Koninkryksaal-bouprogram vorder goed
1 In 1983 is daar by die “Koninkrykseenheid”-streekbyeenkomste in die Verenigde State aangekondig dat ’n spesiale fonds gestig sou word vir die bou en opknapping van Koninkryksale regdeur die Verenigde State en Kanada. Min het ons geweet watter seëninge uit daardie klein begin sou voortspruit. Ons het in groter mate begin ondervind hoe waar die woorde van Psalm 92:4 is: “Want u het my vreugde gegee, o Jehovah, weens u dade; weens die werke van u hande roep ek met vreugde uit.”
2 Ons is nou baie verheug oor wat uitgerig word. Daar is vandag ’n versnelde Koninkryksaalbouprogram wêreldwyd aan die gang. Almal van ons geniet die voorreg om op die een of ander manier met hierdie bedrywighede te help. Ons doen dit deur die groot of klein bydraes wat ons gee om die bou van nog plekke van aanbidding regoor die wêreld te help finansier. Baie broers stel ook hulle toerusting beskikbaar en bied hulle tyd, vermoëns en vaardighede vrywillig by sulke projekte aan. Die sukses van die hele reëling is te danke aan Jehovah se leiding, ondersteuning en ryk seën op ons verenigde pogings.—Ps. 127:1.
3 Baie takkantore volg die reëling wat oorspronklik vir gemeentes in die Verenigde State in werking gestel is. In Koninkryksale in baie lande is daar ’n bussie waarin verkondigers hulle bydraes tot die Koninkryksaalfonds kan gooi. In die Verenigde State het Ons Koninkryksbediening vir Maart 1997 aangekondig dat hierdie program aangepas gaan word. Dit het gesê: “Vandat die Genootskap-Koninkryksaalfonds in 1983 gestig is, het die broers mildelik bygedra, en dit het lenings vir Koninkryksaalbouwerk moontlik gemaak. Sowat 2 700 gemeentes in hierdie land het reeds by hierdie reëling baat gevind. Baie gemeentes sou andersins nie ’n Koninkryksaal kon bou of die nodige opknapwerk kon doen nie. Daar is nou ’n dringende behoefte om van hierdie fondse te gebruik om lenings te gee aan gemeentes in arm lande. Julle volgehoue ondersteuning van hierdie reëling word grootliks waardeer deur die Genootskap en daardie gemeentes wat deur julle bydraes gehelp word.”
4 Daardie aankondiging was ’n uitnodiging om deel te neem aan ’n versnelde Koninkryksaalbouprogram. Die Koninkryksaalfonds sou uitgebrei word om in die behoeftes van ons broers in ander lande te voorsien, terwyl lenings nog steeds beskikbaar sou wees vir Koninkryksaalbouwerk in die Verenigde State. ’n Opvolgartikel in Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1997 vir die Verenigde State het gesê: “Daar is regoor die wêreld ’n voortdurende behoefte aan nuwe Koninkryksale. In die afgelope diensjaar alleen is 3 288 nuwe gemeentes gestig. Baie van hierdie gemeentes is in Afrika, Asië, Sentraal- en Suid-Amerika en Oos-Europa.”
5 Wat is sedertdien bereik? Die 2001 Yearbook het berig: “Met hierdie reëling is daar tot dusver 453 Koninkryksale in 30 lande voltooi, en nog 727 sale is in aanbou. Spesiale pogings is aangewend om vir elke land standaardplanne vir Koninkryksale te teken sodat plaaslike boumateriaal en -metodes gebruik kan word. In Kenia word klip gebruik; in Togo gebruik hulle gewoonlik bakstene; in Kameroen is betonblokke wat later gepleister word, gewild as boumateriaal. So kan plaaslike broers gou die vaardighede aanleer wat nodig is om ’n sleutelrol in ’n landwye program te speel.”
6 Bewyse dat Jehovah hierdie program seën, kan op die groot vasteland van Afrika gesien word. Terwyl jy na die foto’s kyk van party van die Koninkryksale wat gebou is, kan jy jou net voorstel watter uitwerking hierdie bouprojekte op die werk van Jehovah se Getuies gehad het! Dit kan veral op drie gebiede gesien word—die eenheid van ons wêreldwye broederskap, die uitwerking op die plaaslike gemeenskap en die toename in die bywoning van gemeentelike vergaderinge. Hoewel hierdie byvoegsel die aandag vestig op Koninkryksale wat in Afrika gebou is, sal toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening die vordering van die Koninkryksaalbouprogram in ander wêrelddele bespreek.
[Prente op bladsy 3]
SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK
Bimbo, Bangui
Begoua, Bangui
[Prente op bladsy 4]
Ukonga, Tanzanië
[Prent op bladsy 4]
Accra, Ghana
[Prent op bladsy 4]
Salala, Liberië
[Prent op bladsy 4]
Karoi, Zimbabwe
[Prente op bladsy 4, 5]
Allada, Benin—vorige Koninkryksaal
Allada, Benin—nuwe Koninkryksaal
[Prent op bladsy 5]
Kpeme, Togo
[Prent op bladsy 5]
Sokodé, Togo
[Prente op bladsy 4, 5]
Fidjrosse, Benin
[Prent op bladsy 6]
Lyenga, Zambië—vorige Koninkryksaal
[Prent op bladsy 6]
Lyenga, Zambië—nuwe Koninkryksaal
[Prent op bladsy 6]
Kinshasa, Kongo
[Prent op bladsy 6]
Musambira, Rwanda