Is jy ’n skaam persoon?
1 Ons is nie verbaas wanneer ons ’n jong kind van agter sy ma of pa na ons sien loer nie. Skaamheid is natuurlik wanneer kinders nog klein is. Selfs as volwassenes is baie mense ietwat skaam van geaardheid. Wat kan jy doen as skaamheid jou deelname aan die bediening beïnvloed?
2 Bied skaamheid die hoof: Dit is belangrik om aandag te skenk aan “die geheime persoon van die hart” (1 Pet. 3:4). Verinnig jou liefde vir Jehovah en vir jou naaste. Wees heeltemal daarvan oortuig dat die vervulling van die predikingsopdrag een van die beste maniere is om selfopofferende liefde te toon. Volg ’n goeie roetine van persoonlike studie en vergaderingbywoning. Bid gereeld en spesifiek vir Jehovah se hulp. Sterk geloof in en vertroue op hom sal jou selfvertroue opbou en jou “des te meer moed [gee] om die woord van God onbevrees te spreek”.—Fil. 1:14.
3 Stry teen gevoelens van onbekwaamheid. Timoteus moes dit blykbaar doen. Paulus het Timoteus aangemoedig om ‘geen mens ooit op sy jeug te laat neersien nie’ en hom herinner dat “God . . . ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee [het] nie, maar van krag” (1 Tim. 4:12; 2 Tim. 1:7). Jehovah het Timoteus ten volle gebruik, en hy sal jou ook gebruik as jy met volkome vertroue op Hom vooruitgang probeer maak.—Ps. 56:12.
4 ’n Suster wat weens haar skugterheid bang was vir haar man wat haar teëgestaan het, het dit nuttig gevind om oor ’n Bybelteks, soos Matteus 10:37, na te dink. Namate sy volhard het, het die bediening vir haar makliker geword, en uiteindelik het haar man, ma en broers almal die waarheid aangeneem!
5 Voorbereiding is noodsaaklik: Jou selfvertroue sal verder toeneem wanneer jy deeglik vir die bediening voorberei. Kies ’n eenvoudige aanbieding uit die Redenering-boek of vorige nommers van Ons Koninkryksbediening, raak goed vertroud daarmee en oefen dit. Moenie onnodig gespanne raak nie, dink eerder positief. Put krag daaruit om ten nouste met ander saam te werk. Hou in gedagte dat baie van die mense wat jy by die deure sal ontmoet skugter is, nes jy. Almal het die Koninkryksboodskap nodig.
6 As jy skaam is, moenie moedeloos raak nie. Namate jy jouself toelê, sal Jehovah jou help om ’n bekwame prediker van die goeie nuus te wees. Dan sal jy vreugde uit jou bediening put.—Spr. 10:22.