Ons is altyd aan diens
1. Hoe weet ons dat eerste-eeuse evangeliedienaars besef het dat hulle altyd aan diens is?
1 Ywerige eerste-eeuse evangeliedienaars het die goeie nuus “sonder ophou” bekend gemaak oral waar mense gevind kon word (Hand. 5:42). Ons kan ons dus nie voorstel dat hulle, terwyl hulle van huis tot huis gegaan het, verby mense op die pad sou stap sonder om ook vir hulle te preek nie. Hulle sou ook nie ná hulle tyd in die bediening ’n geleentheid laat verbygaan het om informeel te getuig terwyl hulle in die markplein inkopies doen nie. Soos Jesus, het hulle besef dat hulle altyd aan diens is.—Mark. 6:31-34.
2. Wat behels dit om ons naam gestand te doen?
2 Altyd gereed: Ons naam, Jehovah se Getuies, beskryf nie net wat ons doen nie; dit beskryf wie ons is (Jes. 43:10-12). Ons is dus altyd gereed om ons hoop te verdedig, selfs wanneer ons nie van huis tot huis gaan nie (1 Pet. 3:15). Is jy op die uitkyk na situasies wat jou dalk sal toelaat om informeel te getuig, en dink jy oor wat jy kan sê? Hou jy lektuur byderhand om by mense te laat wat belangstelling toon? (Spr. 21:5). Preek jy slegs van huis tot huis, of vertel jy ook mense op ander plekke van die goeie nuus as omstandighede dit toelaat?
3. Waarom is “alternatiewe” nie die beste woord om die predikingswerk op straat en in parkeerterreine, parke, sakegebied, en so meer te beskryf nie?
3 Nie “alternatiewe” vorme van getuieniswerk nie: In die verlede het ons soms die woord “alternatiewe” gebruik om te verwys na getuieniswerk op straat en in parkeerterreine, parke, sakegebied en so meer. Maar “alternatiewe” kan impliseer dat sulke pogings buitengewoon, onkonvensioneel of opsioneel is. Die apostel Paulus het gesê dat hy “in die openbaar” en van huis tot huis gepreek het (Hand. 20:20). Daarom is “openbare” getuieniswerk ’n gepaster term as “alternatiewe” getuieniswerk. Dit is waar dat die huis-tot-huis-bediening nog steeds die vernaamste en doeltreffendste manier is waarop ons mense met die Koninkryksboodskap bereik. Maar eerste-eeuse evangeliedienaars het op mense gekonsentreer, nie op huise nie. Hulle het van elke geleentheid gebruik gemaak om oor die waarheid te praat—in die openbaar, in informele situasies en van huis tot huis. Mag ons dieselfde denkwyse hê sodat ons ons bediening ten volle kan uitvoer.—2 Tim. 4:5.