Maak goed gebruik van ouer boeke
1 Die mensdom het in elke uithoek van die aarde miljoene ou boeke in biblioteke weggebêre. Maar van watter ewige nut is hulle vir die mensdom? (Pred. 12:12). Van veel groter waarde is publikasies wat die aandag vestig op God se Koninkryk en op wat dit vir die mensdom gaan doen. Die meeste gemeentes het ’n verskeidenheid van hierdie boeke wat voor 1986 vrygestel is in voorraad. Aangesien dit die laaste maand van die ontoegekendegebied-kampanje is, moet ons ons daarop toespits om hierdie ouer boeke vir die publiek aan te bied.
2 Hulle het groot waarde: Hoewel van ons dalk meen dat hierdie boeke verouderd is in vergelyking met ons nuwer publikasies, moet ons onthou dat hulle skriftuurlike waarheid bevat. Daarom moet ons ’n ekstra poging aanwend om goed gebruik te maak van hierdie ouer boeke in die plaaslike en ontoegekende gebied.
3 Hulle waarde word toegelig deur die ondervinding van ’n vrou wat ’n aantal ouer Wagtoring-publikasies van haar ouma geërf het. ’n Getuie het die vrou gevra of sy geweet het wat die publikasies se werklike waarde is. Die vrou het geantwoord: “Ek weet nie wat dit werd is nie, maar hoe kan ek uitvind?” Die vrou het tot ’n Bybelstudie ingestem, in die waarheid gekom en daarna baie groot waarde aan haar ouma se biblioteek geheg. Wat ’n waardevolle erfstuk was daardie versameling ouer boeke tog!
4 Versprei hulle: Julle hoef nie die ouer boeke net van huis tot huis en in die ontoegekende gebied aan te bied nie—hulle kan ook aangebied word wanneer julle herbesoeke doen by mense wat dit geniet om ons publikasies te lees, waaronder diegene wat op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken het en op julle tydskrifroete is. Julle Bybelstudies sal baat vind by gekose ouer boeke wat ’n agtergrondkennis bied en hulle begrip van die waarheid sal vergroot. Moenie vergeet om enige van die ouer boeke te kry wat julle nie in julle persoonlike biblioteek het nie.
5 Ons ouer boeke moenie net op ons rakke staan nie, maar eerder goed gebruik word om mense wat ons ontmoet aan te spoor om ‘God te vrees en sy gebooie te hou’.—Pred. 12:13.