Wees deeglik voorbereid vir die Gedenkmaal
Wat ’n vreugde en voorreg is dit tog vir volgelinge van die Christus om deeglik voor te berei vir die aand wanneer ons die dood van Jesus Christus herdenk! (Luk. 22:19). Watter praktiese reëlings moet getref word om vir die Gedenkmaal voor te berei?
◼ Tyd en plek: Almal moet weet presies hoe laat en waar die Gedenkmaal gehou sal word. As meer as een gemeente by die Koninkryksaal gaan vergader, is dit belangrik om betyds op te daag en ordelik te vertrek, aangesien daar min tyd tussen die vergaderinge is. Probeer om ’n onnodige samedromming in die ingang of voorportaal, op die sypaadjies en in die parkeerterrein te vermy.
◼ Uitnodigings: Het al die verkondigers hulle voorraad uitnodigings ontvang, en is hulle vertroud met die inhoud daarvan? Het jy geoefen hoe jy hierdie uitnodiging gaan aanbied? Vir wie gaan jy ’n uitnodiging gee? Probeer al die uitnodigings versprei.
◼ Vervoer: Party belangstellendes sowel as ’n aantal broers en susters het dalk vervoer of ander persoonlike hulp nodig. Watter reëlings is getref om in hulle behoeftes te voorsien?
◼ Embleme: Maak seker dat die embleme eers ná sononder omgestuur word. Reëlings moet getref word om die embleme te bedien aan enige van die gesalfdes wat siek is en nie teenwoordig kan wees nie. Die gepaste soort brood en wyn moet verkry en op die tafel gesit word.—Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 2003, bladsye 14-15, paragrawe 14, 17.
◼ Koninkryksaal: Die saal moet voor die tyd deeglik skoongemaak word. Borde, wynglase en ’n geskikte tafel en tafeldoek moet vooraf na die saal gebring en reggesit word. As ’n ander vergaderplek gebruik word, sorg dat daar ’n behoorlike klankstelsel sal wees sodat almal teenwoordig die spreker sal kan hoor. Saalwagters en bedieners moet vooraf gekies en ingelig word oor hulle pligte, die regte prosedure en die belangrikheid van waardige kleredrag en persoonsversorging.
By hierdie uiters belangrike geleentheid, die Herdenking van Jesus Christus se dood, wil ons deeglik voorbereid wees as individue en as ’n gemeente. Jehovah sal almal wat hartgrondige waardering toon vir alles wat hy deur die offerande van sy geliefde Seun, Jesus Christus, aan die mensdom voorsien het, ongetwyfeld ryklik seën.