore alles in hulle vermoë om alle finansiële bydraes op ’n verantwoordelike manier te gebruik ten einde Koninkryksbelange te bevorder. Al hierdie bydraes word op goeie geloof gedoen, en dit is “die getroue bestuurder, die verstandige” se verantwoordelikheid om te sorg dat dit vir die voorgenome doel gebruik word en dat dit verstandig, ekonomies en suksesvol aangewend word.

6 ’n Voorbeeld van die verstandige gebruik van bydraes word gesien in die uitbreiding van die drukkersbedrywighede van Jehovah se Getuies gedurende die 20ste eeu. Die verspreiding van Bybels sowel as Bybellektuur—tydskrifte, boeke, brosjures, boekies, traktate en Koninkryksnuus—het gedurende hierdie “laaste dae” ’n belangrike rol in die verspreiding van “die goeie nuus” gespeel (Mark. 13:10; 2 Tim. 3:1). En Die Wagtoring is ’n vername instrument waarmee “voedsel op die regte tyd” voorsien word aan “die huisgesin van God” en hulle metgeselle, die “groot skare” “ander skape”.—Matt. 24:45; Ef. 2:19; Op. 7:9; Joh. 10:16.

7 Kommersiële drukkers het aanvanklik al die lektuur van Jehovah se Getuies gedruk. Maar gedurende die twintigerjare is daar besluit dat dit doeltreffender en geestelik voordeliger sal wees as Jehovah se knegte hulle eie drukwerk doen. Die drukwerk het in 1920 op klein skaal begin en geleidelik in Brooklyn, New York, gegroei totdat dit baie groot geword het. Teen 1967 het die drukfasiliteite vier stadsblokke beslaan. Drukwerk is ook in ander lande aangepak, maar in die meeste gevalle is dit deur die Tweede Wêreldoorlog onderbreek.

8 Ongeag hoe groot die drukfasiliteite in die Verenigde State geword het, dit was nooit groot genoeg om vir die hele wêreld te druk nie. Daarom is drukfasiliteite in die jare ná die oorlog opgerig of was hulle reeds in werking in baie ander lande, waaronder Denemarke, Engeland, Griekeland, Kanada, Suid-Afrika, Switserland en Wes-Duitsland. Teen die vroeë sewentigerjare is Australië, Brasilië, die Filippyne, Finland, Ghana, Japan en Nigerië by die lys gevoeg. Sommige van hierdie lande het ook boeke gebind. Ook in die vroeë sewentigerjare is Gileadsendelinge opgelei om drukwerk te doen en na party van hierdie lande gestuur om die plaaslike broers met die drukwerk te help.

9 Gedurende die tagtigerjare het die aantal lande wat tydskrifte druk ’n hoogtepunt van 51 bereik.a Wat ’n voortreflike manier was dit tog om die Heer se besittings te gebruik! Wat ’n kragtige bewys van hoe die Koninkrykswerk gegroei het! En wat ’n kragtige getuienis van die ruimhartige ondersteuning van miljoene individuele Getuies van Jehovah wat ‘Jehovah met hulle waardevolle dinge geëer het’! (Spr. 3:9, NW). Hulle het dus getoon dat hulle voortreflike bestuurders is van dit waarmee Jehovah hulle op verskillende maniere geseën het.

Die klem verskuif

10 Gedurende die sewentiger- en vroeë tagtigerjare het die druktegnologie geweldige vooruitgang gemaak, en Jehovah se Getuies het nuwer druktegnieke begin gebruik. Voorheen het hulle die tradisionele hoogdrukmetode gebruik. Dit het geleidelik verander namate hulle na die moderner rubberdruk oorgeskakel het. Die resultaat is pragtige publikasies met volkleurprente in die plek van die tweekleurprente (swart en nog ’n kleur) wat op die ou hoogdrukperse gedruk is. Daarbenewens het rekenaartegnologie die hele persvoorwerk (voorbereiding vir drukwerk) verander. Jehovah se Getuies het ’n Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS) ontwikkel, ’n rekenaarstelsel wat drukwerk tans in meer as 370 verskillende tale moontlik maak. Geen kommersiële program kan kers vashou by MEPS se vermoë om al hierdie tale te behartig nie.

11 Danksy MEPS se rekenaartegnologie en die gebruik van ander tegnologiese ontwikkelings soos elektroniese pos, is verdere vooruitgang in die voorsiening van voedsel op die regte tyd gemaak. Voorheen, toe die ouer tegnologie gebruik is, het tydskrifte in ander tale inligting maande of selfs ’n jaar ná die Engels bevat. Nou verskyn Die Wagtoring tegelykertyd in 115 verskillende tale en die Ontwaak! in 62. Dit beteken dat meer as 95 persent van diegene wat wêreldwyd die weeklikse Wagtoring-studie van Jehovah se Getuies bywoon dieselfde materiaal op dieselfde tyd bespreek. Wat ’n seën is dit tog nie! Die Heer se besittings is voorwaar goed gebruik deur in al hierdie nuwe tegnologie te belê!

Verskillende organisatoriese behoeftes

12 Hierdie nuwe stelsels het die organisatoriese behoeftes van die wêreldwye drukfasiliteite van Jehovah se Getuies verander. Die rolrubberdrukperse is baie vinniger as die ou hoogdrukperse, maar hulle is ook baie duurder. Rekenaarstelsels waarmee verwante werk gedoen word, soos skryfwerk, vertaling, kuns- en grafiese werk, bied veel meer moontlikhede as die ou stelsels, maar is ook duurder. Dit het gou duidelik geword dat dit nie meer lonend was om tydskrifte in 51 verskillende lande te druk nie. Gevolglik het “die getroue bestuurder” in die negentigerjare weer na die situasie gekyk. Wat was die slotsom?

13 Studies het aan die lig gebring dat die “waardevolle dinge” wat Jehovah se Getuies en hulle vriende bydra beter bestee sou word as die drukwerk gekonsolideer word. Die aantal takke waar drukwerk gedoen word, is dus geleidelik verminder. Duitsland het die druk van tydskrifte en lektuur vir baie lande in Oos- en Wes-​Europa oorgeneem, waaronder sommige wat voorheen hulle eie drukwerk gedoen het. Italië voorsien tydskrifte en lektuur aan dele van Afrika en suidoos-Europa, onder meer Griekeland en Albanië. In Afrika is die druk van tydskrifte tot Nigerië en Suid-Afrika beperk. Soortgelyke konsolidering het oor die hele wêreld plaasgevind.

Faktore om op te weeg

14 Teen Julie 1998 sal daar in ’n aantal Europese lande, waaronder Denemarke, Frankryk, Griekeland, Nederland, Oostenryk en Switserland, nie meer tydskrifte gedruk word nie. In Europa sal die drukwerk deur Brittanje, Duitsland, Finland, Italië, Spanje en Swede behartig word. Sodoende sal onnodige uitgawes voorkom word en bydraes op ’n beter manier vir die wêreldwye werk aangewend word. Hoe is daar besluit watter lande sou voortgaan om drukwerk te doen en watter hulle drukwerk sou staak? “Die getroue bestuurder” het in ooreenstemming met sy opdrag om verstandig na die Heer se besittings om te sien, goed gekyk na hoe prakties dit is om in die verskillende lande drukwerk te doen.

15 Dit was oorwegend om praktiese redes dat drukwerk in sommige lande gestaak is en in ander gekonsolideer is. Dit is geriefliker as een land lektuur vir verskeie ander lande druk, en duur toerusting word ook beter gebruik. Drukwerk word nou gedoen waar dit goedkoper is, waar materiaal makliker verkrygbaar is en waar hulle oor goeie versendingsdienste beskik. Die Heer se besittings word dus behoorlik gebruik. Omdat drukwerk in ’n land gestaak word, beteken natuurlik nie dat die predikingswerk daar sal ophou nie. Daar sal steeds ’n oorvloedige voorraad gedrukte materiaal beskikbaar wees, en die honderdduisende Getuies van Jehovah in daardie lande sal ywerig voortgaan om hulle naaste van “die goeie nuus van vrede” te vertel (Ef. 2:17). Maar hierdie herorganisasie het ook ander voordele tot gevolg gehad.

16 Om een voordeel te noem—die meeste van die moderne perse van Denemarke, Griekeland, Nederland en Switserland is na die Filippyne en Nigerië gestuur. Bekwame operateurs van die Europese lande het die uitnodiging aangeneem om saam met die perse te gaan en die plaaslike operateurs op te lei om hulle te gebruik. Gevolglik kry hierdie lande nou tydskrifte van dieselfde hoë gehalte as wat ander lande kry.

17 Beskou nog ’n voordeel: Die koste om tydskrifte te druk word nou gedra deur die paar lande waar daar nog drukwerk gedoen word. In lande waar drukwerk gestaak is, is fondse gevolglik nou vir ander doeleindes beskikbaar, soos vir Koninkryksaalkonstruksie en om in die behoeftes van ons broers in armer lande te help voorsien. Die versigtige gebruik van die Heer se besittings beteken dus dat Paulus se woorde aan die Korintiërs met groter welslae op ’n internasionale skaal toegepas kan word: “Want ek bedoel nie dat dit vir ander maklik moet wees, maar vir julle moeilik nie; maar dat julle oorvloed nou deur middel van ’n gelykmaking hulle tekort kan aanvul . . . sodat ’n gelykmaking kan plaasvind.”—2 Kor. 8:13, 14.

18 Vanweë hierdie konsolidasie word Jehovah se Getuies in alle wêrelddele nouer saamgebind as ooit tevore. Die Getuies in Denemarke gee nie om dat hulle tydskrifte in Duitsland gedruk word nie, al het hulle voorheen hulle eie tydskrifte gedruk. Hulle is dankbaar vir die diens wat hulle Duitse broers lewer. Voel Jehovah se Getuies in Duitsland gegrief oor die feit dat hulle bydraes gebruik word om Bybellektuur vir Denemarke—of vir Rusland, die Oekraïne en ander lande—te voorsien? Natuurlik nie! Hulle is bly om te weet dat die bydraes van hulle broers in daardie lande nou vir ander noodsaaklike doeleindes gebruik kan word.

Hoe daar na die besittings omgesien word

19 Daar is in elke Koninkryksaal van Jehovah se Getuies regoor die wêreld bydraebussies waarin jy jou bydraes kan gooi. Die ongevraagde bydraes wat in hierdie bussies gegooi word, is beskikbaar vir gebruik waar daar ook al ’n behoefte is. “Die getroue bestuurder” en individuele takkantore bepaal hoe die bydraes gebruik word. Waar die wet dit toelaat, kan geld wat in een land in ’n bydraebussie gegooi word dus die bedrywighede ondersteun van Jehovah se Getuies in ’n ander land duisende kilometers daarvandaan. In sommige lande is bydraes al gebruik om noodbystand te verleen aan medegelowiges wat gely het weens dinge soos orkane, tornado’s, aardbewings en burgeroorloë. En sulke bydraes word gebruik om sendelinge in meer as 200 lande te onderhou.

20 In die gemeentes van Jehovah se Getuies word geldsake oor die algemeen slegs een keer per maand gemeld—en net ’n paar minute lank. Geen kollekteborde word in Koninkryksale of by byeenkomste omgestuur nie. Geen versoeke om fondse word aan mense gestuur nie. Geen fondsinsamelaars word gehuur nie. Die Wagtoring het gewoonlik net een artikel per jaar wat verduidelik hoe dié wat wil, kan bydra tot die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ter ondersteuning van die wêreldwye werk. Die Genootskap maak glad nie op ’n gereelde basis melding van geldsake in die Ontwaak! nie. Maar hoe is die ontsaglike wêreldwye verkondiging van die goeie nuus uitgevoer, noodsaaklike Koninkryksale gebou, daar vir diegene in spesiale voltydse diens gesorg en hulp verleen aan Christene in nood? Jehovah het sy volk op ’n wonderlike manier met ’n gees van vrygewigheid geseën (2 Kor. 8:2). Ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat ’n aandeel daaraan gehad het om ‘Jehovah met hulle waardevolle dinge te eer’. Hulle kan daarvan verseker wees dat “die getroue bestuurder” sal aanhou om na die Heer se besittings om te sien. En ons bid dat Jehovah sal voortgaan om al die reëlings te seën wat vir die uitbreiding van die wêreldwye werk getref word.

[Voetnoot]

a In sewe van hierdie lande is die drukwerk deur kommersiële firmas gedoen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel