Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 7/1 bl. 26-30
  • Bybellektuur word gedruk tydens ’n verbod op ons werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybellektuur word gedruk tydens ’n verbod op ons werk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My vroeë agtergrond
  • Dramatiese veranderinge in ons lewe
  • Ons kry ons druktoerusting terug
  • Hoe ons onverwagse besoeke hanteer het
  • Voorsiening in ons papierbehoeftes
  • Die belangrike rol van vroue
  • Verdere toewysings en seëninge
  • Die vervaardiging van Bybellektuur vir gebruik in die bediening
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Hoe daar na die Heer se besittings omgesien word
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • ’n Bewys van liefde, geloof en gehoorsaamheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ’n Besoek aan ’n merkwaardige drukkery
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 7/1 bl. 26-30

Bybellektuur word gedruk tydens ’n verbod op ons werk

SOOS VERTEL DEUR MALCOLM G. VALE

“Druk die Kinders-boek.” Ek het hierdie verbasende opdrag gedurende die Tweede Wêreldoorlog van die takopsiener van Jehovah se Getuies in Australië ontvang, kort nadat die boek op 10 Augustus 1941 by die streekbyeenkoms in St. Louis, Missouri, VSA, vrygestel is. Waarom was die opdrag verbasend?

WEL, ons predikingswerk is in Januarie 1941 onwettig verklaar, en selfs om in ’n beperkte mate voort te gaan om lektuur te druk, sou ’n moeilike taak wees. Daarbenewens het die Kinders-boek 384 bladsye en volkleurprente gehad. Ons druktoerusting moes verbeter word, papier was skaars en die personeel was nie opgelei om hardebandboeke te druk nie.

Voordat ek verduidelik hoe ons dit reggekry het om Bybellektuur te druk terwyl ons werk verbied was, laat ek julle vertel hoe dit gekom het dat ek by die Australiese takkantoor as opsiener van die drukkery gedien het.

My vroeë agtergrond

My vader het ’n drukkery in die welvarende stad Ballarat, Victoria, besit waar ek in 1914 gebore is. Ek het dus die drukkersbedryf in Pa se drukkery leer ken. Ek was ook by die bedrywighede van die Kerk van Engeland betrokke—ek het in die kerkkoor gesing en die kerkklokke gelui. Ek het selfs in aanmerking gekom om Sondagskoolklasse te gee, maar die gedagte hieraan het my ongemaklik laat voel.

Die rede was dat ek ernstige bedenkinge oor sekere kerkleerstellings gehad het. Ek het onder andere aan die Drie-eenheid, die helse vuur en die onsterflikheid van die mensesiel getwyfel, en niemand het vir my bevredigende antwoorde gegee nie. Dit was ook vir my vreemd dat ons leraar hom van tyd tot tyd driftig uitgespreek het teen ’n klein godsdiensgroepie wat hulleself Jehovah se Getuies genoem het. Ek het gewonder waarom so ’n onbeduidende groepie ’n stad met 40 000 mense so ontstel.

Een Sondag ná die aanddiens het ek buite die kerk gestaan toe ’n groep meisies van die nabygeleë Metodiste Kerk verbygeloop het. Ek het ’n vriendskap met een van hulle aangeknoop. Haar naam was Lucy, en mettertyd het sy my na haar huis genooi om haar ouers te ontmoet. Stel jou voor hoe verbaas ek was toe ek hoor dat haar ma, Vera Clogan, een van Jehovah se Getuies is. Ons het talle lewendige Bybelbesprekings gehad en wat sy gesê het, het werklik sin gehad.

Kort daarna het ek en Lucy getrou, en teen 1939 het ons in Melbourne, Victoria se hoofstad, gewoon. Hoewel Lucy een van Jehovah se Getuies geword het, het ek nog steeds nie tot ’n besluit gekom nie. Maar toe die Tweede Wêreldoorlog in September daardie jaar uitbreek, het ek ernstig begin dink aan wat ek uit die Skrif geleer het. Die verbod op Jehovah se Getuies se werk in Januarie 1941 het my werklik gehelp om tot ’n besluit te kom. Ek het my lewe aan Jehovah God toegewy en my kort daarna laat doop.

Dramatiese veranderinge in ons lewe

Op daardie stadium het ons ’n gerieflike woonstel in Melbourne gehuur. Maar nie lank daarna nie, is ons genooi om saam met ’n paar ander Getuies in ’n huis in te trek. Ons het al ons meubels behalwe die slaapkamerstel verkoop en ingetrek in wat ons ’n pionierhuis genoem het. Ek het voortgegaan om as ’n drukker te werk en kon dus tot die huishoudelike uitgawes bydra. Die ander mans het dieselfde gedoen. Ons vrouens kon gevolglik voltyds aan die predikingswerk deelneem en ons het in die aand en oor naweke saam met hulle die evangelisasiewerk gedoen en die Christelike vergaderinge bygewoon.

Kort daarna het ek en my vrou ’n brief van die Wagtoringgenootskap se takkantoor ontvang waarin ons genooi is om na Sydney toe te kom. Ons het ons slaapkamerstel verkoop en die bietjie skuld wat ons gehad het, betaal, maar om geld vir ons treinkaartjie Sydney toe te kry, moes ons Lucy se verloofring verkoop!

Weens oorlogsbeperkinge en die verbod wat kort tevore uitgevaardig is, kon geen Bybels of Bybellektuur van oorsee af ingevoer word nie. Om hierdie rede het die Australiese takkantoor besluit om ’n ondergrondse drukkery tot stand te bring sodat die vloei van geestelike voedsel nie sou ophou nie, en ek is gevra om toesig te hou oor die werk. Ek het die voorreg gehad om saam met ’n Skot, George Gibb, te werk, wat ongeveer 60 jaar lank by die Australiese takkantoor se drukkery gedien het.a Dit was toe dat ek die opdrag ontvang het: “Druk die Kinders-boek.”

Ons kry ons druktoerusting terug

Ons het gedurende daardie gebeurtenisvolle jare talle opwindende, soms skrikwekkende, ondervindinge gehad. Om byvoorbeeld met ons drukwerk te kon begin, het ons toerusting nodig gehad. Dit wat ons in die vooroorlogse jare gebruik het vir die beperkte drukwerk wat ons gedoen het, is deur regeringsowerhede gekonfiskeer, en nou was die klein drukkery van die Genootskap toegesluit en onder bewaking. Hoe kon ons die toerusting na plekke verskuif wat vir ondergrondse drukwerk geskik was?

Gewapende wagte, wat in skofte gewerk het, het die Genootskap se eiendom 24 uur per dag bewaak. Maar een van die agterste mure het aan ’n syspoor gegrens wat selde gebruik is. ’n Paar ondernemende Bethelwerkers het dus in die nag, deur van metodes gebruik te maak wat ’n mens aan dié in Esegiël 12:5-7 herinner, deur die muur geklim deur van die stene te verwyder. Toe hulle binne was, het hulle die los stene teruggesit om te verhoed dat hulle betrap word. In hierdie nagtelike strooptogte het hulle ’n klein drukpers, ’n Linotype, en ’n paar ander masjiene versigtig uitmekaar gehaal. Toe het hulle die dele stilletjies na buite aangegee, reg onder die neus van die wagte op diens!

Mettertyd het ons bykomende toerusting uit ander bronne bekom en ondergrondse drukwerk was gou op verskeie plekke in Sydney in volle gang. Ons kon dus nie net die Kinders-boek druk en bind nie, maar ook boeke van gewone formaat soos The New World, “Die waarheid sal julle vrymaak” en The Kingdom Is At Hand asook die Yearbook of Jehovah’s Witnesses vir 1942, 1943, 1944 en 1945. Daarbenewens het Jehovah se Getuies regdeur Australië, gedurende die verbod van daardie oorlogsjare, nooit een nommer van Die Wagtoring nie gekry nie. Dit het ons op ’n baie persoonlike manier verseker dat Jehovah se hand nooit te kort is nie.—Jesaja 59:1.

Hoe ons onverwagse besoeke hanteer het

Gedurende die streng sensorskap van die oorlogsjare is kommersiële drukkerye dikwels onverwags deur regeringsamptenare besoek om dít wat gedruk word te inspekteer. Daarom was een van ons ondergrondse drukkerye toegerus met ’n waarskuwingstoestel, ’n skakelaar op die vloer wat binne maklike bereik van die ontvangsdame was. Wanneer enigiemand wat sy nie herken het nie of wat vermoedelik ’n inspekteur was by die trap opgekom het, het sy die skakelaar gedruk.

Wanneer die skakelaar gedruk is, was dit nogal ’n gesig om mense in alle rigtings deur die vensters te sien klouter! Die werkers wat as werknemers geregistreer was, het agtergebly om enige velle papier toe te maak waarop Die Wagtoring of ander Bybellektuur gedruk was. Om dit te kon doen, het hulle gedrukte velle papier gebruik wat net so groot soos ander publikasies was wat vir kommersiële klante gedruk is.

Gedurende een so ’n besoek het twee inspekteurs op strokiesverhale gesit wat nog op groot velle papier was, maar onder dit was velle waarop Die Wagtoring die vorige nag gedruk is. By ’n drukkery in ’n ander deel van die stad het ons bedags kommersiële drukwerk gedoen en snags en oor naweke Wagtoring-publikasies gedruk.

Voorsiening in ons papierbehoeftes

Om papier vir ons drukwerk te bekom, was ’n baie groot probleem. Maar party groot drukkerye wat as gevolg van ’n afname in werk gedurende die oorlog nie hulle volle papierkwota nodig gehad het nie, was bereid om hulle surplus te verkoop—altyd teen ’n verhoogde prys, natuurlik. Op ’n keer het ons egter papier uit ’n ander bron gekry.

’n Vragskip op pad na Australië het ’n groot vrag bruinpapier aan boord gehad, maar die skip is op see beskadig en baie van die papier het nat geword. Die hele besending is opgeveil, en tot ons verbasing was ons die enigste bieërs. Dit was dus vir ons moontlik om dit spotgoedkoop te bekom. Ons het die papier in die son gedroog en dus die meeste daarvan herwin, en toe het ons dit in velle gesny wat groot genoeg vir ons drukpers was.

Hoe sou ons die bruinpapier gebruik? Ons het gereken, en tereg ook, dat strokiesverhaallesers nie sou omgee om hulle strokiesverhale op gekleurde papier te lees nie. Ons het dus die wit papier wat vir strokiesverhaalboeke aan ons toegestaan was, gebruik om Die Wagtoring en van die Genootskap se ander materiaal te druk.

Die belangrike rol van vroue

Gedurende die oorlogsjare het baie Christenvroue in Australië geleer hoe om boeke te bind. Een snikhete somersmiddag het van hulle alleen in ’n klein motorhuisie gewerk wat ons in ’n agterstraatjie van een van Sydney se voorstede gehuur het. Om veiligheidsredes het hulle die deur en al die vensters toe gehou. Die gom het sterk dampe afgegee wat sleg geruik het, en die hitte was amper onuithoudbaar. Daarom het hulle alles behalwe hulle onderklere uitgetrek.

Skielik was daar ’n klop aan die deur. Die Christensusters wou weet wie dit is en ’n arbeidsbeampte van die regering het geantwoord. Hy was van ’n departement wat in oorlogstyd die mag gehad het om persone na enige gebied te stuur waar arbeiders nodig was. Die susters het hard geantwoord dat hulle hom nie dadelik kan laat inkom nie, omdat hulle weens die hitte in hulle onderklere werk.

Die offisier was ’n oomblik stil; toe het hy uitgeroep dat hy ’n ander afspraak in die gebied het. Hy het gesê dat hy die volgende dag sou terugkom om sy inspeksie te doen. Hierdie Christenvroue het ons onmiddellik gebel, en daardie nag het ons ’n vragmotor gestuur om alles waaraan daar by die bindery gewerk is, op te laai en dit na ’n ander plek te verskuif.

Die meeste van diegene wat by ons ondergrondse drukwerk betrokke was, het geen vorige ondervinding in die drukkersambag gehad nie, daarom het dít wat ons bereik het geen twyfel by my gelaat dat Jehovah se gees die nodige hulp en leiding voorsien het nie. Dit was vir my en my vrou, Lucy, wat in die bindery gewerk het, ’n baie groot voorreg om ’n deel te kon hê aan al hierdie dinge.

Hoe is ons werk in daardie moeilike tye geadministreer? Die waarnemende takopsiener van Jehovah se Getuies het ’n inperkingsbevel van die regering ontvang wat vereis het dat hy in ’n dorp ongeveer 100 kilometer buite Sydney moes woon. Die bevel het hom verbied om buite ’n radius van agt kilometer vanaf die middel van die dorp te gaan. Brandstof was gerantsoeneer tot vier liter per motor per maand. Maar die broers het ’n vindingryke toestel ontwerp wat bekend gestaan het as ’n gasontwikkelaar—’n silindervormige metaalplaathouer van ongeveer ’n half ton wat agter aan die motor vasgemaak is. Houtskool is hierin gebrand wat koolstofmonoksied as brandstof vrygestel het. Ek en ander verantwoordelike broers het ’n paar nagte elke week op hierdie manier gery om die opsiener te ontmoet in ’n droë loop naby die dorp waarheen hy verban is. Ons kon dus baie sake bespreek voordat ons die gasontwikkelaar weer gestook en in die vroeë oggendure na Sydney toe teruggery het.

Uiteindelik het die saak oor die verbod op Jehovah se Getuies in Australië se Hooggeregshof voorgekom. Die regter het verklaar dat die verbod “arbitrêr, impulsief en onderdrukkend” is, en hy het Jehovah se Getuies geheel en al van enige opruiende bedrywighede vrygespreek. Die hele Hooggeregshof het hierdie besluit ondersteun, sodat ons openlik met ons wettige Koninkryksbedrywighede kon voortgaan.

Verdere toewysings en seëninge

Ná die oorlog het baie wat in ons ondergrondse drukkerye gewerk het die pionierbediening betree. Van hulle het later na die Wagtoring-Bybelskool Gilead in New York gegaan. Dit was ook my en Lucy se doelwit, maar toe het ’n babadogtertjie haar opwagting gemaak, en ek het besluit om na die drukkersambag terug te keer. Ons het gebid dat Jehovah ons sou help om Koninkryksbelange altyd eerste te stel, en hy het. Op die volgende manier het ek by ’n ander bedieningstoewysing betrokke geraak.

Ek het ’n telefoonoproep ontvang van Lloyd Barry, wat nou as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te Brooklyn, New York, dien. Op daardie stadium was hy ’n reisende opsiener in Sydney. Hy het gevra of ek weet wat die datum van ons volgende byeenkoms is. Toe ek antwoord dat ek weet, het hy gesê: “Ons wil hê dat jy na die voedselreëlings moet omsien.”

Ek was ’n oomblik uit die veld geslaan en toe het ek ietwat flouerig gesê: “Maar ek het nog nooit so iets in my lewe gedoen nie!”

“Wel, Broer”, het hy effe ondeund geantwoord, “dis hoog tyd dat jy leer!” Ek hét geleer, en ek geniet al meer as 40 jaar die voorreg om selfs by groot streekbyeenkomste oor die voedselverskaffing toesig te hou.

Met die jare het ons kommersiële drukkersfirma uitgebrei, en dit het verskeie oorsese sakereise genoodsaak. Ek het hulle altyd so gereël dat hulle met die internasionale streekbyeenkomste saamgeval het wat in die stad New York en elders in die Verenigde State gehou is. Dit het my die geleentheid gebied om tyd saam met diegene deur te bring wat oor verskeie byeenkomsafdelings, veral die voedselverskaffing, toesig gehou het. Terug in Australië was ek dus beter bekwaam om in die behoeftes by ons streekbyeenkomste te voorsien.

Op ons gevorderde leeftyd het ek en Lucy al dikwels gewonder of ons meer sou bereik het as ons ’n bietjie later gebore was. Aan die ander kant, omdat ons onderskeidelik in 1916 en 1914 gebore is, beskou ons dit as ’n wonderlike voorreg om te kon sien hoe Bybelprofesieë voor ons oë in vervulling gegaan het. En ons dank Jehovah vir die seëning wat ons gehad het om Bybelstudies met talle mense te kon hou en hulle te help om die waarheid te leer en te sien hoe hulle hom nou as gedoopte bedienaars dien. Ons bede is dat ons kan voortgaan om hom tot in ewigheid te dien en hom as die groot Soewereine Heerser van die heelal te erken.

[Voetnoot]

a Sien The Watchtower, 15 September 1978, bladsye 24-7.

[Prente op bladsy 29]

Die drukkery by die Strathfield-Bethel, 1929-73

George Gibb langs een van die drukperse wat uit die drukkery deur die agterste muur verwyder is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel